ʼn Regsfonds vir tuis- en gemeenskapsonderwys

Argieffoto (Foto: White77/Pixabay)

Die Pestalozzi Trust is ʼn ou bekende op die tuisskoolfront in Suid-Afrika. Sedert 1998, toe die Trust ontstaan het, verskaf dit steeds gemoedsrus aan tuisskoolouers en die laaste dekade ook ondersteuning aan kleinskooltjies.

Maar hoe en hoekom het die Trust ontstaan?

Die Trust het uit die Vereniging vir Tuisonderwys ontstaan, wat in 1992 deur ʼn klein groepie tuisskoolouers gestig is. Nadat daar vir tuisonderwys voorsiening gemaak is in die SA Skolewet (84 van 1996), het dit duidelik geword dat tuisskolers in Suid-Afrika wel ʼn regsfonds nodig gaan hê, omdat die wet en beleid baie gebreke het.

Die Vereniging vir Tuisonderwys het toe opdrag gegee dat daar ʼn regsfonds vir Suid-Afrika gestig word. Die doel van die fonds sou wees om die regte en vryhede van alle gesinne te beskerm om hul kinders tuis volgens hul eie godsdienstige en/of filosofiese oortuigings, opvoedkundige oortuigings en kulturele tradisies op te voed. Die fonds is in 1998 deur ʼn groep Christene gestig.

Wyle dr Chris Klicka, destyds een van die senior advokate van die Home School Legal Defence Association van die VSA, en self ʼn tuisskoolpa van sewe, het ʼn groot ondersteunende rol gespeel. Wyle Leendert van Oostrum was die eerste voorsitter en bestuurder van die Trust, van 1998 tot en met sy dood in 2016.

Reeds sedert die stigting van die Trust skakel die trustees internasionaal met tuisskoolleiers en -organisasies, en sodoende kon die Trust ʼn goeie internasionale ondersteuningsbasis opbou.

Die Trust is ook betrokke by die Global Home Education Exchange, ʼn skakelorganisasie wat elke paar jaar ʼn Global Home Education Conference reël. As ʼn uitvloeisel van die Global Home Education Conference 2018, waar die Trust ook verteenwoordig was, word daar vanjaar die eerste African Home Education Indaba van 17 – 18 Oktober in Pretoria aangebied. Dit word gereël deur EACH, die East Africa Community of Christian Home Educators, die Pestalozzi Trust en Kragdag, en beloof om ʼn uitstekende geleentheid vir netwerk en opleiding vir tuisskolers te wees. Die twee dae word gevolg deur die Gauteng-ekspo op 19 Oktober. Tegelykertyd word ook die mondigwording van die Trust gevier, en die “Pretoria Declaration” geteken.

Die Pestalozzi Trust is ʼn openbare-welvaartsorganisasie (“public benefit organisation” of “PBO”), dus ʼn nie-winsgewende Trust, wat bestuur word deur ʼn Raad van Trustees. ʼn Groot getal Suid-Afrikaanse tuisskolers en mikroskole span sodoende saam om mekaar se vryheid te beskerm om tuis- en private onderwys te kan beoefen. Hulle beywer hulle daarvoor om hul kinders in vryheid en sonder onregmatige inmenging te kan opvoed. Terselfdertyd verseker hulle dat hierdie vryheid ook vir hul kleinkinders bewaar sal bly. Onbekend maak onbemind. Daarom versprei die Trust sedert sy ontstaan betroubare inligting oor alle aspekte van tuis- en kleinskoolonderwys.

Die Trust werk op politieke en wetlike terreine, is aktief in die media en bevorder ook navorsing oor tuisonderwys. Omdat die Trust beman word deur tuisskolers met jare se ondervinding in tuisonderwys, kan die personeel van die Trust telefonies, per e-pos of in werkswinkels as sprekers kundige, praktiese advies en inligting verskaf.

Kontakinligting:
Webwerf: www.pestalozzi.org
E-pos: [email protected]
Tel: 012 330 1337, 071 192 6070 of 012 331 1018

Besoek ons by Sakeliga KragDag 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.