Rooikatte balanseer netjies op die X-faktor

Dis hóé Laerskool Constantiapark die wát doen, wat die Rooikatte reeds vir meer as vier dekades ʼn pionierspad van uitnodigende onderwys laat loop.

Hiér is die hartklop en trots van elke onderwyser die enjin wat entoesiasme kweek en koester. Hier voel elke kind welkom en kom leergierig skool toe om leeravonture met groot waagmoed en selfvertroue aan te pak.

Die Rooikatte van Laerskool Constantiapark in Pretoria huppel skool toe en die borrelende energie van elke RooiKat en RooiSkat, van graad RR tot graad 7, is aanvoelbaar op die terrein. Dr. Louis Dey, hoof van Laerskool Constantiapark, verklaar sonder huiwering: “Hier probeer ons elke dag die régte dinge, rég doen!”

Besoekers word betower deur Laerskool Constantiapark se leerlinge wat hulle vrolik en met breë glimlagte groet terwyl een en elkeen vibreer met ʼn eie ritme wat sy plek kry iewers op die terrein vol aksie. Hier voel een en elkeen uniek, gekoester en geliefd! Die Rooikat-geheim agter al die vrolike vonkeloë? Mnr. Francois van Staden, adjunkhoof vir buitemuurse aktiwiteite, antwoord met ewe vonkelende oë: “Legio geleenthede om met entoesiasme te kan verken, met verwondering te ontdek en sonder huiwering te waag sodat elke Rooikat uiteindelik gemaklik sy eie wonderwêreld kan begin bou!”

Die skool se fokus is om elke jaar ’n nuwe geleentheid vir ontwikkeling vir sy leerlinge te skep.

Die majestueuse Rooikat-Arena het einde verlede jaar sy deure oopgegooi. Hierdie arena is ’n allernuutste multidoel-sportsentrum met ’n besondere Belgotex-vloer uit Swede waarin klein Rooikatte hulle groot motoriese vaardighede aanleer en ontwikkel en elke ander Rooikat sy talente hier slyp in verskillende sportsoorte se spanne.

Laerskool Constantiapark volg die voorgeskrewe kurrikulum, maar verruim leerlinge se wêreld met verrykingsgeleenthede wat in die skoolrooster geakkommodeer word. Die graad R- tot 3-leerlinge leer onder andere skaak speel en Zoeloe praat. Alle Rooikatte ontwikkel met kuns en musiek analitiese en laterale denke wat ook hulle wiskundedenke verryk, vorm en ondersteun.

Die skool se vier moderne rekenaarsentrums word die plek waar ons rekenaarvaardigheid, kodering, wiskundeverryking en leesprogramme aanvullend tot elke dag se voorgeskrewe kurrikulum inwerk. Die skool het ook kleinklas-Wiskunde-onderrig (met 15 leerlinge in ʼn klas) met ʼn Rooikat-Wiskundesentrum vir graad R- tot 7-leerlinge wat in die middae saam met die Sentrum van die Kunste ekstra ontwikkelingsgeleenthede bied aan leerlinge.

Die Rooikat-Omgeesentrum ondersteun die hartklop van die skool en is met sy multidissiplinêre span wat bestaan uit ’n sielkundige, maatskaplike werker, spraak-, arbeids- en spelterapeut die veilige vangnet vir daar waar uitdagings ʼn kundige se toetrede vra.

Elke klas het internettoegang, dataprojektors en visualiseerders wat ons klasse in ʼn onderrig-en-leer-wonderwêreld verander. Met uitgesoekte en toegewyde onderwysers word ʼn balans tussen tegnologie in die klaskamer en kinestetiese leer gevind en so word leer met elke sintuig en liggaamsdeel beleef en geleer, maar ook die kuber gekraak dat geen veld ’n nuwe en vreemde ervaring in die toekoms kan word nie.

(Foto verskaf deur Laerskool Constantiapark)

Laerskool Constantiapark beskik ook oor ʼn eie Graad R-sentrum met kamma-kamma skooldrag vir graad RR- en graad R-Rooikatjies. By Laerskool Constantiapark is spéél elke Rooikatjie se wérk! Graad R-personeel is almal gegradueerd. Hierdie opgeleide en kreatiewe personeel maak koppies, vingertjies en voetjies speel-speel slim. Eers word nuwe konsepte via kinestetiese leer ontsluit en aangeleer en Rooikatjies speel met konkrete hulpmiddels soos klei, blokkies, water en sand en ontdek só die nuwe leerinhoud speel-speel. Daarna word inskerping en verryking  met die hulp van tegnologie maan toe geneem. Rooikatjies word bevoordeel met ʼn deeglike aanleer van konsepte maar ook voorberei vir ʼn moderne wêreld waarin die konsepte op nuwe maniere in aksie kom.

Uitnemende akademiese onderrig, saam met 16 sportsoorte, vier kore, redenaars, revue, drama, speekkore en heerlike kreatiewe pretdae, ontvou ʼn leefwêreld waarmee Rooikatte droom en doen en so spore gaan trap op die maan!

Staan saam, doen saam, dink saam, ontdek saam, waag saam en … wen saam!

  • Klik hier vir meer inligting oor die Kuierdag by Laerskool Constantiapark op 18 Mei 2024
  • Klik hier om die skool se webwerf te besoek
  • Klik hier om Laerskool Constantiapark op Facebook te volg
  • Of stuur ʼn e-pos aan [email protected] vir enige verdere inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.