Pleegsorg: Wees só deel van die helende proses

pleegsorg

Foto: Pixabay.com

Daar is soveel kinders in ons land wat smag na liefde en ʼn veilige hawe, maar as dit kom by pleegsorg, wil dit lyk asof al hoe minder mense bereid is om hul harte en huise vir kinders oop te maak. Volgens Solidariteit Helpende Hand het pleegsorg in Gauteng sedert 2013 afgeneem met 13% en landwyd met 10%.

Isabel Faurie van Helpende Hand se kantoor vir maatskaplike werk, meen daar is verskeie redes vir dié afname, onder meer dat bewusmaking soveel minder is as in die verlede en dat die behoefte ook soveel groter geraak het.

“Ek dink die syfers het afgeneem as gevolg van die feit dat maatskaplike werkers in die verlede meer tyd gehad het om pleegouers te gaan werf. Die druk het nou soveel groter geraak dat hulle nie meer die tyd het nie.”

Isabel sê daar is soveel kinders wat ʼn liefdevolle huis soek, en dat mense nie bang moet wees om pleegsorg te oorweeg nie. “Vergeet van die massa, as jy kan fokus op een kind wat deur trauma is en jy kan ʼn rol daarin speel om daardie kind weer heel te kry, dan is dit die moeite werd.”

Pleegsorg beteken dat ʼn kind tydelik uit sy ouerhuis verwyder word as gevolg van slegte omstandighede. “Pleegsorg is ʼn wetlike ingryping wat deeglik omskryf word in artikel 150 in die Kinderwet, wat bepaal wanneer ʼn kind mishandel of verwaarloos word. Die kinderhof bevind wanneer ʼn kind sorgbehoewend is, en of die kind kwalifiseer om in pleegsorg te gaan.”

Sy meen dat dit net tydelik is en dat kinders normaalweg vir twee jaar in pleegsorg is voordat daar weer na die biologiese ouers se omstandighede gekyk word. Wanneer die kind nie in die biologiese ouers se sorg teruggeplaas kan word nie, word die kind vir nog twee jaar by die pleegouers geplaas. “Met pleegsorg word die biologiese ouers se regte tydelik ingeperk, maar met aanneming word biologiese ouers se regte afgeteken. “

Isabel sê die doel van pleegsorg is om kinders te herenig met hul biologiese ouers, indien moontlik, maar dat jy as pleegouer ʼn geweldige belangrike rol in die kind se lewe speel. “Jy is deel van die kind se helende proses.”

Dis beslis ʼn groot verantwoordelikheid om as pleegouer in te staan, en die hele proses kan ʼn mens ook afskrik, maar dis juis oor dié rede dat Helpende Hand ʼn platform daargestel het om die pad ʼn klein bietjie makliker te maak. Isabel sê dat jy as pleegouer goed voorberei word en dat potensiële pleegouers ook die nodige ondersteuning ontvang.

Indien jy pleegsorg oorweeg, besoek gerus www.pleegsorg.co.za, ʼn webwerf wat jou vrae kan beantwoord. Jy kan op dié webwerf ook registreer sodat Helpende Hand jou in kontak kan bring met die regte mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Laurika ·

Omdat ek grootgeword het met pleegkinders in ons buurt waarmee ek maats was, was dit altyd my droom om self ‘n behoeftigde kind in pleegsorg te neem wanneer ek eendag kan.
Ek het dit wel gedoen. Maar kyk, om ‘n 11 jarige meisiekind wat deur hel was, by te staan en groot te maak is geen grappie nie.
Ek het op daai stadium twee van my eie gehad – 5 en 7 jaar oud. Hul het uit hul eie mekaar begin boeta en sussa noem, en ek was Moeksie.
Maar as enige een dink dat dit maanskyn en rose gaan wees.
Ek kan vir julle ‘n boek skryf oor my ondervinding maar ek sien jul blad vra vir 250 woorde en nie meer nie. SO baie dinge wat gebeur het. Ek is selfs my eggenoot en menswees kwyt. Maar as jy my vra of ek dit weer sal doen, ek glo so.
Ek is ‘n baie sterk mens, maar het self soms gevoel ek breek.
Moet so ‘n besluit nooit ligtelik opneem nie.

