Suksesvolle kinders het dié agt karaktereienskappe

Toekomsberaad-Danie-Brink

Dr. Danie Brink uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. Foto: Reint Dykema.

… en skoolwiskunde help om minstens vier daarvan te bekom …

In sy boek How Children Succeed: Confidence, Curiosity and the hidden power of Character, gee Paul Tough agt eienskappe wat kinders suksesvol maak. Elke ouer en onderwyser (opvoedkundige is ’n baie beter benaming) behoort baie in Tough se lys belang te stel. Ons is immers in die bedryf om kinders suksesvol te help maak, dan nie?

Dus, hier is die lys: vasbyt, selfbeheer, lewenslus, sosiale intelligensie, dankbaarheid, optimisme, nuuskierigheid, uitgestelde bevrediging.

Hoe kan wiskunde help om van hierdie karaktereienskappe te bekom?

Vasbyt: Wiskunde is bekend as een van die moeilikste skoolvakke. Byna daagliks word leerders gekonfronteer met moeilike situasies wat hulle nie kan oplos nie en “vasbyt” raak deel van hulle voortbestaan. Gelukkig lei wiskunde gewoonlik tot ’n baie goeie “opbrengs” wanneer kinders vasbyt en die beloning lei dan tot verdere volharding.

Selfbeheer: Om te beweeg van wiskunde wat jy ken, deur ’n tydperk van “wiskundige ongemak” waar jy te doen kry met die gebreke in jou kennis, tot by die ontdekking van nuwe kennis verg selfbeheersing. ’n Goeie wiskunde-onderwyser behoort leerders verkieslik daagliks deur hierdie wiskundige ongemak te neem (party van ons het lewenslange wiskundige ongemak). Leerders met selfbeheersing vaar goed en selfbeheersing word beloon deurdat hulle nuwe wiskunde aanleer wat die kennisgaping vul.

Nuuskierigheid: Die wiskunde-sillabus is vol skatte wat ontdek kan word. Daagliks kom leerders te staan voor probleme. Nuuskierige kinders is dié kinders wat gou-gou moue oprol en die bul by die horings pak. Nuuskierigheid word beloon in die wiskunde-klaskamer en minder nuuskierige klasmaats sien gou die opbrengs op die “nuuskierigheidsbelegging” van hul maats.

Uitgestelde bevrediging: “Sal ek eers my wiskunde-huiswerk doen, of eers saam met my maats gaan rugbybal skop?” Hierdie probleem is ’n daaglikse verskynsel vir wiskunde-studente wêreldwyd. Dié wat bevrediging uitstel, word beloon met sukses in die vak.

Die ander vier karaktereienskappe word hoofsaaklik tuis aangeleer en hoe skrikwekkend dit ook al mag klink, hulle word hoofsaaklik deur gedragsnabootsing (modellering) van die ouers aangeleer, of nie. (“Maak soos ek sê, moenie maak soos ek maak nie!”)

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Brink

Meer oor die skrywer: Danie Brink

Dr. Danie Brink is die uitvoerende direkteur van Skoleondersteuningsentrum.

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann Marx

Regtig? Nou wat het geword van “natuurlike aanleg”? Jy kry tog kinders wat ‘n besondere aanleg het vir tale, musiek, kuns en sport………en geknak word deur die alewige gefokus op “wiskunde”………en jy kry kids wat “wiskundige wonderwerke” is en op GEEN ander gebied enigsens presteer nie…..?? en dit het net mooi NIKS met hulle karakter te doen nie, en ek’s nie eens ‘n “doktor” nie….ek let net op in die klas.

John

Geen praktiese toepassing van wiskunde is deel van die leerplan nie. In wiskunde leer mens gou a+b=c, maar in die werklike lewe word jy gekonfronteer met: As ek dit doen en dat doen = dit die gevolg. Dit is hier waar ons somme eintlik tot hul reg kom. In wereldsake kom ons voor ingewikkelder probleme te staan. Wanneer ‘somme’ hier op verkeerde antwoorde en uitkomste uitloop, is daar moeilikheid. Kinders wat sukkel met wiskunde kan gehelp word deur die vak te vermenslik. Wiskunde is darem ook nie die begin en einde van lewensgeluk nie hoewel wiskunde onnies dit so laat… Lees meer »

vrikie

Daar word altyd labels op kinders se opvoeding geplaas, in ‘n utopiese omgewing is dit dalk moontlik .Die kenners noem niks van die omstandighede waarin kinders deesdae groot word nie. Die feit dat iemand soos Tony Factor en die eienaars van Twin trailers wat disleksies was en nie hulle skoolloopbane kon voltooi hoogs suksesvolle besigheids manne geword het ,is ‘n goeie bewys van deursetting vermoe sonder wiskunde

LB

Ek het geluister na die karakter beskrywing van Dr Danie Brink se kinders tydens hulle begrafnisdiens en het soveel respek vir wie hulle as gesin is. Die karakter wat daardie kinders openbaar het op so ‘n jong ouderdom spreek boekdele. Daardeur kan gesien word dat hierdie ouers hulle kinders reg opvoed met vaste waardes en beginsels en selfrespek omdat hulle ander ook met soveel respek behandel. Ek het selfs gewens hulle kan ‘n boek skryf met riglyne vir ander mense om daardie “magic” ook in die res van die volk te kan oordra. Ek kan egter nie die hoeveelheid erkenning… Lees meer »

Joe

Mnr Brink, ek stem 100% saam met u. Maar wat gemaak met standaarde in skole. Wat is die slaagsyfer deesdae vir wiskunde, as ek dit nie mis het nie en in layman’s terms gestel, is dit dat n leerling 2 uit 10 vrae reg moet he om te slaag???? Ek het nie kinders op skool nie so ek is nie seker nie.