Sonslimwenke vir die kleinspan

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Die skoolvakansie is byna hier en vir die kleinspan beteken dit sonskyn, strande, swem en buite speel. Dit is belangrik dat kinders die son en buitelug moet geniet, maar die Suid-Afrikaanse son is niemand se speelmaat nie. Jong velletjies is ekstra kwesbaar.

Selfs geringe sonskade wat jou kind se vel kleintyd opdoen, kan later in sy of haar volwasse lewe lei tot probleme soos vlekke, vroeë veroudering of selfs velkanker. Maak dus seker die jongspan geniet die warm weer en buitelug sonder die eina van ’n seer sonbrand, en al die gevare wat daarmee gepaard gaan.

Tien wenke

Vermy piektye in die son: Die oumense het nie verniet geglo as jou skaduwee korter as jy is, moet jy uit die son bly nie. Tussen 10:00 en 16:00 is die son se strale gewoonlik die gevaarlikste. Probeer verhoed dat kinders in dié tyd lang tye in die son deurbring. Maak planne sodat kinders in die skaduwee kan speel of kuier, byvoorbeeld deur ’n gazebo op te slaan. Onthou, ’n ligte vel, sproete, rooi hare of blou oë maak ’n kind meer vatbaar vir sonbrand.

Kies die regte sonroom: Smeer kinders deeglik met sonroom, reeds ’n halfuur voordat hulle in die son kom. Gebruik waterbestande sonroom met ’n sonbeskermingsfaktor (SBF) van 30 of hoër, wat beskerming teen UVA- én UVB-strale bied.

Moenie suinig wees met die sonroom nie: Maak seker jy smeer elke ontblote deel van die lyfie deeglik. Selfs waterbestande sonroom kan afspoel, afsmeer of afsweet. Wend ’n nuwe laag sonroom aan elke twee uur of nadat hulle geswem het, of volg die vervaardiger se aanwysings op die verpakking.

Sonslimklere: Sonbeskermende swemklere met ’n SBF van 30 en hoër bied uitstekende beskerming. Leer kinders ook van kleins af om ’n sonbril te dra.

’n Hoed is ’n moet: ’n Breërandhoed beskerm jou kind se gesig, nek en ore teen die son.

Hou babas uit die son: Moenie sonroom op babas onder ses maande gebruik nie. Babas jonger as ses maande moet hoegenaamd nie tyd in direkte sonlig deurbring nie.

Moenie dat die wolke jou flous nie: Op bewolkte dae vergeet ’n mens maklik van al jou goeie voornemens om kinders veilig te hou teen die son. Tot 70% van die son se strale kan steeds deur wolke dring, en onverwags tot ’n pynlike sonbrand lei.

’n Sonbed is taboe: Kinders en tieners moet onder geen omstandighede toegelaat word om ’n sonbed te gebruik nie.

Drink genoeg vloeistof: Maak seker kinders drink genoeg water of koeldrank wanneer hulle in die son swem of speel.

Stel ’n voorbeeld: Maak seker jy stel ’n voorbeeld deur óók sonroom en beskermende klere te dra en te sorg dat jy nie te lank in die son bak nie. Leer kinders van kleins af dat ’n sonbruin vel nie belangriker as jou gesondheid is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-Man ·

My wenk is om die SBF te sien as ‘n aanduiding van hoelank jy kan gaan voor jy weer sonroom aanwend.
D.w.s. SBF 30 moet elke halfuur aangewend word en SBF 50 elke 50 minute.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.