Terugblik: Die ironie van Vadersdag

vadersdag 2

Argieffoto (Foto: sarahbernier3140, Pixabay)

Deur prof. Gerrit Smit

In Junie word Vadersdagvieringe gebruiklik aan die groot klok gehang. Hoe ironies dat die 21ste eeu se mense graag ’n spesiale dag vir vaders hou, maar dat die rol van vaders in hulle gesinne as outyds afgemaak word.

Ons leef in ’n wêreld wat verward is oor die rol van mans en vroue. Hierdie samelewing het alles wat deur die eeue heen verstaan is oor manlikheid en vroulikheid op die kop kom keer en vandag is sommige mans soos vroue en sommige vroue soos mans en daar is vroue wat wil wees soos mans en mans wat wil wees soos vroue. In die proses het ons te make met kinders wat nie meer weet wat die rolle behels en hoe hulle veronderstel is om eendag as mans en vroue op te tree nie. Ons lees in tydskrifte van die deurmekaar rolle en ons sien dit op televisieprogramme en dikwels beleef ons dit in ons eie families. Ongelukkig word die verkeerdom rolle wat vir ons as voorbeeld gewys word, dikwels as normaal beskou en die rol wat die Bybel aan elke mens gee, afgemaak of daar word selfs glad nie eens daarvan kennis geneem nie.

Terwyl die 21ste eeu geld maak uit ’n sogenaamde “dag vir vaders”, is dit ironies dat dit juis die 21ste eeu is wat maar baie min weet oor wat vaders veronderstel is om te wees.

As daar ’n tekort aan kos is, word daar gepraat van hongersnood – ons sou dus kon praat van die 21ste eeu as ’n tyd van vadersnood. Ons leef in ’n vaderlose tyd. En die simptome is oral duidelik. Soms pas ons aan, maar ons raak dit nooit gewoond nie en dit word nooit normaal nie.

Die ergste vorm van ’n afwesige pa is die een wat sy familie in die steek laat en weghardloop, of wat nog fisiek teenwoordig is, maar emosioneel sy familie reeds in die steek gelaat het. Dit is baie moeilik vir die familie om te verwerk, want behalwe dat die pa nie teenwoordig is nie, moet die gesin nog die hartseer van verwerping ook verwerk. Vir sulkes bring die Woord van die Here die troos in Deuteronomium 31:6 – “… dit is die Here jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie”. Daarmee sê die Here Hy is soos ’n Vader, maar anders as aardse vaders wat hulle kinders soms in die steek laat, sal Hy jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Hy is dus die volmaakte Vader.

Maar die Here praat nie in die Bybel net met vaders wat onverantwoordelik is nie. As Christelike vaders wil ons tog die beste vir ons gesinne hê en daarom is ons saam met ons gesinne gereeld in die kerk. Lees Deuteronomium 31:1-8 en ontdek wat die Here vir manne in hierdie deurmekaar eeu deur Moses kom leer.

Moses is 120 jaar oud (vers 2) en gaan binnekort sterf. Voordat Moses vir Josua as opvolger aanstel, roep hy al die manne (die vaders) van Israel bymekaar. Die pa’s van Israel kom staan voor Moses en soos ’n pa praat Moses met die manne, wat op hulle beurt weer hulle huise as vaders moet gaan lei en bemoedig. Hulle moes hiervandaan uitgaan en op twee terreine hulle gesinne lei: in ’n oorlogsveld in en op geestelike gebied. Hulle sou as ’t ware soos priesters die voorbeeld van Moses aan hulle gesinne moes gaan bedien sodat ook hulle gesinne nie bevrees sou wees nie en weet dat die Here hulle nooit sal verlaat nie.

Moses bemoedig die vaders wat namens hulle gesinne versamel het om na die Woord van die Here te luister dat God met hulle is (vers 3). En dié wat bereid is om God te volg, het die belofte dat Hy hulle leier is wat hulle nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie.

Dit moet beslis vir hulle ’n groot troos gewees het om te weet dat hulle nie op generaals en leiers hoef staat te maak nie, want God is hulle generaal wat voor hulle die beloofde land binnetrek.

