Propvol kinderteaterprogram by Ou Meul in Paarl

Kanoeksie-en-Kadoeksie-mense-wat-ons-help

Kanoeksie en Kadoeksie, die twee oulike elfies, is hierdie Vrydag by die Ou Meulteater in die Paarl te sien. Foto: Verskaf.

Is jy in die Paarl en wonder jy hoe om die jongspan besig te hou tot die skole weer oopmaak? Dan is die Ou Meulteater se kindertoneelstukke dalk net die antwoord vir jou.

Op Vrydag 9 Januarie is Kanoeksie en Kadoeksie – Mense wat ons Help op die planke te sien. Die twee elfies is terug en hierdie keer neem hulle die gehoor op ʼn prettige reis, waar kinders meer ontdek van verskillende beroepe en uitvind dat elkeen van ons ʼn belangrike plek in die lewe het.

Anél Skye, Ulrike Vorndan en Chrizane Kellerman is in die produksie te sien, wat Vrydagoggend om 10:00 begin.

Op Vrydag 16 Januarie kan die jongspan weer nader skuif vir Gaerin Haptfleisch se verwerking van die Grimm-broers se klassieke sprokie, Rooikappie en die Wolf. Soos in die sprokie dwaal Rooikappie van die pad af as sy medisyne vir haar siek ouma neem en verdwaal sy in die bos. Hier kom sy Dolf, die woeste wolf teë, wat blitsvinnig ʼn plan smee om haar en haar siek ouma as smaaklike happies te geniet met ʼn sopie plantwortel jenewer, want hy hou daarvan só.

Gaerin-Hauptfleisch-se-Rooikappie-en-die-Wolf.jpg

Gaerin Hauptfleisch se verwerking van die klassieke sprokie, Rooikappie en die Wolf, beloof om gehore te bekoor. Foto: Verskaf.

Gehore sal dan maar moet sien of die houtkapper en van die ander bosbewoners wat Rooikappie teëkom haar en haar ouma kan red van Dolf die Wolf se onderduimse planne.

Hauptfleisch behartig ook die regie en is al bekend vir sy prettige “panto-mini’s” soos Aswoestertjie en Sneeuwatjie? Die ander lede van die gedugte akteurspan is Elanza Swart, Dean van der Ventel, Hein Poole en Stephanie Badenhorst wat al vele kindertoneelstukke op hulle gesamentlike kerfstok het.

Dié vertoning begin ook om 10:00 en die kaartjies is R45-00 per persoon.
Besoek www.oumeulteater.co.za vir meer inligting of om besprekings vir die vertonings te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.