Nou wanneer kom die baba?

(Foto: Drew Hays/Unsplash.)

Deur Mariska Nanni

’n Vraag wat my op my tande laat kners, is een waarmee talle jong getroudes – soos ek en my man – gereeld gekonfronteer word: “Wanneer kom die baba?”

Daar is natuurlik verskillende variasies soos, “Wanneer is dit nou julle beurt?” en “Kom, kom, dis tyd dat julle plan maak!”

Dis selfs erger as jy al in jou dertigs is, want dan is die tyd op jou biologiese horlosie óók mos besig om voort te tik. My standaardantwoord – en een wat ek opreg bedoel – het geword: “Alles volgens God se tyd.”

Dít bygesê, raak ek steeds in my binneste opstandig as mense die babavraag sommer so lukraak vra – selfs al is die bedoeling daaragter goed en onskuldig. Daar is ’n paar redes daarvoor.

Eerstens weet jy nie of ’n paartjie dalk geweldig sukkel om kinders te hê nie.

Baie van ons vriende het genadiglik vinnig swanger geraak en spog vandag met ’n pragtige kroos. Dis ’n seën en voorreg waaroor ons saam met hulle juig en dankbaar is. Ander is egter nie so gelukkig nie.

’n Vriendin van my het vier miskrame gehad en het uiteindelik, ná byna twee jaar se peperduur behandelings, geboorte aan ’n pragtige, gesonde babatjie geskenk. Sy het my vertel dat elke keer wanneer iemand die babavraag gevra het, dit soos ’n dolk in haar hart gesteek het. Juis omdat hulle só graag ’n babatjie wou hê en teleurstelling ná teleurstelling beleef het. In ons nabye vriendekring was daar al onderskeidelik agt miskrame – waarvan ons weet. Daarmee saam ook baie emosionele sowel as finansiële druk – veral as jy die behandelingsroete stap.

Vir sommige paartjies wat graag wil kinders hê, werk behandeling egter glad nie en moet hulle vrede daarmee maak dat hulle dalk nooit die voorreg van ouerskap sal beleef nie. Dis ’n bitter pil om te sluk en is ’n privaat saak waarmee mense nie sommer te koop loop nie.

Ander het dalk nie verklaarbare mediese redes vir waarom daar nog nie ’n pienkvoet is nie – dit het net nog nie gebeur nie. Jy hoop dalk dat dit binnekort sal gebeur en is dikwels teleurgesteld as daai toetsstokkie vir jou ’n hartseergesiggie uitgooi daar waar jy vol hoop op die badkamermatjie sit. Ander kere is jy oukei daarmee. Ook dít het niks met ander uit te waai nie.

Verder hoef ’n mens nie aan ander se “tydlyne” te voldoen nie. Net omdat ander mense om jou besig is om hul gesinne uit te brei, beteken nie dat jy “agter” is en gedruk moet voel om dieselfde te doen nie. Jy hoef nie saam met die res gereed te staan of weg te spring nie, want niemand se wedloop is dieselfde nie.

Baie paartjies wil ook nie dadelik kinders hê nie. Hulle is gelukkig en tevrede met waar hulle tans in hul lewe en huwelik is. Dit beteken nie dat hulle nooit wil kinders hê nie – dalk net nie binnekort nie. Dit beteken ook nie dat hulle lewe leeg en onvolmaak is nie.

Dieselfde geld vir paartjies wat dalk besluit het dat ouerskap nié vir hulle is nie. Dit is ’n saak tussen huweliksmaats.

Ongeag die situasie kan die babavraag verreikende emosies ontlok. Indien iemand oop is vir so ’n gesprek of as jou verhouding met iemand van só ’n aard is dat julle vryelik daaroor kan praat – doen dit gerus.

Wees egter net bedag dat dit dalk ’n sensitiewe onderwerp kan wees en plaas ’n wag voor jou mond vóór jy dié vragie, wat so lekker van die tong afrol, vra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

saggiespraat ·

Om kinders te he is soos jou hart wat buite jou liggaam rondloop…. Ek sal se kry n troetteldier
spaar die kinder van die lewe wat ons in leef dus baie hartseer….

B-Man ·

Goed gesê.
Ons het self gedink dat dit sommer net gaan gebeur, omdat dit vir ander so maklik is. Het na 3 jaar hulp gesoek en 2 jaar terug met behandeling begin. Ongeveer R240k later het ons ‘n pragtige, gesonde kind. Het onlangs begin met behandeling vir tweede pienkvoet en dis aansienlik duurder.
Dan moet mens met woede en ongeloof oor die radio hoor dat ander ma’s hulle kinders in asblikke of slote los terwyl jy op pad is na fertiliteitsbehandeling!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.