Só bekwaam jy jouself as vakspesialisonderwys

Akademia bied op Saterdag 15 Mei ʼn aanlyn inligtingsessie aan wat handel oor een van die instelling se gewildste kwalifikasies, die Nagraadse Onderwyssertifikaat (ook bekend as NGOS) vir Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys.

Hierdie kwalifikasie, wat sedert vanjaar aangebied word, bied die ideale geleentheid vir persone wat reeds ʼn kwalifikasie voltooi het en hulself verder as hoërskoolonderwyser wil bekwaam.

Die sessie bied ʼn kort maar kragtige oorsig oor die NGOS-kwalifikasie en jy kan Saterdag 15 Mei, vanaf 10:00-11:00 sommer op jou rusbank by die huis hieraan meemaak. Die program is propvol waardevolle inligting sodat jy met ʼn geruste hart ʼn ingeligte besluit kan neem.

ʼn Blik word geneem op waarom jy NGOS moet oorweeg, die toelatingsvereistes tot die program, hoe die proeftydperke en klasbywoning werk, asook hoe die aanlyn aansoekproses verloop. Boonop is daar meer as genoeg tyd om kwelvrae in die kletsgedeelte aan die aanbieder te vra.

As jy nog altyd die onderwys wou betree en ʼn roeping ervaar om ʼn bydrae te lewer om ons kosbare jeug se lewens te verryk, dan is hierdie kwalifikasie vir jou. Daar is tans ʼn hoë aanvraag vir vakspesialisonderwysers by skole, wat hierdie Akademia-kwalifikasie aantreklik maak.

Die goeie nuus is dat NGOS nauurs aangebied word, wat ideaal is vir studente wat reeds bedags werk of ander verpligtinge het. Buiten die nauurse klasbywoning, is daar ʼn proeftydperke wat by skole voltooi moet word om te verseker dat NGOS-studente met die nodige praktiese vaardighede toegerus word.

Nuuskierig om meer oor hierdie kwalifikasie te lees? Besoek die Akademia-webblad om meer te lees.

Voornemende studente wat belangstel om die NGOS-inligtingsessie by te woon moet teen 14 Mei om 12:00 registreer om toegang tot die sessie te verkry. Klik hier om jou virtuele sitplek te bespreek. Aansoeke vir studie in 2022 open 1 Mei. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.