In plaas van om aan die volk allerhande wapens en tegnieke na te laat, laat Moses aan hulle die koninkryk van God as belofte. Die sterkste leier en die beste generaal gaan altyd in enige oorlog met ’n mate van onsekerheid in: gaan ons suksesvol wees? Selfs ’n lafaard sal veg as hy vooraf weet die oorlog gaan gewen word. Hulle moenie staatmaak op hulle sterk manne en aantal soldate nie. As die vyand kom, sal dit nie ’n volk laat staan nie.

As jy die koninkryk van God soek en dit vir jou alles is, sal al die ander dinge, ook die vrede en voorspoed en liefde van jou gesin, bygevoeg word. Só het Christus in die bergprediking beloof. As jy dus jou lewe leef sonder die koninkryk as prioriteit, ongeag van hoe konserwatief jy is of hoe mooi jou kinders opgevoed is, het jy die stryd verloor, want dan trek God nie met jou nie, en sal die stryd in jou eie krag gestry word. En jy sal faal.

In die deurmekaar wêreld hoef ons nie te vrees nie, want God, Hy wat ook aardse vaders se Vader is, sal ons nooit begewe en ons nooit verlaat nie. Christus het as priester sy lewe gegee sodat vaders in navolging van Christus nie hoef te twyfel in hulle roeping, veral as Bybelse vaderfigure nie. Hy gaan voor. Vertrou op Hom. Wees sterk en vol moed. God weet dat die stryd reeds volbring is en die uitkoms van die oorlog reeds bepaal is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marix ·

Dankie vir hierdie bemoeding.
Ek stem saam – die wereld staan op sy kop! Wat n troos dat ek deur Jesus ook God as Abba Vader ken.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ons het in ons jongdae nie geweet van Vadersdag, Moedersdag, Valenstyndag nie. Jy is grootgemaak met respek vir ouers, ons was gehoorsaam en het weklik in liefde met ons ouers geleef, totdat daar dae uitgesonder is om hierdie mense in ons lewes te “EER, RESPEKTEER EN GESKENKIES” te gee. En as jy na statistieke kyk sal jy merk dat die herrie wat nou veroorsaak is oor “rassisme” van ‘n advertensie dalk nie so verregaande is nie. Kyk na foto’s op televisie en sien jy net kaalgeskeerde koppe wat oral by kinderhawes opduik om hande uit te steek vir aalmoese. Vaders is nie net om mense te MAAK nie.

Andre ·

Ek bevind myself ietwat “confused” waar ek sit en lees.
As ‘n pa, kan ek eerste hands vir julle se dat daar niks is wat ek nie vir my familie sal doen nie.
So gese, ek bly in ‘n land waar daar nie vir my werk is nie, hoe sorg ek vir my familie? Dus, het ek ‘n aanbot gekry en aanvaar om buite die land te werk. As ek ‘n alleen loper was, het ek heeltemal gemaklik gelewe, maar as man en pa, is dit my plug om te voorsien met die hoop dat my kind eendag sal verstaan en hoopenlik sal waardeur dat ek alles wat en wie ek ken op sy skuif om vir hulle ‘n sterk toekoms te verseker.
Maar so daande is ek nie tuis nie, waar my gesin my nodig het in die emosionele sin van sake nie. “n Video call is ook net so troostend. Maar as julle vir een oomblik dink dis maklikker vir my as vir hulle, het julle nog nooit verlange en verwyte beleef nie. So my vraag is redelik direk:

Hoe gemaak?

Weskus ·

Andre. Jy is juis n goeie pa as jy die opofferings maak om vir jou gesin te voorsien. Was self daar en weet wat dit van n familie verg. Sterkte ou mater

Andre ·

Dankie Weskus…
So van die os op die jas, ekt ‘n pel gehad op ‘n projek wat ons in die congo gedoen het wat ons altyd Weskus genoem het…

Adriaan ·

Was self daar en is dankbaar dis verby, dit is ‘n proeftydperk maar nie die antwoord nie.. Ek is dankbaar dat ek deur Genade weer kon terugkom en weer priester in my huis kan wees, al is ek finansieel armer is ek nou geestelik ryk. Sterkte en hoop jy kry gou uitkoms.
Die “ironie van vadersdag” is vir my dat dit op die Vader se dag gevier word, wat op sy beurt nie meer gevier/geheilig word nie..
Daar was twee Kliptafels, dit gaan nie net oor naaste lifde nie. “waar sal ons hulp vandaan kom”
Mag Hy ons genadig wees…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.