SA kan nie ʼn leerverlore generasie bekostig nie

(Argieffoto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Deur Daan Potgieter, uitvoerende hoof: Afrikaanse Onderwysnetwerk

In ʼn vorige artikel het ek daarop gewys dat Covid-19 die internasionale onderwyslandskap radikaal verander het, veral ten opsigte van afstandonderrig. Die pandemie het voorts veroorsaak dat onderwysleiers toenemend aandag skenk aan leerverlies – ʼn konsep wat wyd uiteenlopende opinies ontlok.

Kom ons plaas leerverlies onder die vergrootglas.

Eerstens, ʼn formele definisie: Leerverlies verwys na enige spesifieke of algemene verlies aan kennis of vaardighede, of ʼn ommekeer in akademiese vooruitgang, as gevolg van uitgebreide gapings of onderbrekings in ʼn leerder se opvoeding.

Dit is ʼn mondvol. Kortliks kan mens sommer net sê dat leerverlies plaasvind as ʼn leerder om een of ander rede ʼn onderrig-agterstand ondergaan.

Konflikterende sienswyses

Reg oor die wêreld is daar groeiende kommer oor, en duidelike bewyse van leerverliese. Tog is daar allermins konsensus oor talle aspekte van leerverlies. Antwoorde word vereis op vrae soos: Waarop dui die verlies? Feite? Geheue? Hoe word verlies bereken? Met formules? Hoe word data wetenskaplik verkry? In hierdie stadium kan sulke vrae nie tot die bevrediging van almal beantwoord word nie.

Daar is ʼn siening dat leerverlies nie verstaan moet word as ʼn vermindering in bestaande kennis nie, maar as die verskil wat tussen bestaande en ideale realiteite ontstaan. Die bestaande realiteit is skoolsluitings en die ideale realiteit is Covid-19-vrye skoolonderrig. Leerverlies is dus die verskil in onderrig wat tydens die bestaande realiteit plaasvind (met ander woorde wat werklik gebeur), en die leer wat tydens die ideale realiteit sou plaasvind. Om leerverlies in hierdie konteks te meet is uiteraard problematies.

Daar word ook gesê dat leerverlies bloot ʼn konsep is van diegene wat onwrikbaar glo in toetsing. Hiervolgens is leerverlies ter sprake as ʼn leerder ʼn toets in Maart aflê, en dan swakker vaar tydens ʼn vergelykbare toets in Augustus. Ander weer wys daarop dat die stukkies van ʼn kennis-legkaart nie bloot verdwyn tydens ʼn onderrigvakuum nie. Dit vat net tyd om kennis weer te versamel en saam te voeg, ʼn proses wat dikwels tot groter begrip kan lei.

ʼn Alternatiewe siening

Ek wil nie ander sienswyses kritiseer of kant kies nie. My siening is dat dit raadsaam sal wees om ʼn bietjie wyer te kyk as die formele definisie, en leerverlies te interpreteer as ʼn afwesigheid van nuwe kennis. Binne sodanige raamwerk ervaar miljoene leerders daagliks leerverliese. Daar is ʼn aantal redes hiervoor:

  1. Afstandonderrig kan nie die klaskamer vervang nie.
  2. Leerders het nie die geleentheid om persoonlike verhoudings met onderwysers te bou en te handhaaf nie.
  3. Ouers het nie die vaardighede, tyd en/of hulpbronne om by die onderrigtaak betrokke te raak nie.

Die primêre rede is egter minder bevoorregte leerders se beperkte toegang of geen toegang nie tot digitale hulpmiddels. Sonder die nodige toerusting, programmatuur en toegang tot digitale netwerke kan leerders doodeenvoudig nie onderrig word nie en ontwikkel daar ʼn besliste afwesigheid van nuwe kennis.

ʼn Leerverlore generasie

As ʼn beduidende hoeveelheid leerders stagneer omdat hulle nie aan nuwe kennis blootgestel word nie, is daar ʼn wesenlike gevaar dat ons land weer ʼn verlore generasie kan oplewer, soos die oorspronklike verlore generasie jongmense wat ná die Eerste Wêreldoorlog rigtingloos en roekeloos deur die 1920’s gestrompel het.

Suid-Afrika met sy brose onderwysstelsel en wankelende ekonomie kan allermins weer so ʼn situasie bekostig. Tog word ʼn leerverlore generasie ʼn al groter realiteit, hoofsaaklik vanweë die enorme kloof tussen arm en ryk. Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing stel dit só: “The disparity in access to digital devices and connectivity between rich and poor is immense.”

Hierdie situasie gaan nie oornag verander nie en die gaping tussen ryk en arm gaan dus net groter word. Dit is werklik kommerwekkend.

Regstellende stappe

Nou dat skole heropen het, is dit van kardinale belang dat onderwysowerhede doelgerigte stappe doen om:

  1. Die omvang van leerverliese akkuraat te bepaal.
  2. Remediërende onderrig van stapel te stuur ten einde leerverliese teen te werk. Onderwysers hoef nie hierdie taak alleen te behartig nie. Ander partye soos voormalige onderwysers en studente kan betrek word.
  3. Die kurrikulum te hersien sodat aandag aan areas waar die effek van leerverliese die swaarste weeg, en die langste gaan vat om te herstel, gegee kan word. Dit is belangrik om te erken dat die herstelperiode heel moontlik jare kan duur.
  4. Ekstra aandag aan leerders in graad 11 en 12 te skenk.
  5. Minder bevoorregte leerders wat tydens die inperkingsperiode aan die kortste end getrek het, by te staan. Dit is hierdie leerders wat die gevaar loop om ʼn leerverlore generasie te word. Ons moet dit met woord en daad beveg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.