SA se eerste gratis AGHS-siftingsprogram vir kinders bekendgestel

As geldinsamelingsinisiatief het Schoeman en De Beer, heel gepas geklee as Gouelokkies en die Beer, onlangs deelgeneem aan die veeleisende 91 km Cell C African X Trail-wedloop en is hulle tans op soek na sake- en gemeenskapsvennote om finansieel by te dra om twee klein voertuie te koop en vier verpleegsters aan te stel om die skole te besoek. Foto: Verskaf

’n Nuwe inisiatief is pas bekendgestel wat kinders wat aan aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) ly, vroeg sal kan identifiseer en betyds die nodige mediese ondersteuning kan bied.  In ’n land waar een uit elke 20 kinders aan dié sindroom ly, is dit ’n uiters noodsaaklike projek.

Dr. Renata Schoeman, ʼn Kaapstadse psigiater, en Nic de Beer, ʼn sakeman en ʼn Suid-Afrikaanse top-atleet, het saamgewerk om die Goldilocks and The Bear-stigting op die been te bring, die land se eerste niewinsgewende mobiele AGHS-kliniek in voorheenbenadeelde gemeenskappe.

Die doel van hierdie kliniek is om aanvanklik 500 kinders (daar is tans ongeveer 200 000 kinders in die Wes-Kaap wat nie toegang tot geestesgesondheidsdienste in die Wes-Kaap het nie) maandeliks te evalueer om sodoende vroeë ingryping en behandeling moontlik te maak. Die strewe is om hierdie projek uit te brei en landwyd kinders met AGHS te kan bystaan.

As geldinsamelingsinisiatief het Schoeman en De Beer, heel gepas geklee as Gouelokkies en die Beer, onlangs deelgeneem aan die veeleisende 91 km Cell C African X Trail-wedloop en is hulle tans op soek na sake- en gemeenskapsvennote om finansieel by te dra om twee klein voertuie te koop en vier verpleegsters aan te stel om die skole te besoek.

Schoeman sê dat baie kinders wat aan AGHS ly en uit landelike gebiede kom, nie toegang het tot geestesgesondheidsorg nie. Die gevolg is dat hierdie kinders se simptome nooit aandag kry nie, wat skadelik is in die volledige ontwikkeling van die jong individu.

“Hoewel daar staatsklinieke is wat fokus op welsynsprobleme, word kinders uit kwesbare gemeenskappe selde met AGHS gediagnoseer, aangesien daar ’n groot tekort aan bewustheid en kennis is oor wat hierdie toestand behels. Dié kinders word nooit getoets vir AGHS nie en word dikwels geëtiketteer as stout, of ‘dom’, of val stilweg deur die krake van die opvoedingstelsel en kom eers onder ons aandag as hul reeds as misdadigers deur die regstelsel ingesluk is.”

Indien AGHS nie behandel word nie, veroorsaak dit beduidende persoonlike, interpersoonlike en sosiale probleme, wat ’n negatiewe impak het op veral die kwaliteit van lewe. Kinders kan onder meer sit met leergestremdhede, angs, depressie, gedragsteurings, Tourette se sindroom en dwelmmisbruik.

Opvoeding word voorts nadelig beïnvloed en navorsing het bewys dat diegene wat met AGHS gediagnoseer is, gemiddeld twee jaar vroeër skool verlaat as leerders wat nie hieraan ly nie. Dié skoolverlaters beklee uiteindelik veel laer-inkomste betrekkings as hul eweknieë wat nié met AGHS gediagnoseer is nie.

Schoeman sê die simptome hou ’n voortdurende patroon in van onoplettendheid, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit wat inmeng met die individu se daaglikse funksionering. Dit gaan verder gepaard met gedrags-, kognitiewe, emosionele en sosiale kwessies wat kan lei tot skool-, werksverwante en interpersoonlike probleme.

“AGHS manifesteer dikwels in verskeie vorme soos ’n kort aandagspan, die afdwaal van gedagtes, en dikwels uitstel van take, gebrekkige deursettingsvermoë, slegte tydsbeplanning, ondoeltreffendheid en ongeorganiseerdheid.

“Hiperaktiwiteit behels onvanpaste en oordrewe motoriese aktiwiteite, oormatige onrustigheid of spraaksaamheid, terwyl impulsiwiteit gekenmerk word deur hoë frustrasie-vlakke, wisselvallige emosies, humeurigheid, oorhaastige besluitneming sonder om langtermyngevolge in ag te neem en verslawende gedrag.

“Verpleegsters en opvoedkundige sielkundiges sal opgelei word om kinders te toets vir moontlike simptome van AGHS. In die geval van kinders wat positief toets sal dit opgevolg word deur diepgaande evaluasies om AGHS sodoende te kan bevestig.”

Schoeman sê die rede vir hierdie evaluasies, wat slegs gedoen kan word met die ouers se toestemming, sal vroeë verwysing na, en bevestiging van AGHS by staatsklinieke, verseker en sodoende bydra tot vinnige ingryping en vroegtydige behandeling van die toestand. Verder behels die projek dat groter bewustheid geskep word en onderwysers en ouers ingelig word oor die simptome en behandeling van AGHS.

Organisasies en individue wat graag betrokke wil raak by die projek of geld wil skenk kan www.gb4adhd.co.za besoek of ’n e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elizabeth ·

O Aaarde! wat gaan die uiteinde wees? Dat alle kinders in Suid Afrika op Ritalin of Concerta gaan wees? GELUKKIG is dit so duur, slegs die ryk mense sal kan bekostig om hul kinders op die dwelms te sit – ipv ‘n gesonde leefstyl…

Annie ·

Ons kleinkind is deur ‘n arbeidsterapeut met AGHS gediagnoseer, maar ons het alternatiewe beproef en haar op groot motoriese en fyn motoriese vlak gestimuleer en na ‘n 2de opinie uitgevind sy sukkel met middellynkruising. My punt is net dat ons soms te vinnig op die AGHS -waentjie spring en met medikasie slegs die simptome behandel, terwyl die wortels bly. Sy is vandag sonder enige medikasie gehelp en is super intelligent en vaar uitstekend op skool.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.