dewald ·

ek en my vrou probeer nou al meer as 5 maande om n kleinding vir pleeg sort te kry.Die welsyn seekers in Rustenburg is ongeskik en onbehulp saam.Hul sal liewer dat n kind by die welsyn bly voor hul n kind in pleeg sort sal sit by ouers wat graag nog n kleintjie wil he

Tania Combrink ·

Hi Dewald jy kan gerus aan ons ‘n epos stuur by [email protected]. Ons is ‘n organisasie wat hulp en bystand aan pleegouers en voornemende pleegouers verleen.

Naas Botes ·

Isabel, ons het dit sterk oorweeg om pleegsorg te doen. Ons het vir ‘n wyle 3 sussies by ons gehad, en ons kleindogter is ook in ons sorg.
Die uiteindelike uitkoms vir ons was om die kinders terug te laat gaan na die kinderhuis, waar hulle voorheen was. Ons dink dat dit dieselfde dilema is waarin ander pleegouers hulself partykeer bevind, en dit skrik meeste mense af om dan weer te probeer om kinders te help. Leuens, steel en klikkiebek speel is soos ons dit kon sien, die primere ding wat kinders aanleer wat uit verwaarloosde omstandighede en kinderhuise kom. Ons sou bitter graag kinders wou help, maar beslis nie ten koste van ons eie kleinkind se opvoeding nie. Ons wens dat die situasie anders was, maar met ons omswerwing met ander wat ook pleegsorg doen, blyk dit dat in meeste gevalle dieselfde probleem orals sy kop uitsteek.
Kontak my asb sodat ons kan praat hieroor, want ons het in Middelburg nie die ondersteuning gekry soos wat ons moes kry nie. Ons het baie uitgawes aangegaan vir die kinders (R6000 in 4 weke), en baie drama.
My naam is Naas Botes. Selnr is 083 462 2465.
Baie dankie, en hoop om gou van jou te hoor.

Madelein ·

Wat meeste mense nie besef nie is dat al hierdie kinders veskriklik baie liefde en aandag nodig het! Hulle het nie iemand nodig wat hulle dadelik wil probeer druk om soos hulle eie kinders te wees nie, omthou net daai kinders het meestal in haglike omstandighede grootgeword en nie dieselfde liefde en aandag as jou eie kinders gehad nie, hulle smag daarna en is soms moeilik juis om aandag te kry. Ek het al teveel gesien dat somige pleeg ouers meer skade as goed aan daai kinders doen, maar welsyn kyk net ander pad omdat daar so min mense is wat bereid is om kinders in te vat.

Belinda ·

Dis nie maklik met ‘n kind in pleegsorg nie veral as die ouers probleme is. Onstig mens se familie en veroorsaak baie probleme mense is maar skrikkerig. Sal dit nooit weer doen nie en ons kind het gebly by ons tot sy getroud is. En ons het elke dag nog kontak met haar en haar dogtertjie.

Bets Bothma ·

Al wil ek HOE graag help, kan ek nie. Is ouma van 3 en werk voltyds, amper 7dae per week(in eie besigheid), en ek dink dis meeste huisgesinne se probleem, want meeste pleegkinders het ekstra aandag nodig en dis alreeds vir huisgesinne moeilik om te oorleef, tyd en geld – dat dit onmoontlik raak om pleegouers te wees. Ons het 1x dit probeer en die 6jr seun het my man se bakkie se sitplekke vol gate gesteek omdat my man ook aandag gegee het aan ons eie 4jr oue kind. So jammer, so moeilik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.