Tuisonderrig: Is dit dalk ’n oplossing?

tuisonderrig

Foto: Todaysparent.com

Deur Hilda Erasmus, ’n grondslagfasespesialis

Daar’s ’n gemaal van 40 graad 1-leerders voor hul nuwe klas. Hulle bondel in en gaan sit op hul stoele. Daar is goeie dissipline in die klas, maar daar is soveel leerders dat die onderwyser onmoontlik vir elkeen van hulle die nodige aandag kan gee. Net die slimste leerders sal goed doen terwyl die gemiddelde kind ’n hele paar belangrike boublokke kan mis en eindelik sal dit al hoe moeiliker gaan soos wat daar deur die grade geworstel word.

Daar is baie leerders wat deur ons skoolstelsel ingesluk word. Hulle kry swaar onder die werksdruk en min aandag, en bereik nie hul volle potensiaal nie, omdat hulle nie individuele aandag kry nie. Daar is ook die druk om aan sport deel te neem of om dalk nie vir ’n span gekies te word nie. En verder hou jy maar net duim vas dat jou kind nie geboelie word nie.

Tuisonderrig, aan die ander kant, word baie keer in die verkeerde lig gesien. Die prentjie wat mense dikwels het, is ’n ma wat by die huis klasgee. Die kind sit by ’n tafeltjie en leef ’n eensame kluisenaarsbestaan sonder om te sosialiseer.

Met onderrig in die 21ste eeu lyk die prentjie egter baie anders. Tuisonderrig kan op verskillende maniere gedoen word.

Ouers

Ouers kan self die leerder by die huis onderrig – hierdeur kan die ouers verseker dat al die nodige konsepte goed vasgelê word en self die vordering monitor. Sosiale media laat die ouers toe om in te skakel by groepe met ander ouers wat ook hul kinders tuis onderrig. Speelgeleenthede, uitstappies en sosiale geleenthede word dikwels beplan en die leerders geniet privaat onderrig en ook sosiale geleenthede sodat hulle op alle aspekte van hul ontwikkeling kan fokus. Dikwels maak ouers ook beurte om klas te gee waar hulle op ’n rotasiegrondslag werk. Kinders verloor nie kosbare tyd in klaskamers om te wag vir dissipline of individuele aandag nie.

Privaat onderrigsentrums

Daar is landwyd heelwat privaat onderrigsentrums. Sommige sentrums fokus slegs op een vak waar ander sentrums alle vakke aanbied. Daar waar die ouer nie kans sien om self onderrig te gee nie of dalk nie ’n vak na ’n volgende graad wil vat nie, kan daar van ’n privaat onderwyser (tutor) gebruik gemaak word. Tutors gee aan elke leerder die individuele aandag wat hulle benodig en help hulle om moeilike konsepte te verstaan. Ouers dra nog steeds die primêre verantwoordelikheid vir die leerder se akademie.

Tuisonderrigskole

Dit gebeur dikwels dat privaat onderrigsentrums so ʼn groot aanvraag het, dat hulle klein privaat skole word. Hulle maak steeds gebruik van ’n tuisonderrigkurrikulum, maar anders as met tuisonderrig, neem die skool verantwoordelikheid vir die leerder se akademie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Anoniem ·

Ek glo tuisonderrig kan werk mits die ouers en kinders disipline kan toepas. Daar is heelwat kinders wat tuisonderrig ontvang het en uitstekend gevaar het en dit is ook bewys dat die meeste skole min of geen disipline het. Kinders rand onderwysers aan, steek ander kinders met skerp voorwerpe. Kinders word deur onderwysers gemolesteer. Godsdiens onderrig word verwerp. Ons samelewing val uitmekaar en daarom sal ouers wat nog omgee eerder hul kinders tuis te laat onderrig sodat die kinders in morele standaarde kan opgroei.

Riouna Martin ·

JA IMPAK DIE BESTE TUISONDERRIG PROGRAM. EK DOEN AL 4 JAAR DIE IMPAK MET MY TWEE KINDERS

Abie ·

Tuisonderig is die roete om te volg in SA. Daar is geen regeringsagendas nie, geen propoganda om te sluk nie. Die materiaal is gerig op die kind se vermoë en vaardigheid.
Daar is kwaliteit materiaal beskikbaar vir tuisonderrig.

