Ouers en leerders, skop jul jaar met gesondheid af

(Foto: Ella Olsson/Unsplash)

Deur Natasha Smit

In ’n oogwink is 2020 verby. Wat ’n riller van ’n jaar met soveel uitdagings en veranderinge. Daar was baie lesse te leer en struikelblokke wat oorkom moes word, maar hierdie maand kan jy gebruik om 2021 as ’n sterker mens aan te pak.

Die begin van ʼn jaar bring soveel nuwe hoop, nuwe idees, nuwe drome en nuwe verwagtinge. So is dit ook die perfekte tyd om weer in roetine te kom en ’n paar goeie leefstylveranderinge aan te bring.

Alhoewel die Covid-19-pandemie baie verwoesting gesaai het, het dit ’n vergrootglas geplaas op gesondheid; hetsy gesond eet, oefen (al was dit net om uit die huis uit te kom), minder wegneemetes ná kitskostakke gesluit is en groter bewusmaking van die risiko van kroniese siektes wat soms onwetend ’n gevolg kan wees van ’n ongesonde leefstyl vanaf ’n jong ouderdom.

Sosiale media het gegons met foto’s in die kombuis, nuwe resepte en nuwe idees. By party het dit ’n nuwe liefde vir kosmaak gekweek, ander het weer ’n nuwe kreatiewe vaardigheid aangeleer. Hierdie jaar is dit tyd om hierdie liefde vir kos en nuwe kreatiwiteit te gebruik om jou gesondheid te verbeter.

Volhoubare leefstylveranderinge is ’n tydsame proses. Dit verg harde werk, deursettingsvermoë en ondersteuning van jou geliefdes. Jy gaan elke nuwe jaar in met nuwe voornemens, maar hoeveel van jou doelwitte het jy al bereik? Begin jy elke jaar met dieselfde Nuwejaarsvoorneme? Dalk wil jy gesonder eet, oefen of gewig verloor, maar ná ’n paar dae of selfs weke verval jy tog weer in jou ou gewoontes.

Nou is die vraag: Wat om te doen en waar om te begin om hierdie jaar anders aan te pak en uiteindelik jou doelwit te bereik?

Natasha Smit is ’n geregistreerde dieetkundige. (Foto: Verskaf)

Hier is ’n lys van tien gewoontes wat jy kan verander om hierdie jaar jou jare lange Nuwejaarsvoorneme uiteindelik ’n realiteit te maak. Dit klink dalk na baie en dit gaan tyd neem, maar ek stel voor jy kies elke maand een en sodra jy dit bemeester het, kan jy op die volgende doelwit fokus. Jy as ouer kan hierdie gewoontes sommer vir jou hele gesin aanleer sodat jou kinders van jongs af ’n gesonde leefstyl handhaaf. As jy dalk ’n onderwyser is, verstaan ek hoe besig jou rooster mag wees en hierdie gesonde leefstyl sal jou net meer energie gee om die jaar met al sy uitdagings aan te pak.

  1. Maak tyd vir jou gesondheid

As daar een ding is wat die inperking ons geleer het, is dit om af te skaal, tyd te waardeer en beter te benut. Die lewe is ’n gejaag van een plek na die ander. Mense maak nie meer genoeg tyd vir hulself, geliefdes en vir gesondheid nie. As jy nie tyd gaan maak om na jou gesondheid om te sien nie, gaan jy in die toekoms tyd moet maak vir siektes.

  1. Beplan etes en peuselhappies vooruit

Wanneer jou dag en etes nie beplan is nie, is dit maklik om ’n ete oor te slaan, ongesonde peuselhappies te eet of om ’n wegneemete te bestel wat vinnig en maklik is. Wegneemetes het baie meer kalorieë as ’n toebroodjie of gesonde middagete of slaai wat by die huis voorberei is. As jy nie tyd maak om jou volgende dag se ete en peuselhappies te beplan nie, raak die dag dikwels besig en voor jy jou oë uitvee, is dit 17:00 en is jy rasend honger en gryp dalk na die ongesonde eetgoed in jou huis.

