Onderwysers bly sleutel tot ’n suksesvolle toekoms

Johan Koekemoer (Foto: Verskaf)

Deur Johan Koekemoer

Singapoer, Finland en Japan lewer jaar ná jaar merkwaardige onderwysverwante resultate. Oor die wêreld heen probeer lande die resepte vir sukses van dié drie lande naboots. Ons hoor gereeld sêgoed soos “Singapoer-wiskunde” en “die Finse model”. Die probleem is dat die sukses van dié drie lande gefundeer is op ’n oeroue beginsel; een waarteenoor vandag se generasies absoluut blind staan en geïndoktrineer is deur die postmoderne samelewing.

Die sukses is nie hoë salarisse, meer tegnologie, langer klasse, onderwysers met meestersgrade of kleiner klasse nie. Die sleutel tot dié lande se sukses is ’n onderwysergesentreerde onderwysstelsel. Een waar die onderwyser ’n sentrale rol vertolk in die pedagogiek van die onderwys. Elke poging tot die hervorming van onderwys sal misluk indien die onderwyser se sentrale rol tot die opvoeding van leerders vervang word met ’n kindgesentreerde benadering – ʼn benadering waar die primêre fokus is om die kind se grille, giere, geite en gemak die hooffokus is.

Kindgesentreerde kurrikula is egter die status quo in die postmoderne samelewing. Kindgesentreerde kurrikula is vol keuses, tegnologie, vermaak en buitemuurse aktiwiteite – alles terwyl die opvoedkundige verantwoordelikheid van die onderwyser gereduseer word tot dié van toesighouer en afrigter. Onderwysers word op die agtergrond geplaas, onderrig word uitgekontrakteer aan tegnologie, en sportafrigting word uitgekontrakteer na hiperspesialiste.

Die verdwynende rol van die onderwyser as opvoedkundige, speel reg in die hand van Die Globalis. Die Globalis werk dag en nag om kulturele grense af te breek, geloof as antiwetenskap te verklaar en om moedertaal uit te wis, want die Globalis weet dit dra waardes wat mense gemeenskapsgeoriënteerd maak en gemeenskapsgebonde hou. Die Globalis streef na ʼn bedeling waar almal anders lyk, maar dieselfde dink, om sodoende meer mag oor die mens kry. Vir die Globalis is die sentrale rol van die onderwyser ’n bedreiging, want onderwysers se rol as opvoedkundiges versterk juis kultuur, geloof en moedertaal.

Tegnologie is die voertuig wat die Globalis gebruik om ʼn agenda te dryf en as ons as skole nie “wakker slaap” nie, gaan ons binnekort ’n agent wees vir die Globalis. As ons as skole toelaat dat tegnologie pedagogiek dikteer, dan is ons bestemming ’n wêreld wat George Orwell so goed beskryf in sy boek 1984, ’n wêreld waar die individu sy vryheid prysgee sodat Big Brother na hom sal kyk.

Tegnologie in die Globalis se hande poog dus om die rol van die onderwyser as opvoedkundige te verander om sodoende die oordrag van erfenis en waardes te stuit. Hier is ’n paar voorspellings waarop ons tans afstuur:

  1. Onderwysers kan vervang word met kunsmatige intelligensie: Indien die rol van die onderwysers sou verander van opvoedkundige na een wat bloot inligting oordra, dan sal kunsmatige intelligensie die taak meer effektief kan verrig en sal instansies onderwysers kan vervang met aanlyn platforms. Onderwysers moet dus, in plaas van slegs inhoudelike oordrag, ook kultuuroordrag verseker.
  2. Platformskole gaan die status quo word. Dit is nie net ʼn baie gerieflike voertuig om die kind op sy eie persoonlike leerroetes te neem nie, maar ook baie goedkoper as tradisionele skole. Dit sal so leerdergesentreerd wees dat dit die verbondenheid tot ʼn ankergemeenskap sal negeer. Uit die aard van die saak gaan die tuisskool ’n aanlokliker opsie word. Vanjaar alleen het die skole wat ons besoek het, gemiddeld tussen 40 en 50 leerders afgestaan aan tuisskole. Die rol van ’n onderwyser in ’n platformskool sal meer gefokus wees op die skep van inhoud sonder enige kontak met kinders.
  3. Biometriese tegnologie soos dié wat reeds voorkom in slimhorlosies en slimfone, sal inligting uit leerders se private wêreld aan onderwysers kan voorsien. Onderwysers sal weet wanneer leerders angstig is en so sal aanlyn stelsels die nodige intervensies aan onderwysers voorskryf om byvoorbeeld leerders se hartklop te normaliseer. Die oordeel van die onderwyser as opvoedkundige sal al hoe meer ondergeskik staan tot inligting wat tegnologie verwerk het vanuit al die data wat dit van leerders insamel. So sal onderwysers se outonomie wegkwyn tot dié van blote burokrasie.

Die toekoms is egter nie liniêr nie. Ons as gemeenskappe, deur middel van ons skole, kan en moet weer ons kinders se opvoeding in ons hande neem. Ons skole moet weer die onderwyser sentraal plaas in die opvoedingsproses. Ons moet weer ons opvoedingsideale afstof. Ons moet tegnologie integreer met onderwysers se kreatiwiteit, empatie en emosionele intelligensie om van ons leerders eersteklas landsburgers te maak en nie tweedeklas robotte nie. Ons moet tegnologie gebruik om geanker te bly in ons waardes waar hervorming – en nie revolusie nie – standaardpraktyk is.

  • Johan is die hoof van Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) en deeltydse dosent by Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.