Sentrum bied hulp vir krisisswangerskappe

Foto ter illustrasie. (Foto: Omar Lopez/Unsplash)

By die New Life Crisis Pregnancy Centre in Kariega, vroeër bekend as Uitenhage, word vroue en meisies wat ʼn krisis beleef omdat hulle swanger is, bygestaan. Dié ondersteuning word nie net tydens swangerskap gebied nie, maar kan selfs tot ʼn paar jaar ná die kind se geboorte duur.

Maretha Botes vertel wat krisisswangerskappe is, en hoe daar hulp gebied word.

Te veel vroue en meisies wat ʼn krisisswangerskap beleef, weet nie waarheen om vir hulp te gaan nie. Baiemaal beland die babas in ʼn asblik of op die sypaadjie. In ander gevalle gaan die ma in die agterstrate vir ʼn aborsie en boet dan met haar lewe. Johanna George is direkteur van die sentrum. Sy sê die sentrum is 22 jaar terug op die been gebring omdat daar ʼn behoefte raakgesien is dat vroue nog ʼn opsie moet hê, dat hulle ondersteuning nodig het, en dat hulle baiemaal bang is wanneer hulle swanger raak.

Johanna het ʼn persoonlike verbintenis met dít waarvoor die sentrum in die eerste plek opgerig is. Hoewel sy ʼn maatskaplike werker in die privaatpraktyk is, is die sentrum haar “hartswerk”. Sy vertel sy was self ʼn baba uit ʼn krisisswangerskap toe haar ma as sewentienjarige meisie deur haar eerste kêrel swanger geraak het. “Soos dit in die outyd die norm was, het die kêreltjie toe my ma se pa gaan ontmoet. Toe my pa vir hom vra wat hy nou omtrent die affêre gaan doen, het hy dadelik gesê ‘ons gaan trou!’. Voor my ma haar kon kry, was hulle besig om troureëlings te tref. Sy wou eintlik eers gaan werk het en ʼn bietjie later trou. Sy sê altyd dit was vir haar ʼn moeilike tyd. Wat het sy van ma-wees, babas, vrouwees en mansmense geweet? Dit was vir haar ʼn krisisswangerskap. Vandag is sy en my pa al 44 jaar getroud. Maar dit sou nie haar laaste krisisswangerskap wees nie. Toe ek ʼn tweedejaarstudent op universiteit was, het my ma met haar vierde kind swanger geraak. Sy het só gehuil. Dit was weer vir haar ʼn krisis, al was sy die keer getroud. Emosioneel was dit vir haar ʼn krisis,” sê Johanna.

En dít is wat ʼn krisisswangerskap is, verduidelik sy. Dit kan ʼn tienermeisie wees wat swanger word, ʼn getroude vrou in ʼn huwelik wat ʼn emosionele krisis beleef, ʼn mamma wat graag ʼn kind wil hê maar nie die finansies het nie, of ʼn swangerskap wat uit verkragting ontstaan; enigiets wat die swangerskap op daardie stadium vir die mamma ʼn krisis maak.

“Sommige vroue kom baie bang hier aan. Hulle vermoed hulle is swanger, maar is te bang om kliniek toe te gaan. Hulle is bang iemand by die kliniek herken hulle en vertel hul ouers. Ons doen dan ʼn swangerskaptoets. En dit maak nie saak wát die resultate is nie, ons doen daarna berading,” sê Johanna.

As die toetsuitslag negatief is, word daar oor dinge gesels soos of die meisie of vrou gereed sou wees as sy wél swanger was. Watter gevolge sou daar wees en is die vrou gereed vir die risiko’s waaraan sy haarself blootstel? As die uitslag positief is, word dinge bespreek soos wie die meisie of vrou kan bystaan en ondersteun, en of daar ʼn ouer of familielid is wat vertel kan word. Alle opsies word bespreek – van aanneming, pleegsorg, om die baba te hou en te versorg, asook aborsie. “Ons wil álle opsies met soveel as moontlik inligting aan die mamma deurgee sodat sy haar eie, ingeligte besluite kan neem. Want uiteindelik is dit háár besluit. As sy besluit om die baba te hou, help ons deur opsies werk soos wie bedags na baba kan kyk wanneer sy teruggaan skool toe, want ons wil graag hê die jong meisies moet hul skoolloopbaan voltooi,” sê Johanna.

Vir mammas wat besluit om hul babas te hou, is daar voortdurende ondersteuning deur die sentrumpersoneel. Van voorgeboorteklasse, tot maandelikse besoeke na die baba se geboorte, tot ouerskapsklasse wanneer die kind haar kleuterjare ingaan.

Die sentrum het ook ʼn “winkel” waar mammas vir hul ongebore babas toiletware en klere kan koop. Elke keer wanneer ʼn swanger mamma een van die voorgeboorteklasse bywoon, kry sy punte. Aan die einde van die maand kan sy die punte gebruik om produkte by die winkel te “koop”. Aan die begin van die maand waarin die baba gebore word, gee die sentrum vir elke mamma ʼn doekesak met twee handdoeke en twee waslappe (een elk vir baba en ma), toiletware en ʼn eerste stel kleertjies vir baba.

ʼn Projek wat binnekort volstoom sal begin, is dié vir die pa’s – die Legacy Dad-program. Met dié program wil ons pa’s van die ontsettende belangrike rol wat hulle in die kind se lewe speel bewus maak. Nie net om elke maand ʼn finansiële bydra te maak nie, maar om werklik emosioneel dáár te wees vir die kind; om ʼn band te vorm en ʼn ouer te wees.

Die gemeenskap se bydraes is ʼn lewensaar, en elke tweedehandse kruippakkie, frokkie, sepie of boudjieroom is goud werd vir iemand anders. Mense wat nie naby ʼn sentrum is nie, kan finansiële bydraes maak. Johanna vertel hulle het die afgelope ruk ʼn tyd in die Oos-Kaap beleef waar daar meer as gewoonlik babas “weggegooi” is. “Ons wil graag vir elke swanger vrou wat dink daar is nie hoop nie, sê daar ís hoop. Daar ís hulp. Daar ís mense wat jou graag wil help en ondersteun en verstaan waardeur jy gaan.” Johanna sê as jy nie naby ʼn sentrum is nie, kan jy enige tyd van die New Life Crisis Pregnancy Centre se aanlyn of inbeldienste gebruik maak. Soortgelyke krisissentrums bestaan ook in ander stede en dorpe.

Die Pregnancy Help Network is die sambreelorganisasie vir sentrums soos die New Life Crisis Pregnancy Centre. Op hulle webwerf is 44 ander sentrums regoor Suid-Afrika waar jy om hulp kan aanklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.