Private skool belê miljoene in e-sportarena

Die rekenaarlaboratorium is toegerus met ʼn totaal van 30 Asus Republic of Gamers (ROG)- rekenaars, skerms en spesiale stoele. (Foto: Centennial Schools/Facebook)

Centennial is ʼn nuwe private skool wat in Januarie vanjaar in Sunninghill, Gauteng, sy deure geopen het. Wat dié skool besonders maak is dat dit oor ʼn e-sportarena ter waarde van R3 miljoen beskik, waar leerders hulself vir die kompeterende wêreld van aanlyn speletjies kan voorberei – en dít nogal in skooltyd.

Die e-sportarena is tans die grootste van sy soort in Afrika. Die rekenaarlaboratorium is toegerus met ʼn totaal van 30 Asus Republic of Gamers (ROG)- rekenaars, skerms en spesiale stoele. Verder spog die laboratorium met ʼn 1 Gbps optiese veselverbinding met kragopwekkers wat die rugsteunstelsel sal onderhou terwyl daar beurtkrag is.

Dit beskik ook oor ses Xbox-motorwedren-simulators met behoorlike resiessitplekke vir leerders om speletjies soos Forza en Formula 1 te speel.

Boonop spog die arena met ʼn sitkamer waar toeskouers kan ontspan en al die aksie van die aanlyn speletjies op 70”-duim televisieskerms kan volg.

Die laboratorium het ook nog ʼn ateljee waar podsendings opgeneem kan word en waar die leerders kan leer om e-sportkommentators te wees.

Centennial bied leerders boonop bykomende kursusse soos videoverwerking en -redigering en leer hulle om bemarkingsmateriaal asook musiekkomposisies te skep.

Dié skool volg die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se kurrikulum, maar daar word gefokus op klasse vir kodering. Leerders word geleer hoe om sosiale media te gebruik, asook kripto-geldeenhede en blokkettingtegnologie. Verder volg hulle ʼn uitgebreide Microsoft-sagtewarekursus, wat leerders ook voorberei vir opleiding in die toekoms.

Die laboratorium beskik ook oor Xbox-motorwedren-simulators met behoorlike resiessitplekke vir leerders om speletjies soos Forza en Formula 1 te speel. (Foto: Centennial Schools/Facebook)

Klaskamers by Centennial word leersentrums genoem en beskik oor staande lesenaars, boontjiesakke, sitplekke op verskillende vlakke en mobiele lessenaars. Daar is geen tradisionele voorkant in die klas nie.

Daar is ook kreatiewe raadsale waar leerders kan saamwerk en idees uitruil. Leerders word aangemoedig om lede vir die leiersraad te kies wat nie noodwendig in matriek is nie.

Klaskamers by Centennial word leersentrums genoem en beskik oor staande lesenaars, boontjiesakke, sitplekke op verskillende vlakke en mobiele lessenaars. Daar is geen tradisionele voorkant in die klas nie. (Foto: Centennial Schools/Facebook)

Volgens Business Insider is die skool deur Shaun Fuchs en sy vennote is ontwikkel omdat hulle glo leerders moet vir die digitale wêreld voorberei word.

Fuchs spog met 31 jaar se ondervinding in die onderwyssektor. Hy was die besturende direkteur van Reddam House-skole, algemene bestuurder van Crawford College en die Centurus College-groep en skoolhoof by Crawford Lonehill.

Die bestuur van die groep Centennial-skole meen dit het in die laaste dekade duidelik geword hoe ver tradisionele onderrigmetodes agter geraak het en die Covid-19-pandemie en inperkings het die behoefte vir verandering in die sektor volledig in die kollig geplaas.

Fuchs en sy vennote het ʼn hoërskool ontwikkel waar leerders nie skooluniforms dra nie en waar hulle ook nie ʼn toelatingseksamen hoe af te lê nie.

Voornemende leerders moet wel ʼn onderhoud met die hoof vir keuring aflê. Leerders leer met behulp van Microsoft-sagteware en moet ʼn Asus-skootrekenaar aanskaf om klasse te kan bywoon.

Leerders wat e-sport by dié skool doen moet ook ʼn fisieke aktiwiteit doen om hulle tyd aanlyn uit te balanseer.

Centennial glo e-sport is nie net spreekwoordelike kinderspeletjies nie, maar dra daadwerklikheid by tot die ontwikkeling van vaardighede soos strategiese denke en beplanning, bestuursvaardighede, tydsbestuur, en leer leerders boonop om te netwerk en hulle sosiale vaardighede op te knap.

Die skoolgeld vir ʼn Centennial-skool is:

  • ʼn Nie-terugbetaalbare aansoekfooi van R800 en ʼn inskrywingsfooi van R5 000.
  • Klasse vir gr. 7 tot 9 is R94 200 per jaar of R7 850 per maand.
  • Klasse vir gr. 10 tot 12 kos R106 200 per jaar of R8 850 per maand.
  • Leerders moet Asus-skootrekenaars van R12 000 aanskaf vir klasse.

Die klasgeld vergelyk goed met ander private skole wat tans in die omgewing van R133 480 tot R175 000 per jaar vir ʼn kind se hoërskoolopleiding beloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Wonderlike instelling.In moeilike ekonomiese tye is dit egter ondenkbaar dat Jan Publiek nog so-iets kan bekostig tog lyk dit haalbaar vir baie

Harley Davidson ·

Die privaat skole waar die ANC ministers se kinders skoolgaan terwyl daar beplan word om staatskole te vernietig veral die Afrikaanse skole met hulle bela wet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.