Pandemie tref Tassie-projek swaar

skooltassie.jpg

(Argieffoto)

Solidariteit Helpende Hand kan vir 2022 die helfte minder graadeens met ʼn volgepakte skooltassie toerus as twee jaar gelede vóór die Covid-19-pandemie uitbreek het.

In 2019 kon Helpende Hand deur sy Tassie-projek sorg dat 4 000 graadeens hul skoolloopbane op ʼn gelyke speelvlak as hul klasmaats begin. Toe tref die pandemie in 2020, en weens finansiële druk by skenkers kon daar slegs genoeg geld vir 3 000 tassies bymekaargeskraap. Die uitkringeffek word nou nog gevoel, en tans is ʼn redelike teiken vasgestel om ten minste 2 000 tassies vir 2022 te befonds.

“Ons kan in al ons projekte, van die Tassie-projek tot ons voedingskemas, sien hoe die behoefte gegroei het. Dus moes ons ʼn drastiese plan maak en ons aansoekproses verfyn en op ʼn maatskaplike aanslag begin assesseer. Tans het elk van die 2 000 tassies al ʼn adres, ʼn naam, ʼn leesboekie en skoolskoene. Maroela Media en Pretoria FM is ons ook goedgesind en help ons om die woord te verkondig,” sê Margolé Riekert, projekorganiseerder van die Tassie-projek.

Die Tassie-projek is een van Helpende Hand se vlagskipprojekte, en dit sit sedert 2007 ʼn tassie, toegerus met hoëgehalteskryfbehoeftes, in ʼn hulpbehoewende graadeentjie se hand. Daar word gereeld navorsing gedoen om seker te maak dat die inhoud relevant tot graadeens se behoeftes is. Die inhoud van die skooltassies sluit onder meer die volgende in: ʼn Christelike boekie, uitdraaikryte, ʼn legkaart, inkleurpotlode, grys potlode, ʼn liniaal, ʼn skerpmaker, ʼn skêr, ʼn uitveër, gom, ʼn pennesakkie en penne. Die totale koste van ʼn tassie is R400.

Helpende Hand se Tassie-projek vir graadeens help kinders al vir jare om die skooljaar op ‘n gelyke voet af te skop. (Argieffoto)

Die titel van die Christelike boekie is Die Wit Rokkie, en dit verduidelik op ʼn maklik verstaanbare trant wat Jesus Christus vir die mens gedoen het.

Nog ʼn item wat vir die eerste keer deel van die skooltassies gaan uitmaak, is skoolskoene. Solidariteit Helpende Hand en My Walk snoer kragte saam om te verseker dat elke graadeen sy of haar skoene volstaan. Baie Suid-Afrikaanse leerders het geen skoene nie en gaan kaalvoet skool toe, selfs op koue wintersoggende. My Walk het met die unieke oplossing vorendag gekom om gebruikte, gesaniteerde PVC-IV-sakkies, suurstofmaskers en gepaardgaande buise wat vir stortingsterreine bestem is, te herwin en daarmee hoëgehalteskoolskoene te vervaardig. Die skoolskoene is 100% herwinbaar, met die uitsondering van die veters.

“Alhoewel die druk bestaan om die Tassie-projek te staak, gaan dit nie gebeur nie. Ons sal net harder werk om die geld in te samel, want ons weet skoolonderrig is nodig om armoede te verbreek, en dit bied die volgende generasie die geleentheid om vorentoe te beweeg – toegerus met ʼn skooltas en gewapen met die woord van God,” sê Riekert.

Die publiek kan só help om die projek se voortbestaan te verseker en Helpende Hand in staat te stel om meer graadeens by te staan:

  1. Besoek die webtuiste www.tassie.co.za, en skenk ʼn tassie of tassies.
  2. Indien jy op ʼn meer volhoubare wyse betrokke wil raak, stuur ʼn SMS met die woord “TASSIE” na 45763. ʼn SMS kos R2.
  3. Stuur ʼn SMS met die woord “TASSIE”, jou sakeonderneming se naam en die hoeveelheid tassies wat jy wil borg na 45763. ʼn SMS kos R2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elmarie ·

Orals is die behoefte groot. Ek kry amper daagliks eposse en boodskappe of oproepe van hulp wat gevra word. Wens ek kon elkeen help en ek hoop maar mense sien die raak en help. Persoonlik sal ek maar moet kyk na einde Nov en HOOP ek kan iets doen

Francois Le Cochon ·

Ek’s in! Dit is een Vrydagaand se “takeaways” wat ek kan prysgee! Soos hulle se^, “an open hand is never empty”. Ek het al n’ R11,000 gewen in lotto en was baie bly. Toe van die geld gevat en 3 fietse vir behoeftige kinders gekoop. Hul blydskap was vir my by verre meer as wat die R11,000 my gegee het. Ek daag alle MM lesers uit om ook ‘n tasssie te koop.

SJM ·

Ek is ook in. R400 vir n kind se toekoms is nie vir my op die stadium van my lewe baie nie. Gaan lees gerus op die webwerf hierbo aangedui meer oor die projek en maak self die besluit of jy kan en wil bydra of nie. Indien jy nie kan nie vertel vir iemand wat kan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.