Swanger? Nege maande, nege geldwenke

(Foto: iStock)

Swangerskapnuus bring groot opgewondenheid en afwagting, en teen die tyd dat die negemaande-aftelling verby is, het ’n mens bykans elke denkbare bababoek deeglik bestudeer. Wat egter in die pienkvoetopwinding dikwels agterweë bly, is om te beplan hoe jy finansieel vir dié klein klits gaan voorsien as die ooievaarsteedoeke opdroog.

Volgens die regering se jongste berekenings beloop die koste vir ’n middelinkomstegesin om ’n kind groot te maak sowat R256 per dag, oftewel byna R7 800 per maand. Dit kom neer op R1,7 miljoen om ’n kind van geboorte tot 18-jarige ouderdom finansieel te ondersteun – en dit is met inflasie buite rekening gelaat.

Op die koop toe sluit dié bedrag nie die koste van tersiêre opleiding in nie. Die vooruitsig van ’n kleinding is enersyds opwindend en andersyds vreesaanjaend – jy moet jou immers gereedmaak vir ’n finansiële verpligting gelykstaande aan die paaiement van ’n tweede eiendom!

Hier is nege wenke, een vir elke maand van jou swangerskap, wat jou in staat sal stel om te sorg dat jou spaarvarkie genoeg geld het vir die nuwe seisoen in jou lewe.

Begroot vir die bevalling

’n Normale bevalling in ’n private hospitaal kan jou in die omgewing van R20 000 uit die sak jaag en vir ’n keisersnit kan jy nog R7 000 tot R8 000 by dié bedrag las. Voeg hierby al die swangerskapondersoeke by die ginekoloog en hedendaagse skanderings, en dit groei tot ’n aardige bedrag.

Selfs al is jy lid van ’n goeie mediese fonds, is daar dikwels bybetalings. Vind vroeg uit wat word wel gedek en begroot vir dít wat die medies nie gaan betaal nie. Daar is niks wat die vreugdevure van ’n nuwe bondeltjie so blus soos ’n stapel rekeninge nie.

Onthou ook dat jou baba ná die geboorte as afhanklike op jou mediese fonds gaan bykom. Maak seker jy vind uit hoe dit jou maandelikse mediese paaiement gaan beïnvloed en hou dit in gedagte as jy jou gesinsbegroting opstel.

Staal jou vir die aanvanklike uitgawes

Doeke, formulemelk, inentings en opvolgondersoeke by die pediater is peperduur.

Ofskoon elke nuwe ouer die blinkste en beste vir sy of haar bloedjie wil koop, kan jy gebruikte benodigdhede soos ’n stootwaentjie, bababedjie en motorstoeltjie vir ’n appel en ’n ei opraap, teen ’n breukdeel van die koste en bykans splinternuut. Loer by ’n plaaslike Ons Winkel van Solidariteit Helpende Hand in of snuffel op die internet rond vir winskopies.

Vind uit wat dagsorg kos en of ’n inwonende oppasser jou nie minder uit die sak sal jaag wanneer jy moet terugkeer werk toe nie. Onderhandel met jou werkgewer oor fleksietyd of ’n tuiskantoor sodat jy jou baba nie voltyds in iemand anders se sorg hoef te laat nie.

Geldplanne vir elke treetjie

Dis nou die tyd om van lastige skuldjakkalsies ontslae te raak. Die rente op kredietkaartskuld lê ’n mens lam en hoe gouer jy hiervan ontslae kan raak, hoe groter is jou maandelikse besteebare inkomste. Onthou: Kontant is koning. As jy iets nie nou kan bekostig nie, spaar eers.

Steek kers op by vriende oor wat ’n baba in die eerste jaar (regtig) nodig het en maak jou somme hiervolgens. As dit binne jou vermoë is, begin nou reeds aan jou babavoorraad bou.

Waak daarteen om te veel klere te koop (al is dit hóé fraai), veral vir die ouderdom 0 tot 9 maande, omdat jou baba soos ’n boontjierank gaan opskiet en sekere klere dalk glad nie gaan dra nie omdat hy of sy te vinnig groei. Beplan jou kind se klerekas vooruit volgens die spesifieke seisoen wat hy of sy ’n sekere ouderdom gaan wees.

Span daardie veiligheidsnet

Maak nie saak hoe haarfyn jy alles beplan nie – soms gooi die lewe onverwags ’n goëlbal na jou kant toe. Met ’n kleinding in die huis is dit belangriker as ooit om te weet jou gesin het ’n neseier om op terug te val in geval van onvoorsiene mediese onkoste of ’n verlies aan inkomste.

Maak seker jy het ’n nugter blik op jou gesin se geldsake, en dat jul begroting voorsiening daarvoor maak dat julle elke maand ’n geldjie in ’n spaarrekening wegsit. Een manier om dit reg te kry, is om op onnodige uitgawes te besnoei.

