Ouers as opvoeders

(Foto: Markus Spiske/Unsplash)

Deur Charlotte Fourie

“Julle kinders is die soetste dingetjies!,” antwoord die vriendelike juffrou by die kleuterskool my vraag oor ons kinders se gedrag deur die loop van die kleuterskooldag. Dit verstom my elke keer hoe drasties die onderwysers se terugvoer en my eie ervaring by die huis verskil. My vriendinne troos my en sê: “Jou kinders is stouter by die huis, omdat hulle gemakliker by jou is – dit is eintlik ʼn kompliment!” Maar is dit regtig so?

Onlangs, ná ʼn lang en spanningsvolle dag by die werk, moes ek my kinders by die skool gaan haal en huis toe neem. My man het op daardie dag bietjie laat gewerk en ek moes myself voorberei om die aandroetine alleen aan te pak. Met my gemoed reeds diep in my skoene, het ek die drie kinders in die motor gelaai en huis toe gery.

“Die ouer is ook ʼn opvoeder,” herroep ek toe ʼn onlangse gesprek wat ek met kollegas gehad het en by die eerste rooi verkeerslig besluit ek dat ek my aandroetine as ʼn opvoeder gaan aanpak en nie net as ʼn ouer nie. Wat sou ʼn onderwyser vanaand met my drie kinders doen?

Wat is ʼn opvoeder?

Opvoeders is persone wat ʼn kind tot volwassenheid vorm. Om opgevoed te word, is om van onder af op te gaan, terwyl jy gevoed en geleer word. Die vorming wat ʼn opvoeder doen, vind op twee maniere plaas: deur onderrig (voor staan) en deur ʼn voorbeeld te stel (voor loop). Kyk na die woord “onderwys”: om van bo af na onder te wys wat om te doen en wysheid oor te dra, omdat jy die kind liefhet. Die betekenis van die woord “dissipline” is soortgelyk: om iemand te onderrig (van bo na onder) om ʼn sekere gedrag te toon. Dalk kan ons dan aanvaar dat waar daar opvoeding is, is daar ook dissipline.

Iewers het dit die norm vir die meeste van ons geword om die onderriggedeelte van ouerskap net aan ons skole toe te vertrou. Ek moet bieg dat ek ook verlig was om ná drie jaar my kinders in die kleuterskool te sit en net te vertrou dat hulle goed opgevoed sal word. Die onderwysers by die skool is mos immers bekwaam om te doen wat hulle moet doen.

Die ouer se taak as opvoeder

God gee in sy Woord vir ouers die opdrag om hulle kinders in sy weë op te voed. Aangesien dit ʼn omvattende, gespesialiseerde en soms baie uitdagende taak is, mag ouers ook van ander gelowiges gebruik maak om hulle daarmee te help, maar nie noodwendig om die verantwoordelikheid daarvoor oor te neem nie.

ʼn Gelowige onderwyser vorm deel van die gemeenskap wat ons kinders moet opvoed en daarom staan hulle nie bo of onder ons as ouers nie, maar langs ons. Jy kan jou kind se akademiese opvoeding gerus aan ʼn Christelike onderwyser toevertrou, maar jou eie taak as opvoeder bly staan: om God se kind wat Hy aan jou gegee het, groot te maak om Hom te ken.

Christus as die eerste Onderwyser

… ons weet dat U ʼn leraar is wat van God gekom het…” (Johannes 3:2). Christus is ons Leermeester en ons kinders behoort aan Hom en nie aan ons, aan hulleself of aan die staat nie. Christus wil sy volgelinge onderrig om sy Vader te dien en Hy wil dit doen met die ouer as instrument. God het julle, die pa en ma van kinders, geroep om julle kinders vir hul roeping in die volwasse wêreld voor te berei.

Jou lesplanne

Baie sal dalk redeneer dat die geroepe onderwysers ʼn voorsprong het wanneer dit kom by goeie ouerskap – hulle het immers gestudeer om jongmense te verstaan en te onderrig. Hier is vyf stappe wat ouers kan gebruik om ook opvoeders in die huis te wees:

  1. Stel doelwitte: Jy kan nie raakskiet as jy nie eers gemik het nie. Staan elke oggend op, erken dat jy geroep is om vandag God se kind(ers) op te voed en besluit wat jy die dag met jou kind wil bereik.
  2. Beplan die lesinhoud: Wat is die lesse wat God deur jou wil laat leer? Jy kan nie iets onderrig wat jy nie self ken, verstaan of glo nie (vra enige onderwyser). Skerp jou eie kennis van die Woord op, gebruik bronne en vra jou geloofsgemeenskap se insette.
  3. Kies onderrigstrategieë en pas dit toe: Hóé gaan jy die kennis oordra? Dit sal afhang van die inhoud, die omstandighede, die kind se ouderdom en die beskikbare hulpbronne. Die perfekte tyd sal duidelik word wanneer jy net in die oomblik ontvanklik daarvoor is (en nié dalk die hele tyd op jou selfoon of skootrekenaar doenig is nie). Dalk is dit tydens ʼn rugbywedstryd, wanneer jy ʼn redenaarstoespraak skryf of selfs gedurende die rit op pad huis toe.
  4. Evalueer: Het julle en jul kinders die doelwitte van die leerervaring bereik? Het jou kind God se beeld in jou ouerskap gesien? Asem jou kind God se teenwoordigheid in die huishouding in? Kon jy jou kind vandag in verwondering laat oor die ware, die goeie en die skone?
  5. Refleksie: Wat het julle hieruit geleer? Ons raak te min stil en dink te min terug aan wat ons gedoen en geleer het gedurende die dag – en hoe ons daarop kan verbeter. Leer jou kind om deurlopend te reflekteer op gesprekke, gevoelens en gedrag teenoor ander. Gebruik hierdie refleksie om nuwe doelwitte te stel.

Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. (Deuteronomium 6:5-7)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.