Ondersteuning vir ouers met ’n dowe kind

(Foto: Zoe Graham/Unsplash)

Deur Wilmaré du Buisson

Elke ouer wat ʼn kind het met gehoorverlies, dra ʼn berg van verantwoordelikheid om die regte besluite te maak vir hul kinders. Die verantwoordelikheid voel ook soveel swaarder wanneer die besluite die res van die kind se lewe gaan beïnvloed. Ouers van kinders waarby gehoorverlies gediagnoseer word, word nie net oorweldig deur die klomp besluite wat gemaak moet word nie, maar hulle rou ook terselfdertyd oor die voorgestelde ideale wat hulle vir hul kind gehad het. Tydens die swangerskap raak ouers opgewonde oor die verskillende mylpale wat hulle saam met hul nuwe kind gaan bereik. Hulle droom natuurlik oor die baba se eerste woorde, die verklarings van liefde, en die geselsies ná skool. Dus, sodra ernstige gehoorverlies by hul nuwe baba gediagnoseer word, lyk die oorspronklike drome wat hulle gehad het anders.

Navorsing het gevind dat sommige van die ouers ʼn soortgelyke rouproses deurgaan as iemand wat ʼn geliefde aan die dood moes afstaan. Die eerste fase is bekend as die skokfase. Die meeste kinders met gehoorverlies kom uit families wat geen vermoede of ervaring het van ’n gehoorverliesdiagnose nie. Dus ervaar hulle skok wanneer die diagnose gemaak word.

Die fisieke reaksie van skok gaan gepaard met ʼn verdowing van kognitiewe prosessering. Dit is omdat wanneer die liggaam skok ervaar, dit die brein se konsentrasieproses onderbreek. Op daardie oomblik voel dit vir die ouers onmoontlik om ʼn rasionele besluit te maak, want die lewe wat hulle vir hul kind voorgestel het, is in gevaar.

Sodra die ervaring van skok afwater, kom die volgende fase van ongeloof. Dié fase word as ongeloof gekategoriseer, want ná die skok ervaar die ouers gewoonlik ʼn reaksie wat in siklusse van weerstand teen die diagnose en dringendheid om te reageer, voorkom.

Laastens is die fase van verset. Die fases van ongeloof en verset is ook fases wat terselfdertyd ervaar kan word. Met verset kom daar emosies wat geassosieer word met depressie soos angs en hartseer. Saam met die emosies gebeur dit ook dikwels dat ouers weier om die permanentheid van die diagnose te aanvaar. Soos wat ouers deur die emosies werk, begin hulle soveel as moontlik inligting insamel ten opsigte van die diagnose van gehoorverlies. Dikwels verkies hulle eerder om na die inligting te kyk waarvan die uitkomste die naaste is aan hul oorspronklike verwagtings.

Wilmaré du Bussion (Foto: Verskaf)

Dit is werklik moeilik vir die ouers om alles te prosesseer en om objektief te bly oor die inligting wat aan hulle gegee word of wat hulle self versamel. Die mediese personeel is ook die eerste interaksie wat hulle het met mense wat ervaring het met ʼn diagnose van gehoorverlies en dan is dit maklik om te glo hulle is die enigstes met raad. Daarom is dit belangrik vir die ouers om te weet daar is iewers om heen te gaan waar ouers met ander ouers of kenners kan praat wat kennis en ervaring het met die diagnose van gehoorverlies. Raad soos watter prognoses vir ander gewerk het en nie gewerk het nie, raad oor wat om te doen as jou kind nie die gehoorapparate wil dra nie, raad oor hoe om frustrasies in ʼn kind met minimale taalontwikkeling te hanteer en sommer net raad oor hoe om jou aandag regverdig te verdeel in die huis waar daar ʼn kind is met gehoorverlies.

Ondersteuningsgroepe is ook hulpvaardig met verwysings na ʼn goeie oudioloog, spraakterapeut, skole en finansiële steun. Behalwe vir hulp bied hierdie ondersteuningsgroepe hoofsaaklik net ʼn klankbord vir die ouers waar hulle hul bekommernisse, struikelblokke en mylpale kan deel. Elke ouer kan baat by ʼn vriendskap wat begrip het met hul situasie en daarom het Helpende Hand ʼn afdeling gestig waar enige iemand in die wêreld van gehoorverlies kan uitreik. Helpende Hand wil graag help waar hulle kan en dus kan jy ʼn navraag stuur aan die e-posadres gekoppel aan die artikel.

  • Hierdie is die vierde en laaste berig uit ’n reeks deur Wilmaré du Buisson. Sy is tans besig met haar meestersgraad in Suid-Afrikaanse Gebaretaal aan die Universiteit van die Vrystaat. Du Buisson en Solidariteit Helpende Hand het kragte saamgesnoer om deur Helpende Hand se nuut gestigte tak vir mense met gehoorgestremdheid, bewusmaking te skep oor kinders met gehoorgestremdheid. Vir meer inligting besoek www.shhgehoorgestremdhede.co.za of stuur ’n e-pos na [email protected]. Vrae kan ook na dié e-pos gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SomeOne ·

ek ken die ervaring van ‘n gehoorprobleem kind
al die vrae, verwyte, hoekom, waarom, wat het ek verkeerd gedoen
bid vir krag, ondersteunig, doen ek die regte ding
alles wat aangepas moet word om hom ook ‘n plekkie in die son te gun
die hoeveel kere wat jy by die oudioloog is om antwoorde en inligting te kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.