Volgens die Suid-Afrikaanse Spaarinstituut is ’n begroting die beste manier om onnodige uitgawes te belig en jou in staat te stel om beter finansiële beplanning te doen. Maak ’n lys van jou maandelikse verpligtinge en hou rekord van al jou daaglikse uitgawes, maak nie saak hoe klein dit is nie. As jy dit vir ’n volle maand lank gedoen het, sal jy ’n duideliker prentjie van onnodige besteding kry.

Maak ook seker jul spaargeld word kundig belê. Gesels met ’n finansiële beplanner oor opsies soos ’n belastingvrye spaarrekening en om seker te maak jy verdien die bes moontlike opbrengs op jul neseier.

Moenie spaar vir aftrede agterweë laat nie

Met al die finansiële eise en uitdagings wat ’n nuweling aan jul huishoudelike begroting kan stel, kan ’n mens maklik jou langtermyndoelwitte uit die oog verloor. Gesels met ’n finansiële beplanner oor jul aftreeplanne, en stel realistiese doelwitte.

Onthou, jou kind gaan eendag die nes verlaat en dan moet jy genoeg geld weggesit het om vir jou oudag te voorsien. Die werklikheid is dat een uit elke tien Suid-Afrikaners glad nie ’n weldeurdagte aftreeplan het nie.

Begin spaarplanne beraam

Suid-Afrikaners het van die swakste spaargewoontes ter wêreld. Hoe vroeër jy jou kinders die waarde van spaar kan leer, hoe beter. Die meeste banke bied spesiale spaarrekeninge vir kinders, met lae of geen bankkoste, en belastingvoordele. Dit is ’n goeie manier om vroeg reeds te begin spaar vir daardie eerste motor, oorsese reis of studiegeld.

’n Spaarrekening kan jou kind vroeg-vroeg al belangrike lesse leer wat die res van sy of haar lewe vrug kan dra. Andrew Johnson van die Money Advice Service sê dit is belangrik om kinders van kleins af te help verstaan dat jy geld namens hulle spaar, en dat hulle begryp hoe belangrik dit is om te spaar en jou geld behoorlik te bestuur.

Begin dink aan skool- en studiegeld

Wanneer jy vir jou kind se onderrig begin spaar, is dit belangrik om in gedagte te hou dat skoolgeld en ander onderriguitgawes nie die inflasiekoers vryspring nie. ’n Kind wat vanjaar in graad een is, se skoolgeld kan tot twee en ’n half keer meer beloop teen die tyd dat hy of sy op hoërskool is. En dan is daar natuurlik ekstra uitgawes soos sport en ander buitemuurse aktiwiteite, skooltoere, handboeke en skryfbehoeftes wat in ag geneem moet word.

Dit is nooit te vroeg om vir jou kind se onderrig te begin spaar nie. Oorweeg gerus finansiële produkte soos ’n polis wat kan help om die koste van jou kind se skool- en universiteitsopleiding te dek.

Sorg vir lewensversekering

Midde-in al die opwinding van ’n baba wat op pad is, is die dood, aflegging en mediese ongeskiktheid die laaste dinge waaraan ’n mens graag wil dink. Jy is dit egter aan jou gesin verskuldig om seker te maak hulle is behoorlik versorg indien jy of jou maat te sterwe kom of nie meer in staat is om finansieel by te dra nie. Maak seker julle het voldoende dekking om in al jul gesin se maandelikse finansiële behoeftes te voorsien, sou die onvoorsiene gebeur.

Bring jou testament op datum

Na raming sterf tot 75% van Suid-Afrikaners sonder ’n geldige testament. Dit kan verreikende gevolge inhou vir die res van die gesin wat agterbly. Dit is nou ’n belangrike tyd om ’n testament te laat opstel, as julle nie reeds het nie, of aanpassings aan jul bestaande testament(e) te laat maak.

’n Belangrike aspek hiervan is om te besluit wie julle as wettige voogde van jul kind(ers) wil benoem, ingeval julle albei te sterwe sou kom, en dit so in die testament uiteen te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Spaar, spaar, spaar. Dis partykeer maar moeilik as daar soveel mense is wat al klaar alle luukshede gesny het en steeds net van die hand na die mond kan leef. Dis uitdagend om by n begrotings plan te hou as brandstof, kos, krag ens net opgaan sonder dat jou salaris kan by hou. Ons besef dat swangerskap en n nuwe gesin meestal beplan word, maar dit kan nie net wees vir die wat alles kan bekostig en nog oor het om te spaar nie. Die groot realiteit is dat almal nie in die “spaar bootjie” kan klim nie. Nie omdat hulle nie wil nie maar omdat hulle nie kan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.