Truida se bottel vol waardes

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

Vir dekades en selfs eeue het onderwyskenners hul drome en voorspellings vir die toekoms van onderwys in tydskrifte en boeke vasgevang. In hierdie reeks rubrieke gaan onderwysspesialiste van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) met kenners van ouds “praat” en hulle boodskap oor vernuwing in die onderwys, wat vir dekades in ʼn spreekwoordelike bottel verseël en dikwels verlore was, weer aan lesers bekendstel.

Deur André Badenhorst

Dae aaneen sit ʼn mens net in. Geen noemenswaardige beloning, waardering of selfs ʼn ou dankie nie. Dan weer kry ʼn mens daardie warm dae in die middel van die ysige Karoowinter. “Opslagsomer”, noem hulle dit. Daardie onvoorspelbare juweeltjies wat na jou kant toe uitspoel.

So kry ek vanoggend per e-pos daardie spreekwoordelike boodskap in ʼn bottel. Die afsender is onbekend aan my (ek is bloot in ge-“cc”). In die kort boodskap herken ek, in keurige taal, die afsender as  ʼn jong gees met ʼn groot hunkering. Die woorde lees: “Ek skryf graag en maklik en vertel graag stories. En almal wat ek ken, neul aan my: ‘Wanneer kom my boek?’. Ek sê gewoonlik ek sit nie lank genoeg stil om te skryf nie. En wie begin dan op 81 skryf as jy nog jou eie onderneming ook bedryf?”

Nou is ek gefassineerd. Hier is ʼn persoon wat op ʼn relatiewe hoë ouderdom steeds ʼn groot verskil maak. Sy vertel van ʼn groot kompliment toe die bekende skrywer Rykie van Rheenen eens gesê het haar akademiese verhandeling lees soos ʼn tydskrifartikel. Daarna het sy nooit hoogdrawend geskryf nie.

“Daar is nogal heelwat interessante stories wat ek kan vertel”, lees ek nuuskierig voort – op soek na haar geheim. “Ek het onlangs ʼn paar outobiografiese boeke gelees wat ek meestal nie baie geniet het nie – selfs “self-indulgent”, selfbehep, te introspektief of obsessief gevind het. Ek het ʼn paar ander idees oor hoe ek my stories anders kan vertel, met ander hoeke as hoekom ek as tiener gefrustreerd was, of my eerste (of tweede of derde?) liefde… want wie sou nou belangstel? En ek is nie so belangrik dat ek ʼn outobiografie hoef te skryf nie.”

André Badenhorst is ’n navorser by die SOS en tans besig met sy PhD in selfgerigte leer. (Foto: Verskaf)

Ek hoop op nóg leidrade en gaan loer op haar webwerf. Jy sal glad nie kan agterkom dat sy die gewig is agter die besigheid nie. Sy praat van die mense as ʼn span. ʼn Plat hiërargie dus. Die indrukwekkende lys van kliënte sluit instansies in soos Sanlam, die WNNR, Nampak, Pioneer Foods asook die SAUK. Die portefeulje van akademiese instellings sluit die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van Maryland, FH Münster Universiteit van Toegepaste Wetenskap en die Universiteit van Stellenbosch in.

Ek kom tot ʼn gevolgtrekking: Haar sakeonderneming spreek van sukses en ek dink ek weet hoekom. Die kort brief getuig van iemand met karakter wat geanker is in die ewige deugde van nederigheid, onselfsugtigheid, mededeelsaamheid, dankbaarheid, opregtheid, ywer, spontaniteit, kreatiwiteit, netheid, uitnemende leierskap en laaste maar nie die minste nie, lewenslange leer met ʼn onblusbare soeke na die waarheid.

Haar groot hunkering, kom ek agter, is ʼn ontvanklike leser – vandaar die SOS-noodroep. Is dit nie maar die groot opdrag aan ons as onderwysers nie, dink ek. Om onveranderlike waardes oor te dra, ja, maar veral om leerders ontvanklik te laat word vir hierdie lewensgeskenke. Sonder om ʼn dankie terug te verwag.

Sy sluit haar brief af: “Dankie dat ek verspot kon hardop dink. Lekker week vir jou Francois, en vir die ander as julle nog hier is. Truida”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.