Taal speel nie ʼn rol in gr. R’s se geheuevaardighede

(Foto: Pixabay)

Gr. R-leerders wie se moedertaal nie Engels is nie, vaar net so goed soos hul Engelssprekende maatjies wanneer dit kom by die stoor en verwerking van klein hoeveelhede inligting wat nodig is vir leer, probleemoplossing en berekeninge, het ʼn onlangse studie bevind.

Wat hulle wel kniehalter is hul gebrek aan vaardighede in Engels, maar ’n paar ekstra lesse behoort hul Engels-taalontwikkeling sowel as hul akademiese prestasie te verbeter.

“Net die nodige Engelse vaardighede ontbreek by hierdie kinders om akademies goed te kan vaar, want hul werkende geheue of korttermyn-geheuevaardighede is op dieselfde vlak as hul maatjies s’n,” sê dr. Michelle White, ’n deeltydse dosent aan die Departement Algemene Taalwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het onlangs haar doktorsgraad in Algemene Taalwetenskap aan die US verwerf.

White wou uitvind wat die kognitiewe en taalkundige ontwikkeling van ’n tipiese gr. R-leerder behels wat besig is om Engels aan te leer deur middel van onderrig in Engels – die voorkeur-onderrig- en leertaal in baie Suid-Afrikaanse skole.

“Talle Suid-Afrikaanse kinders leer in Engels hoewel hulle nie eintlik Engels magtig is wanneer hulle begin skoolgaan nie. Hulle word dus in ’n taal onderrig wat vir hulle feitlik heeltemal vreemd is.”

As deel van haar studie het White die ontwikkeling van gr. R-leerders se Engelse taalvaardighede en die kognitiewe prosesse onderliggend hieraan in ’n multikulturele klaskamer in ’n Engelsmediumskool ondersoek.

Altesaam 34 gr. R-leerders by ’n skool in die groter-Kaapstad-gebied met leerders uit verskeie kulturele en taalagtergronde het aan die studie deelgeneem. Een groep se huistaal was Engels, terwyl die ander groep nege verskillende huistale gehad het en glad nie vlot in Engels was nie.

Hierdie leerders is drie keer in die duur van een skooljaar getoets met behulp van ’n volledige Engelse taalassessering, ’n Engelse woordeskattoets en vier werkende geheue- toetse.

“Die werkende geheue- toetse was veral deurslaggewend omdat hierdie deel van ons korttermyngeheue nie net in ons alledaagse lewe baie belangrik is nie, maar ook ’n sleutel-kognitiewe proses is wat grondliggend is vir die aanleer van taal en skoolprestasie in byvoorbeeld wiskunde en lees,” sê White.

Dr. Michelle White (Foto: Verskaf)

“My studie toon dat leerders met Engels as huistaal deur die loop van die jaar omtrent dieselfde in die werkende geheue- toetse gevaar het as hul tweedetaal-maats. Dit beteken dat hul werkende geheue- vermoë onafhanklik is van hoeveel hulle van Engels weet.

“Al het die Engels-eerstetaalsprekers beter gevaar in al die Engelse taal- en woordeskattoetse, het diegene met ander huistale goed bygekom – soveel so dat sommige van die kinders teen die einde van die jaar die Engels-eerstetaalsprekers feitlik heeltemal ingehaal het.

“Soos verwag kon word, het die Engelssprekende kinders deurlopend deur die hele jaar beter as hul maats in alle taalmetings gevaar. Hulle het ’n groter woordeskat gehad en hul begrip en gebruik van Engels was ook beter.”

White wys egter daarop dat die patroon waarop albei groepe se Engelse en werkende geheuevaardighede deur die jaar ontwikkel het, dieselfde was.

“Dit beteken dat nie-Engelssprekende kinders se kognitiewe en taalontwikkeling dieselfde roete as dié van hul Engels-eentalige maats volg, ongeag van wat hul aanvangskennis was,” sê sy.

Volgens White het die bestudering van die werkende geheue vir hulle waardevolle insig gebied, aangesien dit nie beïnvloed word deur die hoeveelheid kennis wat ’n kind het nie.

Sy meen ouers en versorgers moet daarom ag slaan op ’n kind wie se werkende geheue- tellings laag is, en dit oorweeg om so ’n kind vir ’n moontlik vertraging of afwyking te laat toets.

“Noudat ons weet dat kognitiewe en taalontwikkeling se baan in albei groepe dieselfde lyk, kan ons vasstel of hulle sonder die teenwoordigheid van ’n leerafwyking ontwikkel. Indien dit lyk of daar ’n afwyking is, sal ons weet om hulle na ’n kundige te stuur vir behoorlike toetsing.

“Ons behoort ook hierdie kinders te toets indien hulle akademies agter raak om die moontlikheid van ’n leer- of taalafwyking uit te skakel.”

White reken ouers of versorgers kan ook werkende geheue- take en -oefeninge saam met ’n kind doen.

“Gegewe hoe belangrik vroeë ingryping vir akademiese sukses is, is dit belangrik dat gr. R-leerders wat nie Engels tuis praat nie, meer aan die taal by die skool blootgestel word,” sê White.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

willem Botha ·

Ek glo nie alles wat ek in die media lees nie,my opinie is kinders het die reg en moet veral in die beginjare onderrig ontvang in hulle moedertaal…wonder ook wat dr white se moedertaal is en in watter taal sy onderrig ontvang het.

Breytie ·

Dis seker darem vanselfsprekend dat geheue nie gebonde is aan taal nie. Om byvoorbeeld ‘n visuele ervaring te onthou, verg nie noodwendig taal nie. Dit bly opvallend dat navorsers en besluitnemers blykbaar aanvaar dat taal ‘n blote meganiese vorming van woorde is. In werklikheid is taal ‘n kommunikasiemiddel waarmee jy jou diepste ervaring van menswees kan omskryf ten einde ‘n innerlike “logos” of skeppende idee wil oordra aan ander. Daar is dus vele aspekte betrokke by taal, maar dit word deur invloedryke betrokkenes gereduseer tot blote meganiese geluid. Om ‘n kind in ‘n omgewing te plaas waar sy moedertaal nie vir hom beskikbaar is om sy omstandighede te begryp nie, is ‘n aantasting van sy Godgegewe menswees en ‘n minagting van die oerbehoefte om met ander te kommunikeer. ‘n Mens word gedwing om te wonder of daar nie ‘n politieke agenda agter baie van die navorsing is nie – om te bewys dat dit nie skade doen om alle kinders te dwing om Engels te wees nie.

Judge Dredd ·

Eintlik wat sy se is dat kinders maar geforseer moet word om in engels skool te gaan en nie geregtig is op moedertaal onderrig.

Gemaskerde Sopbeen` ·

Ouch…..slaat die judge hom darem nou vir jou op die kop, né? Wonder vir watter pos skiet sy?

Frik ·

Mooi man. So nou kan ons sommer al die Engelse kindertjies dwing om in Afrikaans onderrig te word. Dis mos nie tot hul nadeel nie.

Viv ·

So uiteindelik kry die Britte toe reg wat hulle meer as n 100 jaar gelede begin het ne

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.