Ouerskap gaan oor veel meer as net geboorte gee

Argieffoto (Foto: kisss, Pixabay)

Ons hedendaagse gemeenskap steier onder die gewig van ’n veelvoud faktore wat grootword moeiliker maak as in die afgelope dekades, volgens Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

“Ons hoor hoe mense vra: ‘Nou wat het die jeug om oor te stres?’ Wat dui op ’n gebrek aan begrip van die verskillende dinge waarmee ons tieners vandag te kampe het, wat die proses van grootword tot gesonde, gebalanseerde volwassenheid, ’n uitdaging maak?

“Daar is natuurlik verskille in die verskillende sosio-ekonomiese sektore. Ouers wat dag en nag werk, of die totale fisieke afwesigheid van ouers, selfs een ouer, speel ’n rol. Ons moet onthou dat selfs in gegoede gesinne, met beide ouers in die huis, ’n ouer emosioneel afwesig kan wees en die kind ’n gebrek aan koestering ervaar soortgelyk aan ’n situasie waar die ouers afwesig is.

“As ons teruggaan na die nature vs. nurture-debat, weet ons ná jare se navorsing albei speel ’n belangrike rol. Die mees onlangse navorsing van die Universiteit van Pennsylvania het getoon dat minder warmte/koestering en meer emosionele koudheid in die huislike omgewing, ’n direkte uitwerking het op die voorkoms van aggressie in kinders. Saam met hierdie aggressie word sulke kinders sonder ’n morele kompas en empatie groot. Hierdie kenmerke word deur die spesialiste ‘verharde gevoelloosheid’ (Callous-unemotional [CU]) genoem.”

Van der Merwe wys daarop dat dit veral voorkom by kinders wat van hul ouers verwyder is en in pleegsorg geplaas is. Dit is waarom pleegouers en pleegsorggesinne van deurslaggewende belang is om emosionele warmte en koestering te verskaf, gebalanseer met die nodige dissipline.

“Maatskaplike werkers bly in konstante kontak en is deurlopend deel van die pleegsorgproses om te verseker dat kinders die negatiewe agtergrond waaruit hul verwyder is, kan oorkom.

“Dit gaan oor baie meer as om bloot net ’n huis te verskaf. Dit gaan daaroor om die kwesbares te help om empatiese, gesonde volwassenes te word,” sê van der Merwe.

Die CMR Gauteng-Oos het tans 1 119 kinders in pleegsorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek het drie uiters suksesvolle kinders grootgemaak wat vandag hulle plekke in die samelewing wil volstaan……maar nie kan nie, want die huidige meerderheid het elke greintjie empatie wat hulle in hulle gehad het, vermorsel……Nou gaan hulle almal na lande toe waar empatie waarde het…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.