Riebies as topskool aangewys

Laerskool van Riebeeckpark is onlangs as die beste skool in Ekurhuleni-Noord aangewys. Van links is Hendrik van Staden, adjunkhoof; Vivian Botha, skoolhoof; en Dawie Jordaan, Riebie-personeellid. Foto: Verskaf

Deur Dawid Brand

“Die grootste slaggate vandag is nie dié wat ons paaie deurspek nie, maar ’n benadering waar die kind deur ’n kurrikulum van kitskoskennis gekniehalter word. Malcolm Forbes, entrepreneur en stigter van die gesaghebbende Forbes-tydskrif, se aanhaling: ‘Onderwys se doel is om ’n leë verstand met ’n oop een te vervang’, is toepasliker as ooit tevore,” sê Vivian Botha, skoolhoof van Laerskool van Riebeeckpark in Kempton Park aan die Oos-Rand.

Volgens Botha is die blote afmerk van assesseringsboksies en ’n meganiese monteerlyn van boekekennis niks meer as wegneemetes sonder enige voedingswaarde nie. “Om ons kinders waarlik te staal en toe te rus vir ’n onvoorspelbare toekoms wat daagliks met enorme spronge voor ons oë ontvou en ontwikkel, moet ons ’n aanpasbare omgewing skep waarin ontdekking en onbegrensde denke kan gedy.”

Daarom is ’n een-benadering-vir-almal in die klaskamer glad nie deel van die Riebies se waardesisteem óf werkwyse nie, sê Botha. “Elke kind is eiesoortig en moet op die unieke plek ontmoet word waar hy of sy tans is, en dán begelei word na waar hulle wil én kan wees. Sodoende word elke kind se volle potensiaal ontsluit en word punte en prestasies newegeskik aan die belange en drome van die kind. Die oomblik wat die roeping en identiteit van elke kind nie meer sentraal in die onderrigverhaal staan nie, versaak ons ons onderwysroeping.”

Ofskoon Botha nie graag met toekennings te koop loop nie, is dit noemenswaardig dat dié skool se besonderse onderrigfilosofie raakgesien word. Laerskool van Riebeeckpark is onlangs deur die Gautengse departement van onderwys as die beste skool in Ekurhuleni-Noord aangewys. Joshua Ziervogel en Caleb Josephs is boonop onderskeidelik as beste kultuur- en sportseun vir 2023 in die streek aangewys.

Volgens Botha is dit ’n reusevoorreg om te sien hoe leerlinge groei en die getuienis van oudleerlinge te hoor van die grondslag wat die Riebies reeds op laerskoolvlak lê. “Joshua, tans in graad 8 in Helpmekaar Kollege in Johannesburg, en Caleb, ’n graad 6-leerling aan Grey Kollege Primêr in Bloemfontein, en het reeds behoorlik hulle merk by hul nuwe skooltuistes gemaak.

Gelyke geleenthede en groeikans is vir die Riebies ononderhandelbaar. Foto: Verskaf

“Die Riebies is baie bevoorreg om ’n uiters bekwame en passievolle personeelkorps, en ongelooflik ondersteunende ouergemeenskap te hê. Eindelik is dit die vennootskap tussen ouer, onderwyser én kind wat die vensters van vernuwende denke en oneindige geleenthede open. Deur ongesiens en onbaatsugtig méér as die ekstra myl te loop, word die gewone in iets buitengewoon omskep,” sê Botha.

Of ’n mens op die stoepe stap of langs die uitgestrekte sportvelde staan, die Riebies se uitnemendheid is sigbaar, die trots tasbaar. Van die moderne graad RR- en R-sentrum tot interaktiewe raakskerms in elke klas. Van die silwerskoon, skaduryke terrein tot sportgeriewe sonder gelyke. Op die koop toe sorg sonpanele, boorgatwater en opgaartenks dat onderrig nie deur gebrekkige dienslewering ontwrig word nie. En waar ’n slaggat is, rol die hele skoolgemeenskap sommer moue op om dit te vul. Dit is duidelik: hier word gebou!

“’n Vol en selfs ’n mooi skool is net nóg ’n skool. Een wat veelsydige, toekomsbestande jongmense innoverend met kennis, kreatiwiteit én kritiese denke toerus wat lewenslank toeneem, is seldsaam en vir seker ons kernfokus.”

Dis pret om ’n Riebie te wees! By dié topskool aan die Oos-Rand word die leiers van môre geleer om kreatiewe planne te kan maak en krities te dink. Foto: Verskaf

Gelyke geleenthede en groeikans word daarom voorop gestel. “Die langtermynwaarde lê daarin om die kind wat teen ’n stadiger pas werk met hulponderrig te ondersteun of verrykende werk aan die flinkdinker beskikbaar te stel. Om leierskap te kweek en selfvertroue te skep om standpunt in te neem, en bowenal saans in die spieël te kan kyk en jou unieke waarde te besef. Dít is die kapstok waaraan die Riebie-waardes soos dankbaarheid, keuses, betrokkenheid, eensgesindheid, eerlikheid, respek, skooltrots, inklusiwiteit en integriteit hang,” sê hy.

’n Mens se ingesteldheid, ondanks omstandighede, is ’n keuse, glo Botha. “Ons kies om ons kruisie langs elke kind se naam te trek, want ’n skool het die verantwoordelikheid én voorreg om ’n visionêre brandpad vir die volgende geslag te maak – jongmense wat op hul beurt gelukkige gemeenskappe en ’n veilige en voorspoedige land moet vestig.”

  • Indien jy die hartklop van Laerskool Van Riebeeckpark eerstehands wil beleef, moet jy beslis nie dié spogskool se opedag op 4 Mei misloop nie. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na [email protected]. Besoek gerus ook die skool se webtuiste of gesels saam op Facebook.

Laerskool van Riebeeckpark glo ’n waardegedrewe benadering rus jongmense met meer as net boekekennis toe. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.