Ondersteun vroeggebore babas en hul ma’s só

(Foto: Seif Eddin Khayat/Unsplash)

Vir die afgelope tien jaar word 17 November elke jaar as Wêreld-prematuriteitsdag gevier. Die doel van hierdie dag is om ’n bewustheid te kweek van voortydse geboortes en die probleme van voortydse babas en hulle gesinne wêreldwyd.

In Suid-Afrika word 15% van alle babas – wat op een uit sewe babas neerkom – voortyds gebore.

Voortydige geboortes is wêreldwyd die vernaamste oorsaak van sterftes by kinders onder vyf jaar oud. Naastenby een miljoen babas sterf elke jaar weens komplikasies en ’n gebrek aan behoorlike gesondheidsorg.

Die Europese stigting vir die versorging van pasgeborenes (European Foundation for the Care of Newborn Infants, EFCNI) was die eerste organisasie wat die belange van voortydse en pasgebore babas en hulle gesinne verteenwoordig. Die EFCNI is sedert 2008 besig om ’n bewustheid vir Wêreld-prematuriteitsdag te ontwikkel.

Ouergroepe, gesondheidskundiges, hospitale, organisasies en ander belanghebbers wat by voortydse geboortes betrokke is, vier die dag met mediaveldtogte, plaaslike gebeurtenisse en ander aktiwiteite wat op plaaslike, streeks-, nasionale of internasionale vlak plaasvind om ’n bewustheid onder lede van die publiek te skep. Meer as 170 organisasies gaan in 2020 Wêreld-prematuriteitsdag vier.

Van die voorstelle oor hoe om Wêreld-prematuriteitsdag te ondersteun, sluit in die verkryging van reklamemateriaal wat op sosiale media gebruik kan word, die dra van pers klere, en die aansteek van ’n pers kers op 17 November ter ondersteuning van prematuriteit. Al hierdie gebare is edel en help om ’n bewustheid te skep. Vrae moet egter gevra word oor watter bewustheid geskep kan word om ouers met vroeggebore babas te help ondersteun. Hoe kan ons hierdie bewustheid in aksie omskakel?

Vanjaar se tema vir Wêreld-prematuriteitsdag is “Together for babies born too soon – caring for the future”.

Die sleutelwoord hier is “toekoms” en die organisasies wil hê dat hierdie babas moet grootword en ’n toekoms hê.

Dit is presies wat prof. Welma Lubbe, medeprofessor aan die Noordwes-Universiteit se Skool vir Verpleegkunde, doen.

“Hoewel die meeste internasionale navorsing in hoë-inkomstelande gedoen word, word daar herhaaldelik beklemtoon dat ouers van vroeggebore babas groter behoeftes het en ná die baba se aanvanklike ontslag uit die hospitaal bykomende inligting en ondersteuning nodig het,” sê Lubbe.

Haar navorsing soos dit in September 2020 in die Journal of Early Intervention gepubliseer is, het gemeld dat ouers, ongeag die land waar hulle woon, voortdurend sê dat daar nie voldoende inligting en ondersteuning is nie, tesame met ’n gebrek aan gemeenskapsgebaseerde en professionele gesondheidsorgondersteuning.

“Kom ons takel met Wêreld-prematuriteitsdag hierdie jaar die gebrek aan voldoende gemeenskapsgebaseerde en gesondheidsorgkundige ondersteuning. In plaas daarvan om bloot ’n bewustheidsraampie om jou Facebook-profielfoto te plaas, hoekom deel jy nie ’n artikel oor hoe om infeksies by babas wat te vroeg gebore is, te voorkom nie?

“’n Alternatief vir die aansteek van ’n pers kersie om jou ondersteuning te toon, kan wees om gesprekke oor ervarings vir die sorg van voortydse babas aan te moedig. Enigiemand wat ’n vroeggebore baba gehad het, verstaan hoe angswekkend dit kan wees. Dink daaraan om hierdie ervarings te deel met ander gesinne wat met prematuriteit te make het. Jou ondersteuning kan ’n gesin met ’n baba in die neonatale hoësorgeenheid (NICU) onderskraag,” sê sy.

Nog ’n voorstel van Lubbe is om vandag nog ’n skenking aan ’n liefdadigheidsorganisasie soos Projects4Preemies, Beanies 4 Babies of die Suid-Afrikaanse Borsmelkreserwe (SABR) te maak.

“Só kan NICU’s in ons land gehelp word om behoorlike gesondheidsorg te kry, hetsy dit in die vorm van die opleiding van verpleegkundiges en vroedvroue is, of om lewensondersteuningsmasjiene te verkry.

“Slegs deur bewustheid in aksie te omskep, kan ons werklik hierdie ernstige gesondheidsprobleem die hoof bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.