Praktiese planne vir geldslim gesinne

Kenners sê sodra ’n kind kan tel, is hy of sy gereed om die geheime van geld te begin ontdek. (Foto: iStock)

“Geld groei nie aan bome nie!” Dit het ek kleintyd tot vervelens (en irritasie!) toe gehoor. As ek egter die horlosie 47 winters kon terugdraai, sou ek my blou BMX vir ’n oomblik parkeer en my ore vir dié waardevolle wysheid spits.

Met drie tieners in die huis wil ek dikwels die geldhanddoek ingooi, elke kaart in die huis stukkend knip en ’n stokkie voor elke sent steek. Dan moet ek myself opnuut herinner: Om jou kinders die waarde van geld te leer (hoe vroeër, hoe beter!) sal jou nie net eindelose gryshare en ’n geneul spaar nie, maar dié “inkoop” is ’n onmeetbare en onweegbare geskenk vir die volgende geslag.

  1. Begin klein

Kenners sê sodra ’n kind kan tel, is hy of sy gereed om die geheime van geld te begin ontdek.

  • Leer jou kind om ’n basiese begroting op te stel met sakgeld as inkomste en lekkergoed by die winkel of snoepie as uitgawe. Laat jou kind sy of haar begroting neerskryf, en gebruik (aanvanklik) munte en note sodat jou kind fisies kan sien hoe die geld meer én minder raak.
  • Besluit op ’n vaste bedrag vir sakgeld en moenie dit sommerso deur die loop van die maand “aanvul” nie. Dit sal jou kind leer dat jy nie meer kan bestee as wat jy “verdien” nie.
  • Laat jou kind sélf by die winkel betaal. Deur met sy of haar eie geld te betaal, laat hom of haar enersyds goed voel, en andersyds dink ’n mens twee keer voordat jy iets koop as dit nie uit Pa se beursie kom nie.
  • Open ’n bankrekening vir ouer kinders. Só leer hulle van rente en waarom jy moet spaar totdat jy iets duurder kan bekostig.
  1. Betrek die hele gesin

Gesels openlik oor geldsake by die etenstafel. Jy hoef nie die fynere rand-en-sent-besonderhede te deel nie en dit moenie spanning by die kleinspan skep as dinge swaar gaan nie, maar dit moet ’n bewustheid skep van die belangrikheid van verantwoordelike besluitneming.

  • Verduidelik dat die gesin net soos ’n sakeonderneming werk en dat almal moet saamstaan om dit ’n sukses te maak, hetsy deur onnodige uitgawes uit te skakel, of deur geld vir onvoorsiene uitgawes weg te sit.
  • Vertel hulle hoe skuld werk (byvoorbeeld die huis en motors) en dat daar sekere uitgawes is wat die gesin elke maand móét betaal, soos die mediese fonds en skoolgeld.
  • Beplan én begroot saam vir gesinsvakansies en selfs eenvoudige dinge soos uiteet en fliek. As hulle voel hulle het tot iets “bygedra” of vir iets “gewerk”, is die ervaring nog meer spesiaal.
  1. Skep geldmaakgeleenthede

Daar is niks so lekker as om dinge saam as gesin te doen nie. Leer jou kinders dat daar ruimte is om hul sakgeld aan te vul (benewens die huistakies waarmee hulle iedergeval móét help sonder ekstra vergoeding).

