Plaaslike entrepreneurs wil laerskoolleerders inspireer

alta-strauss

Alta Strauss. Foto: Verskaf.

Deur Leandie Bräsler

AfriForum Onderwys en AfriVriendelik wil sowel volwassenes as kinders aanmoedig en inspireer om daar waar hulle is, ’n verskil in die gemeenskap te maak. Deur jou vaardighede as entrepreneur te ontwikkel, kan jy moontlik eendag ’n werkgewer wees wat ’n verskil maak deur werk te skep. Jy leer ook om selfstandig en onafhanklik te wees van iemand wat vir jou werk moet gee. Kinders moet besef dat hulle ook eendag “die baas” kan wees – mits jy hard aan jou idees en die uitvoering daarvan werk.

AfriVriendelik en AfriForum Onderwys het ’n bietjie gaan naslaan oor van ons land se jongste en mees dinamiese entrepreneurs wat suksesvol is in wat hulle doen. Ons het ook met twee van hierdie entrepreneurs, Alta Strauss en Albert van Wyk, gesels om te hoor wat hulle dryf om aan te hou doen wat hulle doen. Albei hierdie inspirerende individue gaan ook vanjaar as beoordelaars vir AfriVriendelik en AfriForum Onderwys se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie vir laerskoolleerders optree.

Alta Strauss is ’n motiveringspreker, skrywer, blogger en filantroop, terwyl sy ook ’n klerereeks onder haar eie naam ontwerp.

Albert van Wyk is reeds vanaf die ouderdom van 22 ’n selfgevestigde voltydse entrepreneur, hoewel hy ’n gekwalifiseerde industriële ingenieur is. Sy hoofondernemings sluit sy eie onderneming Gazzaroo in, asook eiendomsbeleggings. As een van die jongste miljoenêrs in Suid-Afrika het Albert ’n passie om terug te gee aan die jeug in ons land, asook om hulle te bemagtig deur finansiële opvoeding.

Albert van Wyk. Foto: Verskaf.

Wanneer het jy besluit om ’n entrepreneur te word?

Alta Strauss (AS): Entrepreneurskap is iets waaroor ek nog altyd passievol was. Ek het op ’n plaasdorpie grootgeword en ek dink dit noop jou om meeste van die tyd nie net buite die boks te dink nie, maar te dink asof daar nie ’n boks is nie. Kreatiewe probleemoplossing speel ’n enorme rol in entrepreneurskap en dit is iets wat baie natuurlik vir my kom en wat ek geniet. Ek sien uitdagings as geleenthede om myself te strek en te neem na nuwe hoogtes, eerder as probleme.

Albert van Wyk (AvW): Toe ek tien jaar oud was, het ek besluit om ’n entrepreneur te word. Ek het van kleins af, toe ek nog op laerskool was, klein besighede begin en reg deur hoërskool en universiteit besighede gehad.

Wat is daardie een belangrike aspek wat jou gedryf het om ’n entrepreneur te word?

AS: Dis fantasties om jou passie ten volle uit te leef! Soveel meer as jy ’n behoefte kan vervul en boonop ’n inkomste daardeur genereer.

AvW: My dryfkrag het deur die jare verander. My eerste hupstoot tot entrepreneurskap was om geld te kon maak sodat ek speelgoed kon koop vir myself, asook om snoepiegeld te kon hê. Later jare was my dryfkrag om nie ’n werknemer te wees wat van vroegdonker tot laatdonker werk nie, maar om vry te kan wees om my tyd te bestee soos ek wil. Tans is daar twee elemente wat my dryf: 1.) Om in ’n beter finansiële posisie te wees as waarin ek grootgeword het; en 2.) Om die jeug van Suid-Afrika te help om die regte finansiële konsepte te verstaan en onder die knie te kry.

Hoe het jy aan die idee vir jou besigheid gekom?

AS: Ek was besig om my boeke te doen, toe ek sien hoeveel ek op uitrustings spandeer. Ek het net daar en dan besluit om hierdie uitgawe in ’n inkomste te om te swaai.

AvW: Ek het verskeie besighede, maar nie een van hulle het ontstaan as gevolg van ’n spesifieke idee nie. My besighede het ontstaan deur die kombinasie van my omgewing, my vaardighede en geleenthede beskikbaar. Ek glo nie noodwendig in ’n spesifieke idee nie, maar eerder in vindingrykheid.

Hoe het jy oor die naam vir jou besigheid besluit?

AS: My klerereeks is onder my naam, want ek sien dit as ’n verlenging van myself en wie ek is.

