Therese Bam slaggereed vir moederskap

Therese Bam word binnekort ma van haar en haar man, Chris Bam, se eersteling. (Foto: Verskaf)

Therese Bam, die gewilde blondekop aktrise en Kwêla-aanbieder, gaan later vanjaar op die ouderdom van 44 ma word van ʼn babaseuntjie.

Sy het in Maart vanjaar aangekondig dat sy en haar man, Chris Bam, ouers gaan word ná drie jaar se sukkel.

Nadat die paartjie talle deskundiges, spesialiste en selfs ʼn eierskenker gekonsulteer het, gaan hulle einde Augustus eindelik ouers word.

“Om te sê ons is dankbaar kan nie naastenby verwoord hoe ons voel oor die koms van ons seun nie. Dit was ʼn lang pad, maar ons groot avontuur begin nou eers,” het Therese destyds op Instagram geskryf by ʼn skattige foto van haar en Chris se honde wat “aankondig” dat hulle ʼn boetie ryker word.

Therese vertel aan Maroela Media sy is tans aan die begin van haar derde trimester. “Ek voel goed, maar ek word moeg en is soms ongemaklik. Dinge begin nou werklikheid raak en ek is so ʼn bietjie op my senuwees.”

Tog is sy slaggereed en uiters opgewonde vir die groot verandering wat ʼn baba in haar en haar man se lewens te weeg gaan bring ná die uitmergelende pad wat hulle gestap het om swanger te raak.

“Ek en Chris kyk mekaar gedurig grootoog aan, want ons besef dat groot veranderinge gaan plaasvind.”

Therese se suster, Valda Leonhardt, woon naby haar in die Kaap in Noordhoek en het twee spruite van onderskeidelik sewe en vyf jaar oud, by wie se lewens Therese van dag een af betrokke was.

Sy gee toe dat sy ook weens haar ouderdom “al soveel gesien het” en dat daar saam met lewenservaring ʼn soort wysheid kom. Sy koester dus geen onrealistiese verwagtinge omtrent ouerskap nie.

“Alles kom met ʼn twist en niks is perfek nie. Jy sal jouself nooit ten volle kan voorberei nie, maar jy kan jouself indink hoe dit gaan wees.

“Ek berei myself egter al lankal geestelik voor en ek weet dat ek en Chris heeltemal in staat is om dit te kan hanteer. Ons het ʼn ongelooflike ondersteuningsnetwerk en Chris is baie kalm, meer as ek,” sê sy met ʼn glimlag.

Therese Bam en haar suster, Valda Leonhardt. (Foto: Verskaf)

“Dit voel asof ek op die oomblik in ʼn kokon is en as ek aan die anderkant uitkom is ek ʼn ma. Ek dink gereeld oor wat dit beteken, nie net vir my as mens nie maar vir my loopbaan. Alles word tans op ys geplaas sodat ek op my swangerskap en baba kan fokus.

“Dit sink meer en meer in dat dit nou glad nie meer net oor my gaan nie en dat ek moet oorgee aan ʼn nuwe fase in my lewe. Dit is ʼn bietjie oorweldigend, want dit onbekende terrein.”

ʼn Klein, intieme babatee is die afgelope naweek by Therese se huis vir haar en haar babaseuntjie gehou. Sus Valda en jarelange vriendin Lynn Munitich het dié spesiale dag vir haar gereël.

“Dit was baie informeel en Valda en Lynn het ook sommer self fotograaf gespeel,” vertel Therese.

Sy bieg dat hulle nog nie ʼn naam vir die baba het nie en dat sy al wat ʼn babanameboek is vergeefs deurgeblaai het.

“Dis só moeilik, want ons is op soek na iets spesifiek. Ons wil graag ʼn naam kies wat universeel maklik sal wees om te gebruik. Gelukkig het ons nog ʼn klein bietjie tyd om ons keuse te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ansie ·

Baie hartlik geluk, julle. Hoop die res van die swangerskap en geboorte loop goed af en dat julle baie vreugde uit die kleinman sal put.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.