Raak betrokke by jou peuter se sosiale ontwikkeling

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Dit is belangrik vir kinders om reeds van ʼn jong ouderdom in sosiale omgewings geplaas te word waar hulle van ander se perspektiewe en gevoelens bewus gemaak kan word.

Die eerste 18 maande van ʼn baba se lewe is ʼn fase waartydens vertroue gevestig moet word  en vind gewoonlik plaas in die verhouding tussen die baba en die ma, of die versorger.

Hoe meer blootstelling babas en peuters egter aan gesonde sosiale omgewings en mense kry, hoe groter is die kans om sosiale vaardighede te ontwikkel.

Elana Kriel, opvoedkundige sielkundige en dosent by Akademia, sê wanneer peuters hulle in ʼn situasies tussen volwassenes bevind, leer hul empatie aan deur bewus te word van ander se gevoelens en ander se perspektiewe.

“Dit is daarom belangrik dat peuters in veilige omgewings en in veilige hande blootgestel word aan sosiale situasies. Aanvanklik sal dit situasies wees soos ʼn musiekwaardering-, beweging- of ʼn ander soort stimulasieklas, waar die primêre fokus is op die verhouding en sosialisering tussen die volwassenes, meestal die mamma en die peuter.”

Namate die peuter ouer word en fisiek meer onafhanklik kan rondbeweeg – en natuurlik onafhanklike toiletgewoontes het – kan die kind gemakliker deelneem aan sosiale klasse, of dit nou ʼn pottebakkersklas, bak-en-brou of tekenklasse is, sê Kriel.

“Boonop is die peuters dan vaardig om met hul lyfies rond te beweeg en vaardighede aan te leer wat te doen het met teken, verf en fyner handvaardighede. Tweejariges behoort al woorde te kan sê en meer belangrik, hulle behoort op instruksies of opdragte te kan reageer wat tipies van sosiale situasies of vaardigheidklasse is.”

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Kriel benadruk dat blootstelling aan sosiale situasies slegs waardevol is wanneer daar ʼn volwassene is wat aan kleintjies verduidelik wat gebeur, wat goeie gedrag is, verwagte gedrag modelleer en die waarde van struktuur en roetine verduidelik.

“Emosionele begrip word só gevestig en help kinders om hul eie emosies te leer ken, oor gevoelens te praat en om dit met ander te deel. Die emosionele woordeskat stel kinders natuurlik in staat om hulself te kan verwoord en ook met maats te kan gesels en speel.”

Aanvanklik is klein kinders baie gefokus op die bevrediging van hul eie behoeftes en sosiale situasies skep juis die geleentheid om vaardighede soos beurte maak, te wag, instruksies te volg en om te gee vir ander, te ontwikkel.

“Wanneer hierdie kleintjies uiteindelik aan die formele strukture van skoolgaan blootgestel word, het hulle reeds vaardighede ontwikkel om aan hierdie verwagtinge te voldoen en tree hulle met selfvertroue op,” verduidelik Kriel.

“Kinders leer ook by mekaar en die skool is ʼn fantastiese geleentheid om kinders te leer. Ons moet onthou dat klein kindertjies se selfkonsep dikwels geassosieer word met wat hulle besit en dat hierdie besittings ook ʼn rol speel om emosionele veiligheid vir kinders te skep, soos byvoorbeeld ʼn spesiale speelding. Soos kinders ouer word behoort hul ook meer vaardig te word in die saamspeel en deel met maats.”

Moet ek bekommerd wees as my jong kind geen belangstelling in maats het nie?

“Ja, ʼn mens is ʼn sosiale wese en dit is deel van ons natuur,” beklemtoon Kriel.

“As daar geen belangstelling in ander maats is nie, moet ouers eers seker maak dat daar byvoorbeeld nie ʼn gehoorprobleem of ʼn ander ontwikkelingsagterstand is nie: dit behoort ondersoek te word. Dit is ook belangrik om uit te vind of dit dalk in die teenwoordigheid van sekere mense of sekere situasies is waar die kind onveilig voel.

“Oor die algemeen hou kinders daarvan om met ander kinders van hul eie ouderdom in kontak te wees. Daar is natuurlik sekere fases van ontwikkeling, veral met betrekking tot speel waar babas en peuters eers op hul eie speel. Op tweejarige ouderdom kyk hulle dikwels net hoe ander speel. Teen die ouderdom van drie tot vier behoort kinders gemaklik saam met ander te kan speel en ʼn jaar of wat later is dit ʼn groot deel van hoe klein kindertjies se dag verloop.”

Hoe gemaak as my kind eenkant geskuif word of nie maats het nie?

