‘Ouers moet kinders teen boeliery waarsku’

Verskaf aan Maroela Media

Met skole wat dié week heropen moet ouers veral bedag wees op potensiële boeliegedrag wat hul kinders kan teëkom, en die nagevolge wat dit kan hê indien hulle daarby betrokke raak.

“Deesdae het dit meer algemeen geraak om boeliegevegte en ander gevalle van boeliery op sosialemediaplatforms te deel, wat lei tot ʼn groot verlies van waardigheid by die slagoffer,” sê Johannes du Plessis, ʼn regsadviseur by Risk Benefit Solutions (RBS).

Volgens Du Plessis word kinders toenemend siviel en strafregtelik aanspreeklik gehou vir gevalle van boeliery.

“In teenstelling met dít wat baie mense glo, kan kinders jonger as 18 wel aanspreeklik gehou word vir beserings en skade wat deur hulle aangerig word, indien hulle kan onderskei tussen reg en verkeerd en hulle die mag het om te weerstaan,” het hy gesê.

Du Plessis het gesê die strafregtelike nagevolge wat met boeliery gepaard gaan wissel van boetes, boelie-slagofferbemiddeling, korrektiewe toesig of verpligte huisvesting in ʼn kinder- of jeugsentrum.

Die sivielregtelike nagevolge sluit mediese rekeninge asook huidige en toekomstige koste vir sielkundige pyn en lyding  in. Die ouers, van wie die kinders afhanklik is, ly dan aan die onmiddellike finansiële nagevolge.

Boelie

Foto: Pixabay.com

“Boeliery word nie beperk tot vuisgevegte nie. Grappies kan ook lei tot kriminele vervolging,” het Du Plessis gesê. “As een kind byvoorbeeld ʼn stoel onder ʼn ander kind uittrek, en die slagoffer kry dan seer, is dit ook boeliery. In erger gevalle, as ʼn grappie per ongeluk die dood van die slagoffer veroorsaak, kan die kind aanspreeklik gehou word vir strafbare manslag.”

Kinders wat video’s of foto’s van dié voorvalle deel, kan ook aanspreeklik gehou word vir naamskending, het Du Plessis gesê. “Die oplaai, deel of selfs om aandag op ʼn foto of video te rig wat skade aan ’n slagoffer se waardigheid doen, kan ʼn mens blootstel aan aanspreeklikheid.”

Dit is baie belangrik dat ouers met hul kinders praat oor boeliery as ernstige probleem en dat hulle die nodige versekering het om hulle gesin te dek. “Dit is belangrik vir ouers om met hul versekeringmakelaar te praat oor soorte versekering wat geskik sal wees vir ʼn kind se moontlike aanspreeklikheid,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.