Somerdae die ideale tyd om saam met die kleinspan uit te span

Klouterende kinders (Foto: Carina Stander)

Vir ouers wat hande in die hare sit oor wat hulle dié vakansie met hul kroos gaan doen en hoe hulle die verveeldheid kan hokslaan, is daar heelwat aktiwiteite wat strek van uiters goedkoop, of amper verniet, tot so ʼn bietjie duurder.

Maroela Media het met Tanya Badenhorst, stigter van die ThingsToDoWithKids-tydskrif, gesels oor lekker goed wat gesinne saam kan doen tydens die feesseisoen.

“Met die lekker weer wat Suid-Afrika nou ervaar en die langer somersdae is dit die ideale tyd vir ouers om buitelugaktiwiteite saam hul kinders te geniet. Dit help ook om skermtyd in te kort. Ek glo dat dít wat jy vir jou kinders wys en leer, dié goed is waarvoor hulle eindelik ʼn lewenslus gaan ontwikkel.

“Somer is ʼn spesiale tyd vir gesinne om saam te kom. Ouers, sit julle fone neer in ʼn boks dié vakansie en geniet net mekaar,” sê sy.

Piekniek

Argieffoto (Foto: KristineLejniece/Pixabay)

Badenhorst stel voor dat gesinne vir hul ʼn lekker piekniekmandjie, vol lekkernye wat ʼn mens nie gewoonlik deur die jaar eet nie, in ʼn mandjie pak en koers kies. “Die piekniek kan in ʼn parkie in jou omgewing wees, ʼn eendjiedam in een van Suid-Afrika se pragtige botaniese tuine, of selfs in jou eie tuin gehou word.”

Sy sê die idee met ʼn piekniek is om ʼn atmosfeer van samesyn te skep en ook jou bene ʼn bietjie te rek. “Die kinders kan buite, in die natuur, rondhardloop en die ouers kan ʼn bietjie uit die harwar van die werkslewe kom.”

Badenhorst, wat in die Kaap woonagtig is, stel vir Kapenaars (en toeriste van reg oor die land) voor dat hulle beslis ʼn sterrekykpiekniek by die Taalmonument in die Paarl gaan bywoon. “Dit is ʼn magiese ervaring om die son te sien sak en die miljoene sterre saam jou kinders te ervaar. Gewoonlik moet kinders vroeg in die bed wees, maar dié soort piekniek gee hulle die kans om ook die naglewe te ervaar.”

Beplan ʼn avontuur in bome of in ʼn grot

Argieffoto (Foto: Pezibear/Pixabay)

Badenhorst stel voor dat ouers ʼn aktiwiteit soos Acrobranch, wat takke reg oor die land het, oorweeg. Daar het onlangs ook ʼn tak in Pietermaritzburg oopgemaak.

“Ek is mal daaroor omdat dit in die natuur is en ʼn aktiewe uitstappie. Boonop is dit ook ʼn opvoedkundige aktiwiteit in terme van ontwikkeling,” sê sy.

ʼn Pluspunt, sê Badenhorst, is dat dit ʼn gesinsaktiwiteit is waaraan almal kan deelneem.

Vir Gautengers stel sy die Wieg van die Mensdom voor, omdat kinders die Sterkfontein-grotte kan ontdek en hul verbeelding gebruik oor die wêreld van vroeër jare.

Gaan na die Waterfront

Waterfront (Foto: Alexander Mickel)

Vir Kapenaars én besoekers is daar die V&A Waterfront in Kaapstad, terwyl sonsoekers aan die KwaZulu-Natalse kus na die uShaka Marine World in Durban kan gaan.

“Die Waterfront in Kaapstad bied ʼn lekker uitstappie, veral vir ouers met jonger kinders, jonger as ses. Hier kan ʼn mens ʼn klomp sakpas aktiwiteite kry om te doen, soos om op die R20-treintjie te ry.”

Die akwariums by dié bestemmings is ook gerig op opvoedkundige waarde. “As jy aansluit as ʼn lid, kry jy heeljaar gratis toegang.”

Vir binnelanders is ʼn uitstappie na die Gariep-dam ook ʼn goeie keuse. Gesinne kan saam visvang, piekniek maak en die pretpark daar geniet.

Besoek ʼn wynplaas

Die eende van Vergenoegd. (Foto: Vergenoegd)

Badenhorst sê ʼn uitstappie na ʼn wynplaas klink dalk na ʼn vreemde keuse vir ʼn uitstappie met kinders, maar dit is eintlik ook ʼn uitstappie in die natuur. “Ouers kan hulle kinders van ʼn jong ouderdom af leer om verantwoordelik met alkohol om te gaan, maar ook op ʼn unieke manier die fyner kunsies lees van watter smake van kos saam met drinkgoed gaan.”

Kinders kry byvoorbeeld appelsap om saam met bessies of kaas op die proef te stel.

Vir die Kapenaars is Vergenoegd ʼn plek om te oorweeg omdat dié wynplaas elke dag ʼn eendeparade aanbied. Vergenoegd het sowat 1 200 eende wat as natuurlike plaagbeheer in hul wingerde ingestuur word.

Vir binnelanders wat ʼn wynplaas-ervaring wil geniet, is daar Ground The Venue in Muldersdrift, waar ʼn mens tussen die wingerde of in die restaurant kan ontspan, asook Stonehaven on Vaal in Vanderbijlpark, wat bootritte aanbied.

Badenhorst vertel dat sy die idee vir ThingsToDoWithKids, wat nou al ʼn webwerf, ʼn app en die kwartaallikse uitgawe insluit, ontwikkel het ná haar jongste, Phillip, in 2014 gebore is. “Ek en my man, Wessel, het in daardie stadium in ons gunstelingkoffiewinkel gesit en besef die betrokke restaurant werk nie meer vir ons nie omdat dit nie kindervriendelik is nie.” Die egpaar het ook ʼn sewejarige dogtertjie, Lente.

“As ouers, en ek dink baie ouers kan hiervan getuig, was dit ʼn groot aanpassing en ons spontaneïteit van voor en ná kinders is ewe skielik geknip.”

Die Badenhorsts het dus die idee verder ontwikkel omdat hulle die behoefte raakgesien het wat ouers het om steeds op die ingewing van die oomblik op ʼn uitstappie te gaan, sonder om ure eers daaroor na te vors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.