‘Só het my verhouding met my pa my lewe geraak’ – pa’s vertel

Coenraad Fick en sy seuntjie Reuben. Coenraad is een van die pa's met wie Maroela Media gesels het. Foto: Verskaf

Coenraad Fick en sy seuntjie Reuben. Coenraad is een van die pa’s met wie Maroela Media gesels het. Foto: Verskaf

“My pa het my dikwels gekielie tot ek dit nie meer kon uithou nie.”

Só vertel ʼn jong man, nou self ʼn pa, toe ek hom die afgelope week vra wat sy mooiste herinnering aan sy pa is.

Ek het dié vraag, en nog ʼn paar ander, die afgelope week aan ʼn paar pa’s gestel. Want uit ʼn vinnige video-opname wat Maroela Media by ʼn winkelsentrum probeer doen het om mense die geleentheid te gee om op kamera vir hul pa’s dankie te sê, het ons ʼn pynlike les geleer: Daar is maar min mense wat mooi herinneringe aan hul grootwordjare en hul verhouding met hul pa het.

Die pa’s met wie ek gesels het, het ʼn paar goed gemeen: Hulle het almal nog kinders in die huis, en almal neem hul rol as pa baie ernstig op. Daar is ook baie verskille tussen hulle: Hulle woon van die Kaap tot in Namibië en selfs Australië, en hul kinders se ouderdomme wissel van skaars uit die doeke tot mondigwording. Party van hulle vertel van ʼn wonderlike verhouding met hul pa’s; ander onthou net hartseer.

Maar ondanks hul verskille stem dié klomp pa’s se antwoorde op die meeste vrae verstommend baie ooreen.

Wat is die belangrikste ding wat jy jou kinders probeer gee of leer?

Ek kry twee antwoorde by al die pa’s: persoonlike tyd, en ʼn verhouding met God.

“ʼn Verhouding met God is die enigste sekerheid wat hulle ooit sal hê,” sê een pa. “Hulle moet weet God het ʼn spesifieke plan met hul lewe,” sê ʼn paar ander.

“Die belangrikste ding wat ek vir my kinders wil gee, is ʼn pa wat dáár is; ʼn vertrouensverhouding met my,” sê ʼn paar.

Stabiliteit, baie liefde en ʼn gesindheid van dankbaarheid is ook vir dié pa’s belangrik.

Wat is die lekkerste ding wat jy nog ooit saam met een van jou kinders gedoen het?

“Individuele afsprake met elkeen van my kinders,” sê byna al die pa’s – of dit nou ʼn koffie-afspraak, fietsry, stap, kamp, visvang, roei op die dam, lang ritte in die motor of vakansie hou op vreemde plekke is. Die belangrikste is dat dit alleentyd met een kind op ʼn slag moet wees.

“Dis vir my so lekker om te sien hoe opgewonde hulle daaroor is om alleen saam met my tyd deur te bring wanneer ek hulle uitneem,” sê een pa.

“Die heel lekkerste is vir my wanneer my kind in my arms aan die slaap raak terwyl ek vir hom ʼn storie lees,” sê iemand anders.

“Vir my is dit belangrik om elke mylpaal saam met hulle te vier, hoe klein ook al,” sê ʼn ander een. “Só bou ons herinneringe.”

Wat is die belangrikste ding wat jy by jou pa geleer het?

Ook hier loop sterk karaktereienskappe soos ʼn goue draad deur die pa’s se antwoorde: hardwerkendheid, uithouvermoë, eerlikheid, verantwoordelikheid vir jou eie keuses, integriteit, ʼn liefde vir die natuur.

“Ek probeer my kinders leer geen materiële vergoeding kan gesinstyd vervang nie,” sê een van die pa’s.

“Gee altyd jou beste, en hanteer ander mense soos jy graag hanteer wil word,” sê ʼn ander.

Wat is jou kosbaarste herinnering aan iets wat jy saam met jou pa gedoen het?

“Visvang, veral toe my oupa ook nog geleef het. Ek kan onthou hoe my pa vir my oupa met ʼn graaf trappe teen ʼn wal af gegrawe het toe hy al te swak van die kanker was om self tot onder te klim,” onthou een pa.

“Ons het saam gedraf toe ek klein was,” vertel iemand anders. “My pa was musikaal en het my met byna al my musiekeksamens self begelei. Hy was ook dikwels die een wat ons na ons buitemuurse aktwiteite toe aangery het.”

“Die lekkerste was kampnaweke wanneer ons lang ente met die Land-Rover op die strand moes ry om te kom waar ons moes wees, en dan vir ʼn klompie dae tussen niks en nêrens vis te vang,” sê nog ʼn pa.

“As kind het ek my pa gehelp om vleis te verwerk, wanneer hy self gejag of ʼn bok present gekry het,” sê iemand.

“Ek was 11 toe my pa dood is,” onthou een pa. “Maar ek onthou een dag wat ons saam op Ellispark na ʼn rugbytoets tussen die Springbokke en die Leeus gaan kyk het. Ek was seker so sewe of agt jaar oud. Dit was iets besonders.”

 Indien jy nie ʼn goeie verhouding met jou pa gehad het nie, watter uitwerking het dit op jou as seun gehad?

Baie van die pa’s vertel dat hulle nie ʼn goeie verhouding met hul pa’s gehad het nie, en dat hulle verward, onseker en rebels grootgeword het.

“Dit het ʼn groot leemte gelos,” vertel een pa. “Ek het dit gevul met goed soos pornografie en rekenaarspeletjies – my wegkruipplekke.”

