Sien jy kans vir tuisonderrig?

 tuisskool_Impak_ma_dogter_huiswerk.jpg

Foto: examiner.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Tuisonderrig bied ’n opvoedkundige oplossing wat volgens elke gesin se unieke behoeftes aangepas kan word. Dit is juis dié buigsaamheid wat dit so aanloklik maak, en wat baie ouers hulself laat afvra, “Kan tuisonderrig werk vir my en my kind?”

Indien jy tuisonderrig oorweeg, is dit belangrik dat jy jou huiswerk deeglik doen, want wanneer jy jou kind se opvoeding in jou eie hande neem, aanvaar jy ’n reuse- verantwoordelikheid. Onthou:

  • Tuisonderrig verg baie dissipline en jy moet gedissiplineerd genoeg wees om totale verantwoordelikheid vir jou kind se onderrig te neem.
  • Tuisonderrig is harde werk en jy moet bereid wees om opofferings te maak, veral wat jou tyd betref.
  • Tuisonderrig hou nooit op nie; dié skool is 24 uur per dag en sewe dae per week oop.
  • Tuisonderrig is ’n beproewende selfleerproses.
  • Tuisonderrig verg deeglike beplanning en organisering.
  • Tuisonderrig val nie in almal se smaak nie, en jy sal dalk gereeld jou keuse moet verdedig.

Ten spyte van bogenoemde uitdagings voel baie ouers wat reeds dié pad begin stap het, dat elke opoffering die moeite werd is. Hulle redes?

  • Jy belê tyd in jou kind se emosionele, sosiale, fisieke en intellektuele ontwikkeling en stap elke tree op die pad na volwassenheid saam met hom.
  • Jy kan rondom jou gesin se unieke behoeftes werk. Dit stel byvoorbeeld ’n kind wat aan professionele sport deelneem, in staat om skoolwerk rondom oefentye te skeduleer.
  • Jy het beheer oor die gehalte en inhoud van die kurrikulum wat jou kind volg. Daar is ’n wye keuse van kurrikulums beskikbaar, en jy kan een kies wat by jou omstandighede, verwagtinge en waardes aansluit.
  • Jy kan ’n veilige omgewing skep waarin jou kind homself kan uitleef en kan floreer. Vergeet van groepsdruk en boelies!
  • Dit kan lei tot hegter gesinsbande.
  • Dit is ’n ongelooflike voorreg om tyd saam met jou kind deur te bring en deel te wees van sy leerproses. Geniet dit!

Elke ouer wil die beste vir sy kind hê, en opvoeding is geen uitsondering nie. Oorweeg dus al jou onderrigopsies en neem dan die regte besluit vir jou kind se opvoeding én toekoms.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.