Nuwe rektor neem leisels oor by Aros

Prof. Kobus Mentz is die nuwe rektor van Aros. (Foto: Verskaf)

Die Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) se raad het onlangs aangekondig dat prof. Kobus Mentz op 1 Junie vanjaar die leisels as rektor van dié private hoëronderwysinstellings by prof. Rikus Fick sal oorneem.

Fick, wat die afgelope vier jaar aan die stuur van dié instelling was, tree nou af en het volgens Aros baanbrekerswerk vir die instansie gedoen.

Hulle is egter ook opgewonde oor die nuwe era wat hulle met die aankondiging van hul nuwe leierskap, betree.

Mentz het sy loopbaan begin as Wiskunde-onderwyser, en was sedert 1985 as dosent en navorser verbonde aan die destydse Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en later die Noordwes Universiteit (NWU) .

Hy het ’n meestersgraad in onderwys aan die Universiteit van Johannesburg (toe RAU) behaal, en voltooi later ook sy PhD in vergelykende opvoedkunde en onderwysbestuur aan die PU vir CHO.

Prof. Rikus Fick. (Foto: Verskaf.)

Volgens Aros was Mentz oor baie jare op verskeie maniere betrokke by die bevordering van Christelike onderwys. Hy het ook verskeie termyne as voorsitter van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika se Deputate Christelike Onderwys gedien.

Hy het tydens sy dienstyd aan die PU vir CHO en NWU bande met buitelandse Christelike universiteite en kolleges gesmee, en tientalle meesters- en doktorale studente het onder sy leiding hulle kwalifikasies behaal.

Voorts het hy as erkende navorser op sy vakgebied, nasionaal en internasionaal, referate by konferensies gelewer. Mentz het ook ’n toekenning vir voortreflike onderrig by PU vir CHO ontvang.

As ouer dien hy ook vir 20 jaar as voorsitter van die beheerliggame van drie skole in Potchefstroom, en by twee geleenthede word hy deur die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) versoek om as gasspreker by die jaarlikse hoofde-simposium op te tree.

Mentz en sy vrou, Elsa, is die trotse ouers en grootouers van drie kinders en drie kleinkinders. Elsa werk tans as professor en navorsingsdirekteur in die Fakulteit Opvoedkunde aan die NWU.

Tussendeur sy werk- en familiepligte oefen hy hard om aan sy tiende Two Oceans-ultramarathon deel te neem.

Blink 2023 lê voor

Aros spog met ‘n nuwe kampus in Montanapark in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Benewens hul nuwe rektor spog Aros ook sedert 2022 met ʼn nuwe kampus in Montanapark in Pretoria.

Volgens Fick beleef hulle tans uitsonderlike groei en bied in die lig hiervan vanjaar ʼn nagraadse onderwyssertifikaat-kwalifikasie met spesialisering in verbruikerstudies aan.

“Daar is ʼn behoefte in hoërskole aan onderwysers met verbruikerstudiekennis, en Aros wil graag roepingsgedrewe onderwysers ook in hierdie veld oplei,” is daar voorheen aan Maroela Media oor dié toevoeging tot hulle kurrikulum gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.