 Hoe het jy jou onderneming befonds toe jy daarmee begin het?

AS: Ek het besluit om geen skuld aan te gaan nie en eerder maandeliks geld weg te sit om die insetkoste te verseker en dit van daar af stelselmatig op te bou. Dit het my die geleentheid gegee om meer vertroud te raak met dié nuwe uitdaging en saam met die besigheid te groei.

AvW: Met my huidige aanlyn mediabesigheid en my boek Millionaire at 22 het ons geen befondsing gehad nie en ons het letterlik met niks begin nie. Ek en my vennote het in my kamer die besighede begin met harde werk, laat nagte en die vaardighede wat ons gehad het.

 Hoe het jy ’n suksesvolle kliëntebasis gebou?

AS: Ek glo dat alhoewel ’n webtuiste en sosiale media ’n groot rol speel, is persoonlike getuienisse steeds die doeltreffendste bemarking. Dit bring ook beslis ’n meer lojale kliëntevolging mee.

AvW: Ek het tradisionele metodes gebruik en van deur tot deur geloop, en konstant met mense genetwerk en gebel. My besighede het gegroei as gevolg van goeie diens, waarna kliënte ons by monde van (by word of mouth) verwys het.

 Hoe adverteer jy jou besigheid en watter taktiek is die suksesvolste?

AS: Daar is ongelooflike krag in assosiasie, om nie net aan mense ’n produk te verkoop nie, maar eerder ’n leefstyl – daardie droom wat al van kleinsaf saam met jou kom.

AvW: Tans is ons suksesvolste bemarkingstegniek sosiale media.

Enige raad wat jy het vir jong entrepreneurs (Besigheidsbytjies)?

AS: Leer om die potensiaal in geleenthede te sien waar ander niks sien nie. Wees passievol oor alles wat jy aanpak en neem eienaarskap en verantwoordelik vir jou projek. Poog voortdurend om jou produk of diens te verbeter en moenie bang wees om te waag nie, want jy gaan eendag net die geleenthede wat jy nooit met totale oorgawe aangegryp het nie, berou. Gaan jy foute maak? Absoluut, maar die enigste mislukking is ’n fout waaruit jy niks geleer het nie.

AvW: Entrepreneurskap behels nie noodwendig dat jy ’n nuwe, unieke en oorspronklike idee of besigheid hoef te begin nie. Jy kan gebruikmaak van bestaande idees en daardie idee beter voorlê of die diens beter lewer deur iets uniek aan te bied wat die ander bestaande besighede nie doen nie.

besigheidsbytjies-ekaart

Grafika: Verskaf.

Kompetisie vir jong entrepreneurs

Vanjaar het AfriVriendelik en AfriForum Onderwys besluit om saam te werk en ’n kompetisie – Besigheidsbytjies – vir junior entrepreneurs van stapel te stuur. Laerskoolleerders kan in twee kategorieë inskryf: graad 1 tot 3 (7- tot 9-jariges) en graad 4 tot 7 (10- tot 13-jariges). Met hierdie entrepreneurskompetisie wil ons kinders beloon wat wys dat hulle selfstandig kan werk en kreatief kan wees om idees in ’n besigheid te omskep.

Die doel is ook om jong kinders se entrepreneuriese vaardighede van vroeg af te ontwikkel. Laerskoolleerders van oor die hele land sal vir die beste produkidee en basiese vaardighede meeding om hul produk suksesvol te ontwikkel, te bemark en te verkoop. Die publiek sal vir die topsesspanne stem, waarna ’n paneel die wenners sal aanwys.

AfriForum Onderwys glo die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie sal ook leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms, en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou.

Alle laerskoolleerders landwyd kan vir die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie inskryf. Inskrywings open 5 Augustus en sluit 26 Augustus 2019. Alle inskrywings vind aanlyn plaas by www.besigheidsbytjies.co.za. Die publiek sal gedurende Septembermaand geleentheid kry om aanlyn vir hulle gunstelingentrepreneur te stem – hul stemme tel 50%. Die beoordelaars sal ook geleentheid kry om deur die loop van September die inskrywings te beoordeel – hul beoordeling tel die oorblywende 50%.

Die wenners van hierdie kompetisie sal op 1 Oktober 2019 op alle sosialemediaplatforms aangekondig word. Pretoria FM tree met trots op as mediavennoot vir vanjaar se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie.

Besoek gerus www.besigheidsbytjies.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veer ·

Ek het tog ‘n ALTA STRAUS nommertjie, ‘n tydloos en stylvolle nommertjie wat elke maal die komplimente laat instroom :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.