“Vanuit my verbintenis met Akademia en my ervaring in die onderwys speel onderwysers ʼn baie belangrike rol in ons kinders se lewens. Ook by Akademia word onderwysers goed opgelei om bewus te wees van die tipiese sosialiseringsgedrag van kinders, die verwagte mylpale en wanneer om bekommerd te wees,” sê Kriel.

“As ʼn juffrou dus hierdie opmerking maak, moet dit ernstig opgeneem word. ʼn Onderwyser sal ook weet hoe die kind se eie gedrag bydra tot die situasie. Onderwysers weet ook dat die skool ʼn belangrike sosialiseringsrol vervul en die meeste aktiwiteite word gestruktureer om sosialisering tussen kinders aan te help.”

Dit mag wees dat ʼn kind se temperament dalk van so ʼn aard is dat hy of sy nie baie maats verkies nie, maar as ʼn kind meer gereeld eenkant toe geskuif word of nie maats het nie, moet die kind beslis gelei word om sosiale vaardighede aan te leer.

“Indien daar pogings aangewend word om die kind te leer om maats te maak, maar dit slaag nie, sal ek dit dalk oorweeg om die ouers aan te raai om die kind vir professionele hulp te neem. Dit behoort nie die eerste opsie te wees nie, maar moenie buite rekening gelaat word nie.”

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat kinders leer deur die voorbeelde waaraan hulle blootgestel word. “Die blootstelling wat kinders by die huis het, speel ook ʼn rol in hul sosiale vaardighede. Kinders wat alleen grootword of nie ervaring het van hoe dit lyk en voel of met ander te speel nie, moet begelei word om maats te leer maak.”

Wenke oor wanneer kinders gereed is om te sosialiseer:

  • Elke dag is ʼn goeie geleentheid. Dit is belangrik dat ouers aanvanklik deel hiervan is en ʼn begeleidende rol speel om kinders te help sosialiseer.
  • Maak tyd om met jou kind te gesels, leer hulle ken, weet waarvan hulle hou, wat hulle bang maak en wat hulle geniet. Skep dan doelbewus geleenthede om dinge saam met kinders dinge te ervaar.
  • Betrek kinders by verskillende soorte geselskap, leer kinders vaardighede soos oogkontak, gesigsuitdrukkings en hoe om menswaardig en bedagsaam teenoor ander op te tree.
  • Leer kinders om vrae te vra, belang te stel in ander en brei hul emosionele woordeskat uit.
  • Kinders leer graag deur ander dop te hou en hoe hulle optree, so maak seker dat jy self ʼn goeie rolmodel is vir jou kind se sosiale ontwikkeling.
  • Beklemtoon die wonderlike wêreld van emosies: moedig veilige, prettige spel aan en speel saam met jou kind.
  • Lees stories met goeie sosiale lesse of boodskappe vir jou kind.
  • Moedig jou kind aan om te waag en prys jou kind wanneer sy of hy iets regkry en positief optree.
  • Bevestig goeie waardes en norme teenoor ander mense.
  • Vertel vir jou kind wie sy is, waar sy vandaan kom en hoe belangrik familie in ons lewe is, sodat hul reeds van kleins af blootgestel word aan goeie verhoudings, waardevolle omgee en dankbaarheid.

Daar is talle speelgroepe, soos Pienkvoet-Pret en Moms and Babes, waar kinders jonger as die ouderdom van drie jaar in ʼn beheerde, veilige omgewing saam met mamma of pappa hul sosiale vaardighede kan ontwikkel.

Marilee Erasmus, eienaar van Pienkvoet-Pret Irene, beaam Kriel se stelling dat kinders voor die ouderdom van drie jaar nog selfgesentreerd is.

“Eers dan begin hulle konsepte soos deel en wag verstaan. Dit is egter goed om kinders vroeër al in sosiale omstandighede te plaas. Dit hoef nie gesien te word as ʼn mylpaal nie, maar sosialisering is slegs voordelig mits ʼn volwassene ook betrokke is om die nodige leiding te gee.”

Dit is belangrik vir kinders om maats te maak sodat basiese vaardighede soos kommunikasie en konflikhantering ontwikkel kan word, sê Erasmus.

“Dit is vir kinders belangrik om deel te voel van ʼn groep. Ons leef in ʼn sosiale wêreld waar daar ʼn behoefte aan aanvaarding is en kinders moet hulle sosiale identiteit vind terwyl hulle leer dat die wêreld nie net om hulle draai nie. Dit kan ʼn baie verwarrende tyd wees en daarom is volwassenes se leiding baie belangrik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.