  • Hou ’n markdag in die tuin waarvoor elkeen iets self moet maak en verkoop. Gee vir elkeen in die gesin (Ma en Pa inkluis!) ’n vaste bedrag wat gebruik mag word vir bestanddele (soos vir kolwyntjies). Leer hulle dat dit ’n sekere hoeveelheid geld kos om iets te maak en dat jy dit teen ’n wins moet verkoop. Laat elkeen ’n “stalletjie” beman en gee vir elkeen ’n paar rand om by die ander stalletjies uit te gee. Nooi familie en vriende om julle markdag by te woon. Dis ’n eenvoudige en lekker les in entrepreneurskap! Beloon die een wat die grootste wins getoon het.
  • Leer jou kind dat julle baie kan spaar deur dinge self te doen (soos om die motor te was, gras te sny of verfwerkies te doen) en dat hy of sy só ’n ekstra geldjie in die sak kan steek. Gestel dit kos R100 om die motor te laat was. Sê vir jou kind jy bied hom R50 aan om die motor (saam met jou!) te was en sit die R50 wat jy spaar in ʼn glasbottel wat jy “Vakansie” of “Uiteet” merk. Die kind verdien ekstra geld én dra by tot iets lekker vir die hele gesin (en dit kos jou nie ’n sent meer as wat jy in elk geval by die karwassery sou uitgee nie). Spuit mekaar nat en gesels kopstukke oor die week se dinge.
  1. Leer die waarde van saai

Beplan en begroot saam as ‘n gesin en skep geldmaakgeleenthede. (Foto: iStock)

’n Mens kruip so maklik in ’n dop van selfsug as dit by geldsake kom. Daarom is dit belangrik om jou kind van kleins af te leer om vir ander (om) te gee. Nie by die verkeerslig of sommer links en regs vir maatjies nie, maar rég gee.

  • Besluit saam oor watter persentasie van sy of haar sakgeld gebruik moet word om in ander se lewens te saai. Gestel dit is 10% van R100. Laat jou kind die R10 eenkant hou en besluit of hy/sy dit elke maand wil saai of wag totdat dit R120 is om aan die einde van die jaar ’n groot verskil te maak.
  • Identifiseer ’n organisasie waarby jou kind aanklank sal vind. As hy of sy lief is vir diere, besoek ’n plaaslike diereskuiling of die DBV. Wys jou kind hoe dit daar lyk en wat werklik nodig is om ’n verskil te maak. Laat jou kind byvoorbeeld self die kos of kombers koop en oorhandig. Neem ’n foto en sit dit teen die yskas op ’n plakkaat wat sê: Ons maak ’n verskil!
  • Raak saam betrokke by ’n projek soos Solidariteit Helpende Hand en Maroela Media se Bemagtig-’n-kind-projek, of Helpende Hand se Kosblikkie- of Skooltassieprojek. Laat jou kind saam met jou op die internet rondsnuffel en oplees. So leer én sien die kind meer oor ander se swaarkry, met hoe min ander oor die weg (kan) kom en lewer julle ’n bydrae waar dit saak maak.
  1. Stel ’n goeie voorbeeld

Kinders doen nie noodwendig wat ons sê nie, maar doen wat ons dóén. Stel daarom ’n voorbeeld van verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid.

  • Gee jy sommer net geld uit op onnodighede (verkeersboetes tel ook!), of hou jy self streng by ’n begroting?
  • Kan elkeen enigiets van ’n spyskaart af bestel, of besluit julle vooraf: vanaand gaan ons burgers eet en elkeen mag een koeldrank bestel?
  • Leer jou kinders dat skuld (en die rente daarop) sleg is en dat dit veel beter is om bietjie langer te wag en te spaar om iets soos ’n nuwe televisie of rusbank kontant te koop.
  • Is jy dankbaar oor jou werk en inkomste (al droom jy dalk oor iets anders of beter), of kla jy net steen en been oor jou werkgewer en die lang ure?
  • Leer jou kinders dat hul identiteit nie aan materiële dinge gemeet (moet) word nie en dat ander mense en maats se besittings en besluite húlle saak is en van julle s’n kan verskil.

Ofskoon almal hulle sente drie keer moet omdraai te midde van die onsekere werk-en-geld-wêreld, moet ons oppas om nie ons kinders onder ons geldjuk staan te maak nie. Ons moet hulle toerus om as aandeelhouers in die gesin se finansiële welstand eienaarskap te neem – positief én prettig – al besef hulle eers die waarde van dié les ná 47 winters.

  • Dié artikel is nie daarop gemik om as finansiële raad te dien nie, maar is wel ’n pa van drie tieners se praktiese wenke om haarklowery oor finansies hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.