Robotika slyp jonges vir die toekoms

Argieffoto (Foto: stem.T4L/Unsplash)

Sowat 200 spanne uit 65 lande ding van 18 tot 21 November aanlyn in die Wêreld Robotika Olimpiade (WRO) mee. Dit word regstreeks aangebied en belangstellendes kan gratis hiervoor inskakel.

Robotika bied ʼn uitstekende platform waar jongmense hulle kennis prakties moet toepas. In die proses word kernvaardighede soos innovasie en probleemoplossing getoets en ontwikkel.

Danie Heymans, nasionale organiseerder vir die WRO, het in ʼn onderhoud met Maroela Media uitgebrei oor die belangrikheid en waarde van robotika as skoolvak. Hy het ook meer vertel oor die WRO, waar hy al nege jaar lank die organiseerder is.

Robotika ontwikkel dié vaardighede

Die arbeidsmark is besig om drasties te verander as gevolg van die outomatisering van prosesse, kunsmatige intelligensie (KI), robotika en die Vierde Industriële Revolusie (4IR).

Jongmense wat beroepe in die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde oorweeg, sit moontlik met ʼn groot uitdaging op hande omdat die vaardighede wat hulle vir ʼn spoedig veranderende werksplek benodig, nie op skoolvlak ontwikkel word nie.

Heymans meen dit is nodig om anders oor onderrigmetodes te begin dink en nader aan ʼn geïntegreerde model te beweeg. Dit is hier waar mededingende robotika in die klaskamer ter sprake kom.

Robotika is juis een van die vakke wat binnekort by die nasionale skoolkurrikulum geïntegreer gaan word. Maroela Media het vroeër berig dat uitgesoekte skole reeds verlede jaar begin het om vakke soos robotika aan te bied.

Die voordeel van robotika is dat vakke soos wetenskap, wiskunde en rekenaarprogrammering byeenbring geword en dat leerders hulle kennis op ʼn praktiese, innoverende wyse moet toepas.

Deur robotuitdagings op te los word sagte vaardighede soos innoverende en kognitiewe denke, kreatiwiteit, probleemoplossing en kommunikasie ontwikkel. Die ontwerp, bou en programmering van robotte bevorder verder ook die betrokkenheid van leerders wanneer hulle as ʼn span saamwerk om oplossings vir probleme te vind.

Mededinging óók ʼn vaardigheid

“Mededingende robotika is die perfekte katalisator om leerders vir die arbeidsmark van die toekoms voor te brei,” sê Heymans.

Suid-Afrika is in 2010 vir die eerste keer as deelnemende land in die WRO aanvaar. Van ʼn relatiewe klein begin het die kompetisie die afgelope agt jaar in deelname en gehalte gegroei.

Jongmense wêreldwyd word deur die WRO bymekaargebring om hul kreatiwiteit, ontwerp- en probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel deur uitdagende en opvoedkundige robotuitdagings.

Volgens Heymans blyk die toekoms van hierdie kompetisie in Suid-Afrika belowend te wees namate blootstelling aan robotika toeneem deur klub-, skool- en tersiêre onderwysbetrokkenheid.

“Dit is opwindend om die ontwikkeling van hierdie knap leerders se selfvertroue te sien,” vertel Heymans. “ʼn Mens ervaar dit soos wat hulle al hoe meer bevoeg word om die spesifieke vaardighede te bemeester wat nodig is om aan die robotika-programme deel te neem.”

Suid-Afrika word vanjaar deur vyf spanne verteenwoordig:

  • Scibotnaccis (met Abdulbasit Balogun en Aisha Balogun)
  • Robodog (met Noah Kemp en Boheng Zhu)
  • Dawn Breaker (met Richard du Plessis, Paige Briggs en Sharnley van Heerden)
  • Technoblade (met Veer Atwaru, Matthew Francke en Luan Odendaal) en
  • SANFAN (met Juvan Botha en Evelynne Nel).

Klik hier om regstreeks by die Wêreld Robotika Olimpiade (WRO) in te skakel. Die kompetisie duur tot 21 November (Sondag).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.