  1. Hou dit eenvoudig

Dit is nie nodig om elke dag ’n driegangmaaltyd voor te berei nie. Koop kruideniersware vir die week en hou dit eenvoudig. Jy kan elke week of maand jou eetplan verander vir variasie. Beplan die week se etes en peuselhappies vir jou en jou gesin, stel ’n inkopielys op en koop slegs wat op jou lys is. Maak ook seker jy het iets geëet voor jy inkopies gaan doen, want wanneer mens honger deur die kosrakke stap, is jy geneig om baie meer ongesonde eetgoed te koop.

  1. Hou by ’n roetine

Die Covid-19-pandemie het almal se roetine omvergegooi. Dit is dus baie belangrik om steeds ’n roetine by die huis te volg. Probeer om min of meer dieselfde tyd te gaan slaap, opstaan, eet en oefen. Vermy etes voor die televisie of rekenaar en bêre jou selfoon wanneer jy saam met jou gesin aan tafel sit en gesels oor jou dag. Probeer ook om aandete nie te laat te eet nie en berei etes betyds voor vir die volgende dag.

  1. Moenie etes of peuselhappies oorslaan nie

Wanneer jy ’n ete oorslaan, gaan jy heel moontlik daardie ete later die dag wil inhaal, meer ongesonde peuselhappies eet of met jou volgende ete baie meer eet. As dit iets is waarmee jy sukkel, kan jy altyd opsies oorweeg wat maklik en vinnig is om te eet soos ’n gesonde vrugteskommel, tuisgemaakte quiche, gesonde beskuitjie of oop toebroodjie met ’n gesonde vulsel.

  1. Drink meer water

Probeer om nie jou water met koffie, tee, gaskoeldrank of vrugtesap te vervang nie. Drankies bevat dikwels baie suiker wat jou kalorie- en suikerinname onwetend verhoog, maar nie noodwendig voedsaam is nie. As jy sukkel om genoeg water te drink, kan jy ook rooibos- of kruietee (sonder melk en suiker) drink.

  1. Eet ’n verskeidenheid groente en vrugte

Probeer om elke dag gesonde groente by jou middag- en aandete in te sluit. Jy kan vars groente op jou toebroodjie sit, saam met jou vleis gaarmaak of selfs ’n lekker slaai as bykos eet. Vrugte is ook ’n goeie peuselhappie, veral as jy dit saam met ’n bietjie ongesoute neute of kouevleis eet.

  1. Wees aktief

Doen ’n oefening wat jy geniet. Dit kan stap, draf, fietsry, Pilates, dans, gim, swem, aksiesport en soveel meer insluit. As jy dit geniet, gaan dit nie ’n straf wees nie en is jy meer geneig om te volhard. Dit help ook as jy saam met ’n vriend of vriendin begin oefen sodat julle mekaar kan motiveer, ondersteun en aanspreeklik hou.

  1. Beperk geprosesseerde kos, kitskos en wegneemetes

Hierdie kos bevat baie sout en is in die geheel nie goed vir jou gesondheid nie. Probeer soveel moontlik vars eetgoed in jou dieet insluit en maak self kos by die huis met lekker kruie en speserye.

  1. Beperk suiker

Probeer minder suiker by kos, koffie en tee te voeg. Suiker is ’n smaak wat aangeleer word en hoe meer jy byvoeg, hoe meer hunker jy na nog soetigheid. Wanneer jy minder addisionele suiker byvoeg, raak mens vinnig gewoond aan die natuurlike soet smaak van kos en raak die hunkering na suiker en ongesonde soetigheid al hoe minder.

Hou gerus volgende maand se nuusbrief dop vir meer voorbeelde en idees vir kosblikke.

  • Natasha Smit is ’n geregistreerde dieetkundige.
  • Luister na die podsending by hierdie rubriek wat ‘n opsomming van die jongste nuus oor die onderwys verskaf. Smit gee ook ’n paar wenke oor hoe onderwysers, ouers en leerders ’n gesonde 2021, wat volhoubaar is, kan aanpak.
  • Die rubriek en podsending is met die vergunning van AfriForum geplaas. Lees die oorspronklike artikel hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.