Pak kleinding se kosblik só

(Foto: Mae Mu/ Unsplash)

Om met bekostigbare, gesonde kosblikopsies vir die kinders in jou huis vorendag te kom, kan soms uitdagend wees.

Melinda Wyma, Eskort se tegniese bestuurder en voedselwetenskaplike, het vyf wenke saamgestel wat kleinding se kosblik gesond gaan hou sonder om jou beursie té leeg te maak.

  1. Kies die proteïen sorgvuldig

Een van die bestanddele in die pak van ’n gesonde kosblik, is proteïene. Terwyl dit noodsaaklik is om proteïene by kinders se daaglikse dieet in te sluit sodat hulle genoeg energie vir die dag kan hê, hoef dit nie noodwendig die duurste bron van proteïen op die mark te wees nie.

“Wanneer dit ʼn bietjie swaar gaan, kan ouers die duurder opsies soos beesvleis verruil vir varkvleis,” het Wyma verduidelik.

  1. Raak doenig die aand voor die tyd

Kosblikvoorbereiding hoef nie ’n tydrowende aktiwiteit te wees nie. Roep die kinders in die huis nader en laat hulle die aand voor die tyd hand bysit om die kosblikke gepak te kry.

“’n Gesonde ete kan interessant gemaak word deur kosblikhelde soos polonie op nuwe maniere voor te berei.”

Dié etes bevat dan die normale kosblikitems, maar ouers kan dit interessant hou deur elke dag iets anders daarmee te doen. Deur die kinders te betrek, sal die etes meer verbeeldingryk voorberei word.

  1. Ruil die skyfies vir tamaties

Net die idee van ʼn kosblik pak, gee talle ouers ’n kopseer. Die maklikste oplossing hiervoor is verpakte produkte wat dikwels meer ongesond is as enige iets anders. Skyfies en lekkergoed is dan dikwels aan die orde van die dag.

Wyma stel voor dat ouers eerder hul yskaste met klein tamaties, wortelstokkies en boontjies moet vul. Dit is ’n gesonder opsie en sal ook nie die bank breek nie.

  1. Doen deeglike beplanning

Deur weeklikse kosblikplanne op te stel, is die taak van gesonde kosblikke teen bekostigbare pryse dalk nie so groot soos wat talle dink nie.

“Deur ’n weeklikse eetplan en ’n gepaardgaande kruidenierswarelys saam te stel, kan ouers gesonde kosblikke pak en seker maak dat die week se begroting steeds klop.”

  1. Vries daardie druiwe

Gooi die druiwe in die vrieskas en pak ’n trossie of twee soggens saam die res van die kosblikitems in.

Teen pouse het die druiwe ontvries, en sodoende het jy vrugte gekoop wat ʼn langer raklewe het én ’n glimlag op die kleinding se gesig sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Als goed en wel, maar SA se temperatuur in somer is glad nie goedgesind teen enige tipe van vleis, kaas en of jogurt nie. Kinders moet hulle tas en kosbliksak buite die klaskamer los, met gevolg dat miere daarin klim. Maak nou nie saak hoe lugdig die houer is nie.
SA sal moet begin dink aan beter opsisies om kinders, veral. laerskool kinders te voorsien van ‘n kafeteria. Dis nie ‘n onmoontlike uitgang nie. Soveel skole het reeds snoepies, maar ons sal veeleerder lekkergoed verkoop as kos vir die kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.