“My pa was kwaai en onbetrokke,” sê ʼn ander een. “Ek het sonder ʼn vaste anker grootgeword en was altyd soekend en rebels.”

“My swak verhouding met my pa het vir ʼn lang tydperk my selfvertroue skade gedoen,” sê nog ʼn pa.

“Dit het my verward en alleen laat voel,” sê nog iemand. “Ek was nie seker of ek die enigste een is wat sekere goed beleef nie, en was onseker hoe om sommige situasies te hanteer. Dit het my rebels gemaak.”

Watter uitwerking het jou gebrekkige verhouding met jou pa op jou as volwassene?

Baie van die pa’s stoei steeds met die gevolge van ʼn swak verhouding met hul eie pa’s, maar almal kan getuig dat hulle daaruit geleer het om dinge anders te doen as die voorbeeld wat hulle gehad het.

“Ek was lank onseker oor hoe om my eie kind te hanteer, omdat ek nie ʼn rolmodel gehad het nie,” sê een pa.

“Ek het ʼn sagte plekkie vir kinders wat swaarkry,” sê iemand anders. “Ek is deurlopend betrokke by minder bevoorregte tieners, want ek wil ʼn inspraak maak in hul lewe en hulle lewensvaardighede leer.”

“Omdat ek nie ʼn goeie voorbeeld gehad het nie, val ek te dikwels terug op maniere van doen wat indruis teen wie ek graag wíl wees,” sê ʼn ander pa. “Ek sukkel dikwels om situasies reg te hanteer.”

Een pa som dit goed op: “Elke seun het nodig om by sy pa te hoor hy is goed genoeg, of, soos die Engelse sê, ‘You have what it takes’. As volwassene het ek lank na dié erkenning gesoek by my vrou, vriende en selfs kollegas, omdat ek dit nooit by my pa gekry het nie. Ek moes leer dat net God dié leemte kan vul. Bedienings soos dié van The World needs a Father en Wild at Heart het my gehelp om insig en genesing te kry.”

 Hoe probeer jy dinge anders doen as wat jou pa dit gedoen het?

“Ek het gesien wat ʼn afwesige pa aan kinders doen,” sê een pa. “My pa was by die huis, maar ook nie daar nie, as gevolg van werk en drank. Ons sorg dat ons praktiese goed doen soos om in die aand saam aan tafel te eet en oor ons dag te gesels. Dit skep ʼn veilige ruimte waarin almal in die gesin hul harte kan deel, mekaar kan raad gee en soms vir mekaar kan lag.”

“Ek probeer tyd maak om saam met elkeen van hulle dinge te doen en sommer net te gesels,” sê ʼn ander pa.

“Ek gee my seuntjie vrye teuels om te speel, terwyl hy nog kan; ek gee hom ook tonne liefde en drukkies, omdat ek dit nooit gekry het nie,” vertel iemand anders.

“Ek gee baie liefde, baie aandag, ons het openlike gesprekke oor alles en daar is baie pret in ons huis,” sê nog ʼn pa.

Wat is die een ding wat jy graag vir jou pa sou wou sê?

Ek vra dié vraag aan die pa’s wat nie ʼn goeie verhouding met hul eie pa gehad het nie.

“Pa, dis ongelukkig vir jou te laat om te verander,” sê een pa. “Ek hoop jou saak met God is reg, sodat ons eendag lekker kan kuier.”

“Ek wens ek kon meer tyd saam met jou hê. Ek wens jy was minder befoeterd, en ek wens jy en my ma het ʼn beter verhouding gehad,” sê ʼn ander pa.

“Ek is jammer dat Pa as kind so ʼn harde lewe gehad het,” sê nog een. “Maar ek wens Pa besef watter skade Pa aan Pa se eie kinders berokken het. Pa se selfgesentreerde optrede het nog steeds ʼn impak op Ma, wat steeds elke dag daarmee moet saamleef.”

“Ek weet Pa het die beste gedoen wat Pa kon,” sê iemand anders. “Pa het self sonder ʼn pa grootgeword en het nie van beter geweet nie. Ek is dankbaar vir wat ek by Pa kon leer, en ek is lief vir Pa.”

“Ek wens Pa het nie gerook nie,” sê een pa. “Dan sou jy langer vir my daar kon gewees het.”

Susan Lombaard

Meer oor die skrywer: Susan Lombaard

Susan Lombaard is die uitvoerende hoof van Maroela Media.

Deel van: Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
hanna

El hey nooit my biologies pa geken nie…… Dit het my nog nooit gepla nie.
God het aan my die mees WONDERLIKSTE GEGAAFDE EN GOD VRESENDE OUPA in die wereld gegee.
Hy was my held, ‘n Vrystaat Boer in much en been met “oudtydse” waardes.
My OUPA het my die vrou gevorm wat ek vandag is. My seuntjie sal hom nooit ken nie en weet God sal my as enkel ouer lei on hom groot the maak en die man the wees waarop sy oupa-groot sou trots kon wees…..
Dankie OUPA en mis you elke dag meer en meer.

neelsie

Wat sal jou nalatingskap eendag wees? (Nie die geld as erfporsie nie!) Maar dit wat waarde het. Ek onthou pa as die persoon wat nie vyande gehad het nie,altyd goed van ander gepraat het en die geduld van Job gehad het. Ongeleerd ,maar die wysheid van Salomo. Die liefde wat hy uitgestraal het was van God. Ons het hom baie jare gelede begrawe maar as ek by sy graf op die plaas kom ,gesels ons nog heerlik oor die dinge wat saak maak in die lewe. Ek vertel hom van sy kleinkinders se sukses en van die lief en leed… Lees meer »