Slaan eksamenkoors hok!

Argieffoto.

Deur Sarina Prinsloo

Die rekordeksamen het aangebreek en matrikulante landwyd skuif agter hul boeke in om die laaste voorbereiding vir hul matriekeindeksamen te doen. Skole begin vandeesweek met hul rekordeksamen. Hierdie eksamen is veral belangrik omdat dit onderwysers die geleentheid gee om gebiede te bepaal waarmee leerders nog probleme ondervind om bykomende aandag daarop te vestig.

Baie leerders is bekommerd oor hul studie weens die afgelope 18 maande se uitdagings. Minder kontakonderrig het sy merk gelaat. Selfs by skole wat werklik moeite gedoen het met aanlyn oplossings en ekstra klasse om verlore tyd in te haal. Toegang tot tegnologie plaas egter duisende hulpbronne, deur aanlyn platforms, binne die bereik van leerders.

Vir baie leerders is die rekordeksamen die eerste eksterne eksamen waar vraestelle nie noodwendig deur hul eie onderwysers opgestel word nie. Die manier van vraagstelling kan hulle omvergooi omdat hulle net gewoond is aan hul eie onderwysers se styl.

Die langer lengte van vraestelle in die rekord- en eindeksamen vereis ook dat leerders eksamenfiks moet word. Dít is net moontlik deur oefening. Jana Terblanche, ʼn vakspesialis by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), verduidelik dat dit belangrik is om vraagterminologie te bestudeer, byvoorbeeld wat die verskil tussen illustreer en analiseer, of verduidelik aan die hand van, ensovoorts, is.

“Leer met ander woorde die woordeskat van vraestelle aan, dit sal jou baie tyd spaar as jy nie hoef te wonder wat van jou verwag word nie,” sê Terblanche.

Sarina Prinsloo (Foto: Verskaf)

Ouers, familie en onderwysers speel ook ʼn baie groot rol in leerders se eksamenfiksheid ten opsigte van selfvertroue en sukses. Daarom moet ouers daarteen waak om matrikulante moedeloos te maak deur heeltyd te kontroleer of hulle besig is om te leer. Ondersteun waar nodig en bly positief.

Die SOS bied ook ʼn voorbereidende eksamen om matrikulante op die wiskunde-rekordeksamen voor te berei. Die eksamen bied aan leerders ʼn geleentheid om die kurrikulum te demonstreer, te bemeester en te konsentreer op afdelings wat nog steeds uitdagings veroorsaak. Leerders behoort ná hierdie eksamen beter voorbereid te wees op die eindeksamen. Die voorbereidende eksamen is beskikbaar op Die Wolkskool.

Laastens, aan elke matrikulant – onthou dat jou eie welstand en emosionele gesondheid eerste kom. Eet gesond, kry genoeg slaap, doen oefeninge (al is dit so eenvoudig soos om elke dag te gaan stap). As jy moeg en emosioneel voel, vra vir hulp of gesels met iemand wat jy vertrou om jou deur die belangrike tydperk by te staan.

  • Sarina Prinsloo is die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se skakelbeampte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.