Tiener gered van bedelbestaan: ‘Omgee verander my sussie se lewe’

Foto ter illustrasie. (Foto: Eric Ward/Unsplash)

Die meisie kyk met leë oë om haar rond. Waar is hy? Haar pa het haar gedwing om hier te kom staan en bedel. Sy doen dit al jare lank. Elke aand na donker moet sy na die klein krot teruggaan wat hy so lendelam tussen twee geboue staangemaak het. Net ʼn enkelmatras wat winter en somer vir hulle ʼn bed moet wees. Vir haar ma en pa moet ook plek gemaak word om darem ietwat iets van lê te beleef. Douvoordag word sy weer uitgeboender om haar bakhanddag nogeens aan te pak.

Aletta is al 18. Sy kan egter nie lees of skryf nie omdat sy nog nooit in die skool was nie. Van die lewe van ʼn tiener kan sy niks vertel nie omdat sy nog maar net as ʼn bedelaar bestaan. Skuins klappe is alledaags, veral as haar pa nie geld vir sy dwelms het nie. Drank is ʼn tweede keuse en boonop makliker om in die hande te kry; dit is te sê as sy genoeg geld “huis toe” gebring het. Haar ma is ook verslaaf. Vir haar gee hul nou en dan ʼn trek dagga.

Aletta se ma is ʼn sekswerker. Sy neem Aletta soms saam – as die nood groot en die bedelgeld te skraps is. Sy weet nie van keuses maak nie. Ander kinders van haar ouderdom is besig met loopbaankeuses, studiekeuses en matriekafskeidrokke. Aletta sal nooit ʼn matriekafskeidrok hê nie en sal ook nooit matriek behaal nie. Aletta kan nie kies wat sy wil doen nie.

Sy weet nie hoe gekookte kos proe nie. Brood, worsies en polonie; dis hul stapelvoedsel. Sy voel baie gelukkig as sy ʼn beker koffie in die hande het. Dis vir haar ʼn groot bederf. Nie melk nie. Maar darem ʼn lekseltjie suiker. Soms.

Aletta het nog ʼn sussie ook. Hulle is deur maatskaplike werkers in pleegsorg geplaas omdat hulle nog minderjarig is. Karien, haar jongste sussie, is nog in die laerskool, al is sy amper 14. Sy het soveel skool gemis dat sy nog probeer inhaal. Net soos Aletta het haar pa haar ook seksueel gemolesteer en aangerand. Gelukkig vir Karien het ʼn ander werknemer by die maatskappy waar haar pa soms dagwerk doen opgemerk dat iets nie pluis is nie toe hy vir Karien sien. Hy het toe daarvan werk gemaak om hulp by ʼn maatskaplike werker te kry.

Karien is na assessering van die omstandighede deur die kinderhof in pleegsorg geplaas. Sy kies om nie kontak met haar ouers te hê nie. Aletta dink Karien is een van die gelukkiges wat betyds hulp gekry het om uit haar swak agtergrond en omstandighede te ontsnap. In haar pleegouers se sorg sal Karien keuses kan uitoefen. Sy sal haarself kan verbeter en ʼn gesonde toekoms vir haarself kan skep.

“As ʼn maatskaplike werk hulporganisasie is dit vir ons ʼn riem onder die hart om kinders te kan help wanneer oplettende volwassenes ons kontak. Vir Aletta is dit te laat, maar Karien kan nog met die hulp van haar pleegouers ʼn sukses van haar lewe maak.

“CMR Gauteng-Oos ondersteun pleegouers met opleiding en lewer verdere dienste soos berading en sielkundige hulp waar nodig,” sê Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Baie hartseer. So die ouer sussie word net aan haar eie genade oor gelaat. Sy wwet nie van beter nie. Is daar dan nie instansies wat sulke kinders ook kan help nie?

Karoo ·

Jy weet, wanneer ons as mens onsself in enige moedeloose situasie bevind, sit ons ver onder in daai bruin papier sakkie, ons weet nie hoe om daar uit te kom nie. Ons moet help waar ons kan, ongelukkig kan ‘n mens nie oral wees nie. Baie dankie aan elke persoon wat iemand vandag en more wel help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.