Só kweek KKNK teaterliefde by kleinspan

Leerders van Laerskool Durbanville is te sien in ‘Kosblik’. (Foto: KKNK)

Toeganklik, bekostigbaar en hope gehaltepret.

Só som Schoemé Steenkamp, samesteller van die program vir kinderteaterproduksies by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), vanjaar se aanbieding vir klein teatergangers op.

Altesaam nege produksies en verskeie unieke en interaktiewe aktiwiteite wat beloof om die kleingoed moeg te speel, word vanjaar danksy Steenkamp, tesame met Lizané Basson en Hugo Theart, by dié fees aangebied.

Boonop vind al dié pret op een plek, in die Feesmarkterrein by die Klein KKNK-teater plaas en toegang is gratis vir alle Feesmark-kaartjiehouers.

Kinders tussen sewe en 13 jaar betaal R30 per dag vir toegang tot die Feesmark, terwyl kleintjies onder sewe met ouerbegeleiding gratis toegang geniet.

“Ons weet dit kan duur raak vir groot gesinne om verskeie vertonings by te woon en ons wou al die kindervermaak sentraliseer om ʼn teater-ervaring vir buitebesoekers én die nabye gemeenskap meer toeganklik te maak,” vertel Steenkamp aan Maroela Media.

Sitplek is beperk, onbespreek en produksies word daagliks om 10:30, 13:30 en 16:30 aangebied in die KKNK-Kinderteater se toegeruste feestent – wat ook heerlike ontsnapping en vermaak vir volwassenes bied.

Langsaan kan klein handjies en oortjies ook besig gehou word met aktiwiteite soos boekvoorlesings deur bekendes, poppekas en speletjies.

Craig Morris in ‘Die rooi ballon’. (Foto: KKNK)

Produksies soos Kosblik, wat opgevoer word deur leerders van Laerskool Durbanville, asook Rooi Boeties, moet volgens Steenkamp nie misgeloop word nie.

Kosblik lig letterlik en figuurlik die deksel op die inhoud van ons kossakkies en laat mens wonder wat sou gebeur as ons gunstelingtoebroodjies en sappies stemme kry.

Rooi Boeties is geskep en word opgevoer deur ʼn horende én dowe speler en gebruik gebaretaal as die vertrekpunt vir die visuele en fisieke taal en is veral op spruite tussen een en vyf jaar gemik. Volgens Steenkamp spreek dit boonop tot babas se natuurlike vermoë om gebaretaal aan te leer.

Die rolverdeling van ‘Ons is hier’. (Foto: KKNK)

Verhoogstukke soos Die rooi ballon, met akteur Craig Morris, vertel die storie van ʼn nors ou man wat sy verjaarsdag alleen vier, tot daar ʼn magiese rooi ballon by sy venster verskyn. Dié stuk sal volgens Steenkamp genot vir die hele gesin bied.

Familievermaak word ook elders in teaters aangebied met produksies soos Braam en die engel wat onlangs met die Fiësta-toekenning vir beste kinderproduksie gekroon is.

Veeltaligheid word boonop ook met produksies soos Ons is hier!/On est là!, wat in Afrikaans én Zoeloe aangebied word, aangemoedig.

“Daar is regtig moeite om vir verskillende ouderdomsgroepe en belangstellings onder die kleingoed te voorsien, maar bowenal gaan dit daaroor om vir hulle blootstelling aan teater te gee,” benadruk Steenkamp.

“Kinders kan nie self besluit wat hulle wil doen nie, so mens moet ouers oortuig van die belangrikheid van ʼn teater-ervaring. Hierdie kleintjies is ons toekomstige gehore en as ons al van jongs af daardie liefde vir teater in hulle harte kan kweek, sal teater se toekoms gesond bly.”

  • Klik hier vir meer inligting oor die KKNK se kinderteateraanbiedings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.