Raad vir eerstejaars: Koshuis, kommune, of woonstel?

Argieffoto (Foto: StockSnap/Pixabay)

Deur Paul Maritz

Begin jy in 2019 met jou studies? Een van die belangrikste besluite is om te bepaal waar jy jou kop elke aand ná harde studies en aktiewe studentebetrokkenheid gaan neerlê.

Is jy uitgeknip vir die geroer van die koshuislewe met al sy energie, of verkies jy die spasie en vryheid van jou eie plek? Miskien val jy êrens tussen die twee en sal ʼn kommune die nommerpas oplossing vir jou wees. Hier is ʼn paar voordele en nadele van hierdie drie opsies:

Koshuis

Voordele:

  • Netwerk, netwerk, netwerk! Jou koshuisvriende word jou lewensvriende, veral as mens ʼn paar jaar op dieselfde gang of selfs in dieselfde kamer woon.
  • Prys! Koshuise is verreweg die goedkoopste behuising wat jy sal kry omdat die universiteite in meeste gevalle ʼn subsidie daarvoor gee.
  • Afstand: Omdat koshuise gewoonlik op kampus is, is jy dikwels slegs ʼn paar minute se stap van jou klasse af, wat baie gerieflik en baie ekonomies is.
  • Deelname aan ʼn reeks aktiwiteite: As jy lief is vir serenade, rugby, debat, of leierskapsgeleenthede soos komitees en rade is die koshuislewe ideaal vir jou. Jy kan jouself na hartelus uitleef in die gange van jou tydelike paleis!

Nadele:

  • Aandagafleibaarheid: As jy weet dat jy maklik afgelei word van jou werk, is die koshuislewe dalk nie die beste opsie nie, juis omdat daar baie afleidings is wat jy kan doen wanneer jy nie wil studeer nie.
  • Verwagting om deel te neem: As jy weet dat jy nie regtig hou van spanaktiwiteite nie kan die koshuis jou frustreer, juis omdat jou huismaats verwag dat jy moet deelneem.
  • Besoekersgeleenthede: In ʼn koshuis sal jy nie sommer meer as twee besoekers op een slag mag kry nie, en hulle moet dikwels op ʼn bepaalde tyd huis toe gaan omdat die koshuis sluit.
  • Mense in jou ruimte: As jy nie daarvan hou om ʼn kamer te deel, ʼn stort te deel, of te moet kyk wat almal op die gang kyk nie, is die koshuislewe dalk nie vir jou nie. Daar is baie mense wat nou en dan in jou kamer inbars en so effens in jou ruimte kom.

Kommune:

Voordele:

  • Geselskap: As jy dit haat om alleen te wees, is ʼn kommune ʼn goeie idee, juis omdat daar altyd iemand is om mee te gesels.
  • Privaatheid: In meeste kommunes is daar vir elke inwoner hul eie kamer, waar koshuise dikwels van jou verwag om ten minste in jou eerste twee jaar ʼn kamer te deel.
  • Veiligheid: Omdat daar so baie mense in een huis bly is dit dikwels redelik veilig in ʼn kommune.
  • Voorbereiding vir die regte wêreld: ʼn Kommune dwing jou om te leer hoe om kos te maak en rekeninge te betaal, iets wat jy in ʼn koshuis nie hoef te doen of leer nie.

Nadele:

  • Mense in jou ruimte: Soos met koshuise kan jy in ʼn kommune verwag om ʼn stort, ʼn kombuis en ʼn leefarea te deel. Jou huismaats is dalk nie supernetjies nie, of dalk is hulle juis netjies en verwag van jou om ook netjies te wees.
  • Koste: Kommunes is dikwels duurder as koshuise, en daar is bykomende kostes soos internet, bestanddele vir kos, sekuriteit, en skoonmaakdienste wat alles bydra tot die rekening.
  • Afstand: Soms kan jy ʼn kommune naby aan kampus kry, maar in meeste gevalle woon akademici in die naaste en beste huise, wat beteken dat studente effens verder weg moet bly, wat tydrowende en koste-implikasies kan hê.
  • Parkering: Waar koshuise en woonstelle dikwels ontwerp is sodat daar vir elke inwoner ʼn parkeerplek is, moet inwoners van ʼn kommune dikwels gelukkig wees met ʼn opelugparkering of spasie onder ʼn boom.

Woonstel:

Voordele:

  • Privaatheid: As jy daarvan hou om jou eie ding op jou eie tyd te doen, dan is die woonstel-lewe vir jou! Jy bepaal wat jy doen, en wanneer jy dit doen.
  • Moderne ontwikkeling: Baie kampusse het deesdae groot woonstelblokke langs of op kampus; hierdie ontwikkelings is dikwels modern en baie luuks.
  • Sekuriteit: Moderne ontwikkelings se sekuriteit is van uitstaande gehalte, met baie woonstelblokke wat ʼn vingerafdruk-gebaseerde toegangsbeheerstelsel en 24 uur-sekuriteit by die deure het.
  • Volwassenheid in oorvloed: Waar jy in ʼn kommune reeds sekere verantwoordelikhede van grootmenswees ervaar, het jy dit ten volle in ʼn woonstel. Elektrisiteit koop, skoonmakers betaal, kontrakte teken en klagtes by die opsigter lê – alles wat jy eendag as huurder sal moet doen, leer jy nou reeds as student.

Nadele:

  • Eensaamheid: As jy ʼn ekstrovert is wat mense om jou nodig het en hou van gesels, is ʼn woonstel miskien nie die beste opsie nie. Dit kan maklik gebeur dat jy eensaam voel.
  • Ruimte: As jy maklik vasgevang voel in ʼn klein ruimte is die woonstellewe dalk nie vir jou nie. Alhoewel moderne woonstelle baie luuks is sal jy nie sommer meer spasie kry as wat absoluut noodsaaklik is nie.
  • Koste: Tussen koshuis, kommune of woonstel is ʼn woonstel waarskynlik een van die duurste opsies. Omdat jy bykomend betaal vir jou parkering, jou internet, jou sekuriteit en elektrisiteit is die maandelikse huur dikwels redelik hoog.
  • Geraas: Alhoewel jy jou eie ruimte het en nie ʼn badkamer hoef te deel nie, is slegte bure wat harde musiek speel of kla oor jou musiek ongelukkig ʼn wesenlike deel van die woonstel ervaring. Omdat jy jou bure ook nie ken soos in ʼn koshuis nie, het jy dalk nie die vrymoedigheid om te sê dat die bure raas nie.

Soos wat jy vrae oor jou toekoms begin vra is dit belangrik om nou reeds te begin dink oor verblyf – is jy ʼn koshuiskat wat die energie en geskarrel verkies en in sulke omstandighede floreer, is jy ʼn kommune-mens wat huislik wil verkeer, of is ʼn woonstel en die privaatheid wat dit bied die beste pas vir jou? Maak seker dat jy ingelig is oor jou opsies, en wees versigtig om een mens se slegte ervaring as die norm te glo – soek en vind dit wat die beste by jou menswees pas!

 

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante en ander skoliere wat eksamen skryf, aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android- en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

Hierdie artikel is ook te sien op Solidariteit Jeug

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

alwyn burger ·

As jy nie koshuis toe wil gaan nie sal jy nooit regtig ñ student wees nie. Bly dan maar eerder tuis en studeer “oor die pos”. Goedkoper!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.