Tienerdepressie is ’n hulpkreet

depressie_2_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

Geen woorde kan ooit ʼn ouer se pyn na die selfmoord van ʼn kind voldoende beskryf nie. Hierdie hartseer sny veel dieper as dié van ʼn dood wat deur ʼn fisiese siekte veroorsaak word. Die waarskuwingstekens was gewoonlik teenwoordig, maar word ongelukkig dikwels verkeerd geïnterpreteer of geïgnoreer en kan lei tot verskriklike skuldgevoelens.

Die afgelope twee jaar het ʼn skerp toename in tienerselfmoord wêreldwyd gesien. Dit kan deels direk toegeskryf word aan die maatreëls om die Covid-19-pandemie te bekamp. Weens die isolasie van kinders van alle ouderdomme in die inperkingstyd, is hulle van hul natuurlike ontwikkelingsgeleenthede ontneem.

Tieners kan die gebrek aan persoonlike interaksie baie sterk ervaar, al het tegnologie dit moontlik gemaak het om voort te gaan met skoolopleiding.

“Almal is geraak deur die digitale ontploffing, ouers ook. Interaksie en kommunikasie tussen ouers en tieners is steeds die steunpilaar van goeie emosionele gesondheid,” het Hanlie Boshoff, narratiewe terapeut in Centurion, gesê.

Depressie het so algemeen geword soos tandpyn. Die pandemie het dit vererger, aangesien almal iewers padlangs depressief gevoel het. Langtermyn-depressie is heeltemal anders as ʼn korttermyn-gevoel van die “blues”, en alhoewel dinge “terug na normaal” is, sal die gevolge hiervan in die komende jare met ons wees. By tieners verskil tekens van dié van volwasse depressie.

“Navorsing het getoon dat ouers dit moeilik vind om die verskil te onderskei tussen “ups and downs” en tienerdepressie wat behandeling benodig. Selfs wanneer ouers dit dalk korrek identifiseer, kan talle struikelblokke soos toegang tot behandeling, finansiële probleme en swak kommunikasie met die tiener verhoed dat hulle hulp soek,” sê Boshoff wie se praktyk, Tiqvah, spesialiseer in tieners met emosionele uitdagings.

“Een kenmerkende teken by tieners is hulle verhoogde prikkelbaarheid. Dit lei gewoonlik tot ongeduld, oneerbiedige gedrag en uittarting. Uiterste reaksie op kritiek is nog ʼn teken. Reg aan die verste punt van die pendulum se swaai, is aggressie. Monitor jou tiener se reaksie op risiko-neem, kritiek en mislukking. Jou tieners se reaksies kan vir jou wys of hy of sy met depressie worstel.

“Hiermee saam kan sosiale onttrekking gevoeg word of as jou tiener by die verkeerde groep aansluit. Hierdie gedrag kan die eerste stap wees na probleme soos alkohol- of middelmisbruik, asook self-skade,” wys Boshoff uit.

Ander simptome om voor op te let is: gevoelens van hopeloosheid, verlies aan belangstelling, moegheid, slaapprobleme, geheue- en eetlusverlies. As die tiener aan ʼn erge depressiewe versteuring ly, kan selfmoordgedagtes, angs en paniekversteuring verder deel van die prentjie wees.

“Gesinstelsels is onder enorme druk. Enkelouergesinne of kinders wat deur oumas grootgemaak word, is realiteite wat ons in ons samelewing sien. Maar selfs tradisionele kerngesinne is nie meer sonder ʼn wye reeks ‘nuwe soort’ uitdagings nie. Stres verhoog ook dwelmgebruik (of -misbruik) wat gesinne affekteer.

Ouers wat buite beheer is, spel moeilikheid vir almal, veral kinders,” verduidelik Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos, ʼn nie-regeringsorganisasie met 13 satellietkantore regoor Pretoria.

Maak ons ​​ʼn geestelik wanfunksionele generasie groot? Die antwoord lyk voor die hand liggend. ʼn Onlangse Suid-Afrikaanse studie het getoon dat ongeveer 17% van tieners in die eerste ses maande van verlede jaar selfmoord oorweeg het.

Alles is egter nie verlore nie. Boshoff sê gesinne kan voorkom dat hierdie uitdagings ontstaan ​​deur ʼn paar riglyne te volg, en om tyd voor die skerms te verminder is die eerste reël.

“Gesig-tyd is deurslaggewend. Maak tyd om elke dag te praat en kontak te maak. Dit is ʼn tyd om te verbind, nie om te onderrig en te kritiseer nie,” beklemtoon sy.

“Ouers moet die regte voorbeeld stel – skakel jou foon af en moedig hulle aan om dieselfde te doen wanneer jy sosialiseer of op werk fokus. Moedig hulle aan om by aktiwiteite betrokke te raak. As hulle weer begin betrokke raak, sal hulle beter voel. Doen vrywillgerswerk. Om dinge vir ander te doen is ʼn kragtige antidepressant en ʼn selfbeeldversterker. Om dinge saam te doen sal ʼn wonderlike bindings-ervaring wees en hulle ʼn gevoel van betekenis gee.

“Jou liefde, leiding en ondersteuning kan baie help om jou tiener te help om depressie te oorkom en sy lewe op koers te kry.”

Van der Merwe sluit af: “Maatskaplike werkers hanteer elke dag die gevolge van ongefokusde ouerskap. Gesinseenhede wat uitmekaar val en kinders wat nie hul potensiaal bereik nie – ons glo ouers het meer leiding en ondersteuning nodig om hulle te help om ʼn gelukkige nuwe generasie groot te maak. Dit beteken dat eindelose tegnologiese stimulasie stopgesit moet word en om jou kinders persoonlike aandag te gee en kosbare tyd saam met hulle deur te bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Schalk ·

Ai, dis altyd tragies as iemand met enige vorm van depressie of emosionele druk moet lewe. Sosiale media en die sosiale kringe, vernaam onder tieners stel hulle dikwels bloot aan eise en omstandighede wat hulle bloot nie kan verwerk as gevolg van samelewing druk en gebrek aan lewenservaring. Daar is ook nie altyd ook ten alle tye die nodige bronne van hulp beskikbaar nie. Persoonlik my opinie is dat die moderne tegnologie soos selfone en internet nie altyd die regte ding in oormaat is nie. Dan is allerlei dwelms of opkikkers te vrylik beskikbaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.