’n Nuwe droom vir onderwys

(Argieffoto: Maroela Media)

Vir dekades en selfs eeue het onderwyskenners hul drome en voorspellings vir die toekoms van onderwys in tydskrifte en boeke vasgevang. In hierdie reeks rubrieke gaan navorsers van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) met kenners van ouds “praat” en hulle boodskap oor vernuwing in die onderwys, wat vir dekades in ʼn spreekwoordelike bottel verseël en dikwels verlore geraak het, weer aan lesers bekendstel.

Deur Johan Koekemoer

Langs een van my gunsteling- fietsryroetes in Centurion lê die Hennopsrivier – Gauteng se vuilste rivier. Terwyl ek die bulte aandurf, worstel ek nie net met gravitasie nie, maar ook met die vraag wat talle mense in die area al gevra het: “Hoe op dees aarde het die Hennopsrivier so vinnig voor ons oë verval?”

Met elke trap word die vraagstuk net dieper. Ek wonder later of die opvoeding (of die tekort daaraan) van ouers, kerke en skole in ons gemeenskappe dalk besig is om ons mense in die steek te laat, want dit wat ons aan die omgewing doen, doen ons mos ook aan onsself?

Halfpad teen die bult op rol daar ʼn glasbottel voor my wiel in. Eerder as om uit te swaai en weg te ry, besluit ek om te stop, die bottel op te tel en later weg te gooi. ʼn Paar kilometer verder stop ek by ʼn herwinningsprojek wat deur die gemeenskap opgerig is, en net voordat ek die glasbottel in die blou drom gooi, merk ek die opgerolde stuk papier daarin. Ek is dadelik nuuskierig en trek die kurk haastig uit, rol die briefie oop en lees die opskrif van ʼn stokou briefie: “ʼn Nuwe droom vir onderwys, deur Roy A. Edelfelt.”

Die inhoud van die brief, gedateer 1968, is in hogere Engels geskryf en kom oor die waters vanuit VSA, die land met die liggies. Edelfelt argumenteer in sy brief dat die tyd ryp is om onderwys as ʼn professie te herbedink. Die rede wat hy aanvoer, is eenvoudig: Onderwys is met verouderde aannames besoedel wat sonder sinvolle kritiek die gedagtes van die hoofstroomdenke in die samelewing vorm.

Ek lees gretig verder aan die aannames wat Edelfelt as verouderd beskou:

  1. “Die doel van onderwys is om kennis van een generasie na die volgende oor te dra.”

Hierdie aanname is volgens Edelfelt nie meer van toepassing nie, want kennis kan nou (1968) op beter, vinniger en goedkoper maniere gestoor en oorgedra word.

  1. “Loopbaanbeplanning kan op reglynige en voorspelbare roetes geskied.”

Daar word daagliks nuwe loopbane ontwikkel wat vaardighede verlang wat die huidige skolestelsel nie (reeds in 1968) ontwikkel nie.

  1. “Onderrig is geografies en tydgebonde en vind in die teenwoordigheid van ʼn onderwyser tussen vier mure plaas.”

Leer kan deur middel van tegnologie asinkronies (ongelyktydig) en onafhanklik van geografiese ligging geskied.

Edelfelt stel ʼn nuwe roete vir onderwys voor. Hy voorsien dat die skole van die toekoms gemeenskapskole moet wees wat professionele kapitaal van ouers en gemeenskapslede ontgin.

Onderrig en leer sal met die werklikhede trou waaraan leerders daagliks blootgestel word en leerders sal eie leerroetes kan bepaal soos wat hul meer selfgerig leer. Opvoeders sal, met die nuwe manier van onderwys, deurlopend hul eie praktyke evalueer en diagnoses maak oor wat leerders leer, wat hulle dink hulle leer en hoe leerders werklik wil leer. In die toekoms van onderwys sal leerders deeglik bewus wees van wat leer is en hoe dit plaasvind, en leerders sal gemeet word op grond van wat hulle kan doen en nie soseer op wat hulle kan onthou nie.

Soos wat ek lees, borrel daar hoop in my binneste op en my fiets bly vergete op die grond by die herwinningsterrein. Baie van die voorstelle en voorspellings wat Edelfelt maak, gee woorde aan die leemtes wat ek self in my skoolloopbaan ervaar het. Ek het ʼn gedagtevennoot in Edelfelt gevind; iemand wat my inspireer om stroomop te beweeg en van die besoedeling in die waters van onderwys ontslae raak.

Johan Koekemoer van die SOS. (Foto: Verskaf)

Ek lees toe verder.

“Die nuwe roete vir onderwys sal dinamies en modulêr wees, van die geboue tot by die rooster. Leerders gaan beide aanlyn en aflyn opsies geniet en skakeling met leerders in ander lande sal moontlik wees; inligting sal tot almal se beskikking wees. Onderwysers sal saam gegroepeer word om saam voor te berei, aan te bied en te reflekteer. Elke opvoeder sal optimaal volgens hul talente aangewend word.”

Die huidige skolestelsel is nes die Hennopsrivier ʼn bron van lewe wat ons as verantwoordelike gemeenskapsburgers moet bewaar. Ons kan ons nie langer blind hou wanneer ons sien hoe ons skolestelsel besoedel word deur diegene wat opvoeding geheel en al met vakinhoud wil vervang nie.

Edelfelt, dankie dat jy my die moed gegee het om die laaste deel van die bult, trap vir trap met ywer uit te ry.

Bron: Staffing for the Changing Pattern of Organizations for Instruction and Learning, Virginia Journal of Education, Vol. 62, September 1968

  • Johan Koekemoer is die hoof van onderrig en leer by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.