Speelgoed uit vervloë dae steeds topverkopers

Cabbage Patch-poppe. Foto: Smyths Toys.

Wonder jy nog watter Kersgeskenk om vir die jongspan en jonges van gees in die familie aan te skaf? Dalk wil jy gaan loer na die topverkopers oor die laaste 50 jaar wat kinders steeds ure se vermaak verskaf het:

  1. Cabbage Patch-poppe

Dit is amptelik, hierdie oulike mollige Cabbage Patch-poppe is jaarliks die topverkoper in kinderspeelgoed sedert die Kersfees van 1983.

Hierdie poppe is 36 jaar later nog steeds op die winkelrakke beskikbaar en die moderne weergawe van dié poppe is net so oulik soos die oorspronklikes en nou ook gesogte versamelstukke.

  1. Rubik’s Cube

Die Rubik’s Cube. Foto: Rubiks.com

Die Rubik’s Cube is deesdae weer een van die beste verkopers as dit by legkaartspeletjies kom. Hierdie kubus is in 1974 deur die Hongaarse professor Erno Rubik uitgevind en het byna onmiddellik kultusstatus onder kinders en volwassenes in die sewentigs bereik.

Die kubus met sy kleurvolle blokke verskaf ure se plesier aan dié wat daartoe in staat is om dit te ontsyfer en byna net soveel frustrasie vir dié wat nie daarin kan slaag om dieselfde kleur blokkies bymekaar te groepeer nie.

Meer as 350 miljoen van hierdie kubusse is wêreldwyd aan aanhangers van die 3D-kombinasielegkaart verkoop.

  1. Monopoly

Dié klassieke bordspeletjie Monopoly is beskikbaar in meer as 550 variëteite en die aanbod groei bykans jaarliks. Foto: Toy Kingdom.

Monopoly bly die topverkoper as dit by bordspeletjies kom en sekerlik ook een van die bekendste van hierdie soort speletjies.

Dit is oorspronklik ontwikkel as ʼn opvoedkundige hulpmiddel om die VSA se ingewikkelde belastingstelsel te verduidelik. Monopoly het egter vinnig verander in ʼn spel waar almal die bank wil wees en elke ʼn kans aangryp om ʼn bietjie papiergeld te verduister, alles in die naam van ʼn prettige gesinsaand saam.

Dié klassieke bordspeletjie is beskikbaar in meer as 550 variëteite en die aanbod groei bykans jaarliks. Die nuutste weergawes van die gewilde bordspeletjie in Suid-Afrika sluit ook ʼn Monopoly Springboks in.

  1. Teenage Mutant Ninja Turtles

Hierdie gewilde aksiefigure is nog al die jare ʼn topverkoper in sy kategorie sedert hulle ontstaan in die laat 1980’s. Foto: Amazon.com

Hierdie gewilde aksiefigure is nog al die jare ʼn topverkoper in sy kategorie sedert hulle ontstaan in die laat 1980’s. Die antropomorfiese tienerskilpaaie het die verbeelding van kinders oor die wêreld heen aangegryp nadat die karakters in strokiesprente, verskeie rolprente, videospeletjies en hul eie televisiereeks verskyn het.

Dit was net vanselfsprekend dat die speelgoed en aksiefiguurtjies ook gewild sou wees as ʼn Kersgeskenk en kry ʼn welverdiende vierde posisie op die toptienlys.

  1. Buzz Lightyear van Toy Story

Buzz Lightyear verskyn al sedert 1996 op die winkelrakke. Foto: Toy Kingdom.

In 1996 het fliekvlooie vir die eerste keer die onsterflike woorde “To infinity and beyond” gehoor uit die mond van Buzz Lightyear, een van die hoofkarakters van die animasierolprent Toy Story.

Die rolprent was so gewild dat die vraag na die Buzz Lightyear-speelding alle verwagtinge oortref het. Met talle opvolgrolprente van Toy Story het Buzz Lightyear ʼn topverkoper gebly en is hy steeds nie net die gunsteling van die fiktiewe Andy nie, maar van kinders oral oor.

