Nie almal kan wen nie, maar daarin lê die sukses

Alle ma’s wil hulle kuikens beskerm soos ‘n goeie moederhen, maar ons kuikens moet leer om mislukkings te hanteer. (Foto: AndreasGoellner/Pixabay)

Deur Mariesa Candiotes

Dit is in ons wese ingebou dat enige moederhen nesskop en haar kuikens beskerm. Die feit bly staan, natuurlik wil ons die kuikens beskerm teen seerkry wat deur mense veroorsaak word of teen situasies wat tot mislukking en teleurstelling kan lei, maar op die lange duur baat geen kuiken by hierdie soort hommeltuig-beskerming nie. Ons skrop in die grond rond vir geleenthede wat die kuikens kan aangryp en sukses kan behaal, maar ons kuikens moet leer om mislukkings te kan hanteer en te oorkom. Nie almal gaan ʼn medalje kry nie – dit is die werklikheid.

Hier volg so ʼn paar kuiken-uitdagings:

Dis akademiesetoekenningsaand en die kuikens het hard gewerk deur die jaar, maar verower geen toekennings nie. Moederhen se hart pyn saam, want die lewe is tog so onregverdig. Een van die kuikens word nie na ʼn maatjie se verjaarsdagpartytjie genooi nie en weer krimp jou hart ineen. Die kuikens het hoeveel vraestelle vooraf uitgewerk, maar behaal nie die verwagte A-simbool nie.

Bogenoemde is maar ʼn voorbeeld van teleurstellings en mislukkings wat ons kuikens ervaar. Ek sê weer, dit stuit ons teen die bors om glad nie in te gryp en dit vir hulle makliker te maak nie.

Moederhen, ons kuikens gaan eendag die nes verlaat en dit is belangrik om hulle as gebalanseerde, goed afgeronde, jong volwasse kuikens die wêreld in te stuur. Dus, kuikens wat op hul beurt weer self kan nesskop, self konflik kan hanteer en self “moeilike” situasies kan baasraak en groei in die proses.

Kuikens wat nie leer om mislukkings te hanteer nie, raak angstige volwassenes en kom maklik in die gewoonte dat iemand anders dit vir hulle sal doen.

Mislukkings is daadwerklik deel van die kronkelpad wat tot sukses lei. Om te kan misluk, weer te probeer, weer te misluk en harder te werk, messel die fondament stewig vas vir ʼn kuiken met die nodige vaardighede om selfstandig te kan optree, verantwoordelikheid vir hul gedrag, dade en optrede te neem en meer veerkragtigheid te openbaar.

Hoe kan ons mislukkings in sukses verwerk?

  • Maak seker dat kommunikasie aanhoudend prioriteit geniet. Gesels gereeld met jou kind oor situasies wat angs of teleurstelling tot gevolg het. Moenie raas nie, maar luister om te luister.
  • Hou die onderwyser se spreekwoordelike “kroon” op hul kop. Moet nooit, maar nooit jou kind se onderwyser voor hom of haar slegpraat nie. Nie net verloor jou kind die nodige respek vir die onderwyser nie, maar sal daar ʼn daadwerklike afname in belangstelling in die vakgebied ontstaan. Ons is gewoond daaraan om hoogstens drie, miskien vier kuikens by die huis te behartig, maar plaas jouself in die onderwyser se skoene, waar meer as 30 kuikens se onderrig haar of sy verantwoordelikheid is. Dis nie dieselfde “plaas”-opset nie.
  • Begin by die “probleem” of die oorsaak en werk terug na die oplossing deur leiding aan te bied met vrae. Vra jou kind: Wat dink jy kon jy anders gedoen het? Op watter manier kan jy die situasie verander? Hoekom dink jy is daardie persoon se optrede reg of verkeerd? Wat kan anders in die toekoms gedoen word?
  • Moenie jou kuikens se probleme vir hulle probeer oplos nie en weerhou jou daarvan om vir elke mieliepit-probleem die skool te nader. So sal hulle nooit die nodige sosiale vaardighede bemeester nie.
  • Bou ʼn vennootskapverhouding met jou kuikens se onderwyser.

Die pad na sukses is nie liniêr nie

Sukses word slegs behaal deur innoverend te wees, te misluk, weer te probeer en alternatiewe oplossings te vind. Onthou, enige mislukking lei tot buite-die-boks-denke, innovering en veerkragtigheid. Dit is beter om op ʼn vroeë ouderdom te leer hoe om mislukkings en teleurstellings te oorbrug, wat dan tot sukses lei.

Mislukking en teleurstelling is ʼn kombinasie van gevaar en ʼn geleentheid. ʼn Mislukking of teleurstelling hou gevaar in, maar dit is ook ʼn leergeleentheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.