Stroomop, stroomaf

Stroomop_dekor.jpeg

Foto: Eugene Lottering

Só kry ons die kans om weer pad te vat en te gaan fliek. Stroomop. Ons kry die geleentheid om vir ons gaste, van besigheidsvennote tot by gemeenskapswerkers, dié rolprent eerste te wys. Dit is ’n fliek vir die vrou. Daarom word Stroomop op 9 Augustus bekendgestel – Vrouemaand.

’n Week lank is dit redelik chaos in ons projekspan se lewens. Dit is behoorlik ’n geskarrel om alles gereed te kry. Die promosiekantoor is vol kardoese. Dit is Stroomop– en Maroelageskenke, Swartlandwyne en Finesse-tydskrifte. Daar is e-posse wat rondvlieg tussen ons en Panarottis-takke in The Grove Mall in Pretoria, Vaal Mall in Vanderbijlpark en Matlosana Mall in Klerksdorp. Ons gee lang treë, pak motors in, pak motors uit, slaan baniere op, slaan baniere af, ry van een dorp na ’n ander.

Dis lekker werk. Maar vir ons twee vroue in die span is daar egter die heeltyd hierdie stemmetjies in ons binneste wat hard met ons praat. Is al die reëlings rondom ons kinders uitgesorteer, het ek onthou om die pa in te lig om die jongste by hokkieoefening uit te kry en hom weer betyds op te laai? My middelste een moet verbruikerstudieklasse bywoon aan die ander kant van die stad terwyl ek uitstedig is. Tussendeur word manlief 50 jaar oud en ek is nie eens tuis nie! Ek sien hoe oë rol wanneer ek dit noem en die skuldgevoel word net sterker. Gelukkig het ek voor die tyd seker gemaak hy word ekstra bederf met ’n Italiaanse ete saam met goeie vriende, ’n nuwe koffiemasjien, ’n naweek weg in Clarens en ’n ronde gholf. Dit sus so ’n klein bietjie die gewete…

Stroomop_Klerksdorp_Maroela.jpeg

Bianca Wolmarans en Marianna Fourie van iADD en Annelize Brits en Elana Barker van Maroela Media tydens die geleentheid in Klerksdorp.

So pak ek en my een kollega die pad Klerksdorp toe aan. Die meeste van ons gesprekke draai rondom al die balle wat ons in die lug moet hou, hoe moeilik dit is en dat dit die meeste van die tyd voel asof daar vir elke bal wat in die lug gehou word, tien ander val! Ons ruil idees uit oor hoe om elke aand maklik en pynloos ’n gebalanseerde ete op die tafel te hê. Ons giggel oor sommige mammas wat maklik ’n uur voor die skool uitkom, reeds met vriendinne onder bome by skole kan staan en kekkel. Hulle gesels seker oor naels wat gedoen moet word, gymsessies wat té lank aangehou het en ruil nommers uit van haarkappers en tannies wat klavierlesse gee – wel, dit is wat ons dink.

So kyk ek Stroomop ’n totaal van vier keer in ’n kwessie van tien dae. Elke keer beleef ek die storie op ’n ander manier. Dit gaan oor vyf vroue, elkeen met hulle eie storie. My storie, jou storie, ons storie. Stories van te veel werk, te min tyd, te veel eet, te min oefen.

 Leonie_stroomop_akteurs.jpg

Ivan Botha en Donnalee Roberts saam met Leonie Bezuidenhout van Maroela Media en gaste wat die geleentheid by The Grove Mall in Pretoria bygewoon het.

Vroeg al spat die trane. Dr. Lana (Donnalee Roberts)  wat in haarself twyfel en dink sy is nie meer goed genoeg nie. Vivian (Simoné Nortmann) wat net nie liefde kan vind nie en wat haar eie krane moet regmaak. Diona (Ilse Klink), ’n suksesvolle prokureur, maar wat lank terug al die huishouding oorgelaat het aan manlief, en haar dogter, Nixie (Carla Classen), wat haar kwalik neem omdat sy so ’n afwesige ma is. Hulle hartseer lê diep, bitter diep. Dié een wat hulle huis aan die gang gehou het, die sagte plekkie was tussen ma en dogter, is weg, hy is dood. Hoe verwerk jy die dood van iemand so bitter naby aan jou? Dan is daar Adrie (Chanelle de Jager), die mamma met drie besige seuntjies en ’n man wat baie lief is vir haar, maar sy is té lief vir rooifluweelkolwyntjies… en elke slukkie koolsop wat sy moet neem, herinner haar aan haar tekortkominge. In die rolprent is daar met tye oop, wye stiltes. Dit maak sin. Jy kry kans om binne jouself te kyk, om te dink.

Foto: Annelize Brits

Die vroue wat saam met ons gefliek het was dit eens. Op die ou end sien elke vrou ’n stukkie van haarself in ten minste een van die vyf vroue. Maar die storie eindig vol hoop… realistiese hoop… Ná ’n paar kinders gaan jou liggaam nooit weer dieselfde wees nie – maak vrede. Jou tyd gaan nooit méér word nie, en nooit weer net joune wees nie. Leer om vrede te maak. Om die regte lewensmaat te vind, vat tyd. Moontlik het jy ’n beroep opgegee om voltyds mamma te wees; dít is jou roeping en dit is waar jy moet wees. Moontlik is jy ’n werkende mamma. Dít is waar jy moet wees, waar jy geplaas is om ’n verskil te maak.

Ons kyk soms na ’n ander en wens die rolle was omgeruil. Maar weet dit: Daar waar jy is, is waar jy moet wees, waar jy nodig is en waar jy ’n verskil kan maak. Soms spartel ons so erg teen die stroom op dat ons nie eens agterkom wanneer ons begin stroom af beweeg nie. Soms is dit nodig om daardie rooifluweelkolwyntjie te eet – nie net een nie, sommer twee!

Stroomop wys tans in teaters landswyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

sandra ·

Ek en my dogter van 13 het dit gister gaan kyk en dit terdee geniet. ek kyk nie graag Afrikaanse flieks nie, maar die 1 was beslis die moeite werd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.