Omgedop, oftewel “Inside out”

Inside-Out-emosionele-intelligensie

Die animasiefliek Inside Out raak die belangrike onderwerp van kinders se emosionele intelligensie aan. Foto: Youtube.

Die belangrikheid daarvan om kinders van kleutertyd af emosionele intelligensie vaardighede te leer.

Die animasiefilm van Pixar het Junie in Suid-Afrika begin draai. Hierdie fliek gee vir ons ʼn kykie in die emosiewêreld van die hoofkarakter Riley. Sy is ʼn gelukkige dogtertjie totdat haar lewe op sy kop gedraai word wanneer haar ouers verhuis. Riley se emosies, onder leiding van Joy, probeer haar deur hierdie lewensveranderende gebeurtenis help. Ongelukkig word Sadness onder hierdie spanningsvolle omstandighede die leier en stoot vir Joy uit die pad uit. Uiteindelik word ook Sadness na die agtergrond geskuif en al emosies wat oorbly is Anger, Fear en Disgust. Elke emosie speel ʼn rol in die besluit wat die karakter neem oor haar optrede.

Wat ʼn fantastiese tema vir ʼn fliek!

Emosionele intelligensie word deur sommige kenners belangriker geag as intelligensie as bepaler van sukses van ʼn kind op skool.

Wat is emosionele intelligensie?

Ek wil emosionele intelligensie beskryf as ʼn persoon of kind se vemoë om na ʼn situasie te kyk, te besluit wat hulle van die situasie dink, te onderskei watter emosies na vore kom in die situasie en te besluit hoe om die emosies op ʼn veilige manier te hanteer. Dus nie bloot die vermoë om insig in emosies te openbaar nie, maar ook die vermoë om hulle te bestuur sodat hulle nie ʼn negatiewe impak op die individu se lewensgeluk en produktiwiteit het nie.

Uiteindelik kan ons net onsself effektief bestuur. Mense probeer om ander mense en situasies te bestuur, maar dit het maar beperkte sukses. Ek kan egter myself en hoe ek reageer op bepaalde positiewe of negatiewe lewenssituasies bestuur. Kinders kom van jongs af te staan voor uitdagings. Dit kan die uitdaging wees om ʼn speelding met ʼn maat te moet deel, of om te gaan bad wanneer ek eintlik nog wil speel, of om die onbillike optrede van ʼn onderwyer of ouer te hanteer, of om die boelie op die speelgrond te trotseer, selfs om ʼn molesteerder se manipulerende gedrag te kan afweer.

Dus is emosionele intelligensie myns insiens een van die belangrikste vaardighede wat ʼn ouer vir sy kinders kan leer. Daarsonder kan ons hulle probeer beskerm teen die onregverdige wêreld, maar as ons eerlik is, is dit ʼn hopelose poging. Die beste kans wat ons vir ons kinders kan gee om gelukkige, verantwoordelike lede van die samelewing te wees, is om hulle te leer om hul gevoelens te bestuur en hul behoeftes op ʼn kalm, maar selfgeldende manier oor te dra. So maak ons hulle weerbaar vir die lewe.

Ek leer ouers en kinders om gevoelsmaatjies te gebuik om te identifiseer watter emosie by hulle kuier. Die gevoelsmaatjies is agt handgemaakte poppe met verskillende gesigsuitdrukkings wat die verskillende emosies verteenwoordig. Die kind word geleer hoe om te kalmeer deur asem te haal sodat hy/sy goeie besluite kan maak. Daarna probeer die kind dink wat gebeur het wat hom/haar ontstel het. Die volgende stap is om te besluit watter van die gevoelsmaatjies by hom/haar kom kuier. Hy probeer nie die gevoel teenstaan nie, maar erken dat die gevoel kom kuier het. Die laaste stap is dan om te besluit hoe hy op die gevoel wil reageer en hier leer ek vir hulle dat hulle kan besluit hoe om die gevoel op ʼn veilige manier tot uiting te laat kom.

Ek kan dit nie genoeg beklemtoon dat ouers erns moet maak met hul kinders se emosionele intelligensie nie. Maak werk daarvan en indien jy nie self toegerus is om dit te doen nie, maak kontak met ʼn kundige.

Meer oor die skrywer: Karin Grobler

Karin Grobler is ʼn ma, ouer-opleier (parent coach), spelterapeut, pastorale berader, beroepsvrou en ʼn volgeling van Jesus Christus. Sy het in 2013 haar M-Phil graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Karin het ʼn produk ontwikkel wat sy Gevoelsmaatjies noem, wat ʼn handige hulpmiddel is om kinders te help om emosionele vaardighede aan te leer. Besoek gerus haar webwerf.

Deel van: Gesondheid, Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Annize Raath ·

Wonderlike artikel. Ek het bake uit die fliek geleer. Kan dit vir grootmense en kinders aanbeveel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.