  1. Barbie-poppe

Barbie is dalk al 60 jaar oud maar laat dogtertjies se harte nog altyd vinniger klop. Foto: Target.com

Barbie is gebore op 9 Maart 1959, nadat Ruth Handler, ʼn swanger Amerikaanse entrepreneur, ʼn gaping in die mark gesien het vir ʼn volwasse pop vir kinders. Die meeste poppe in daardie jare het net soos babas gelyk.

Barbie het spoedig ʼn topverkoper geword en die handelsmerk is verder uitgebrei met die toevoeging van haar kêrel, Ken, asook ʼn hele reeks uitrustings, bykomstighede en ander vriendinne.

  1. Teletubbies

Po een van die die Teletubbies se reeks sagtespeelgoedpoppe. Foto: Amazon.com

Sagtespeelgoedpoppe wat lyk soos die karakters van die televisiereeks Teletubbies is van die gewildste sagtespeelgoed vir kleuters wat steeds verkoop word.

Die Teletubbies het op die kassie van 1997 tot 2001 vertoon en die hoofkarakters het vinnig hul pad na Kerskouse in dieselfde tydperk gevind met sagte speelgoedpoppies wat lyk soos die hoofkarakters Tinky Winky, Dipsy, Laa-Laa, Po en Noo-Noo lyk.

  1. Furbies

Die enigste elektroniese speelding wat sy buiging op die toptienlys maak is Furby. Foto: Takealot.com

Die enigste elektroniese speelding wat sy buiging op die toptienlys maak is Furby.

Dié interaktiewe robot-troeteldier is vir die Kersfees van 1998 bekendgestel en sedertdien het die Furbies ʼn geskatte 80 miljoen eenhede wêreldwyd verkoop. Dit was ook die topverkoper vir die Kersfees van 2012.

Daar word deurentyd ook nuwe toevoegings vir Furby ontwikkel, soos ʼn Ruby Boom app. in 2013 wat verseker dat die elektroniese speelding steeds gewild sal bly.

  1. Lego-blokkies

Die klassieke Lego-blokkies. Foto: Toy Kingdom.

Lego-blokkies is sekerlik een van die oudste speelgoed wat gereeld op alle toptienlyste van speelgoed verskyn. Dié blokkies is in 1949 vir die eerste keer geproduseer en sedertdien is daar al meer as 560 miljard van hierdie klein baksteenblokkies vervaardig.

Lego is ʼn gewilde speelding en sal waarskynlik altyd een van die beste verkopers wees danksy die onderneming se vermoë om byderwets te bly en tematiese blokkiereekse te maak wat aansluit by die popkultuur-rolprente en televisiereekse soos Star Wars, Batman en selfs SpongeBob SquarePants.

Dogtertjies kan ook al vir etlike jare na hartelus saambou met ʼn uitgebreide reeks blokkies wat by jong meisies sal aanklank vind.

  1. Tamagotchi

Tamagotchi sal sekerlik altyd liefdevol onthou word as dié oorspronklike troeteldier van die virtuele werklikheid. Foto: Wikipedia.com

Tamagotchi sal sekerlik altyd liefdevol onthou word as dié oorspronklike troeteldier van die virtuele werklikheid.

Hierdie klein speelding het kinders die verantwoordelikheid gegee om hul digitale troeteldier te voed, was en na hulle om te sien. Waag dit net om hierdie take nie behoorlik en gereeld uit te voer nie, en jou diertjie dooi en jy moet alles weer van vooraf begin.

Na raming is daar teen 2010 meer as 76 miljoen Tamagotchi in die wêreld verkoop. Dié sakgrootte virtuele troeteldiertjie was in 1997 die gewildste speelding en dit het in 2017, weereens, nuwe gewildheid verwerf.

 Bronne: Funkyretro.net en Pocket-lint.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.