Hanlie ·

Ek glo tuisonderrig kan werk indien dit korrek toegepas word, maar daar is ook nadele:
Kinders kry nie die geleentheid om met ander kinders te meng en sosiaal te verkeer nie – dit is tog belangrik vir hulle ontwikkeling. EK ken heelwat kinders wat tuisonderrig kry maar nie weet hoe om met ander kinders van hulle ouderdom te meng nie. Van hulle het ook gesukkel toe hulle universiteit toe moes gaan.
Tuisonderrig is duur
Alle ouers mag dink hulle weet hoe om hulle kinders tuis te onderrig, maar ek is bevrees almal is nie aangele daarvoor nie. (Ek weet van ‘n vrou wat haar kinders tuis onderrig het, maar syself het slegs st 8 en basiese beginsels van wiskunde en taal het sy nie geken nie en dit wat die kinders toe geleer het was alles behalwe reg. Hulle is later na ‘n skool toe en het baie gesukkel om op te vang.

Jaco Grobler ·

Daardie is seker die oudste miskonsepsie onder die son, tuisskolers raak baie makliker sosiaal betrokke by maats van hulle eie portuur, asook jonger en ouers kinders. (wat jy NOOIT in hoofstroom skole sal kry nie), hulle gesels ook gemaklik en met vertroue met einge volwassene, nie skaam of voor op die wa soos meeste ander kinders wat ek ken nie. Hulle waardeer vriendskappe meer, en heg ‘n hoe waarde daaraan, geen van die bakvis groepies waar jy een dag prinses en die volgende dag die padda is nie, hierdie ouens gee om vir mekaar. Die groepe en maats wat in die gemeenskap betrokke is is wyd, so veel so dat ‘n mens partykeer vir jou kinders se hulle moet nou biedjie meer tuis bly en by pa en ma kuier….

Ma van agt ·

Sal interessant wees om te hoor of Hanlie praat uit haar ondervinding van self probeer tuisskool of uit observasie van gesinne?
Ek sien meer en meer skoolgaande kinders wat nie kan sosaliseer nie, om nie te praat van die duisende skoolgaande kinders wat sukkel as hulle Universiteit toe gaan. Daar is soveel individuele verskille. Omdat dit juis nie ‘n formule is, soos in die skoolsisteem, werk dit.
En die opleidingsvlak van die ouer het Met alle respek, geen invloed. Ek myself is maar Baie gemiddeld Met my tweede taal, tog praat en skryf my kinders (ek tuisskool) Engels asof hul eerste taal.
Tuisonderrig is voorwaar ‘n opsie onder enige omstandighede.

Ben ·

Ek stem vir tuisondering. Ek is van mening dat verkillende groepe mense verskille kulture het en verskillende behoeftes nodig het. Ons huidige onderwystelsel is nie efektief nie. Waar het gesien kinder kom in graad 8 en kan nog nie lees? Dit is as gevolg van sulke opleiding dat ons besigheid nie meer die Suid Afrikaanse matriek erken nie.

Sam ·

Ek stem, Ben, en dit uit ondervinding. Tans met ons 22ste jaar van tuisonderrig besig – 4 kinders met 13 jaar ouderdomsverskil tussen oudste en jonkste.
Wat ‘n voorreg om die materiaal te kies waaraan my kinders blootgestel word en hul in hul eie belangstellingsvelde te sien ontwikkel.

Basson ·

Die regering wil tuis onderrrig ook stop – die konsepbeleid oor al die nuwe veranderinge was einde laas jaar voorgele deur die Dept van Basiese Onderwys. (Eerste stappe – soos ons gesien het neem hulle so paar jaar om die wig stadig maar seker in te dryf.)

Stephen Namibia ·

Tuisonderrig het vir ons dogter gewerk. Sy was haar laaste twee skooljare weer terug op n privaatskool in RSA en was haar klasmaats ver vooruit. Ek sal tuisonderrig vir enige een aanbeveel. Daar is baie goeie stelsels beskikbaar.

Haar prestasies op Uni spreek ook hiervan. Nee wat dissipline glad nie probleem nie en sy het heeltemal alleen die tuisonderrig met my vrou gedoen. Ons was baie afgesonder (150 km van naaste dorp) en het gevind dat die gebrek aan interaksie met ander kinders die grootste probleem was. Sy het egter weer gou aangepas in die normale lewe.

Benita de Beer ·

Goeie artikel. Sosiale interaksie is volop vir tuisleerders in dorpe en stede. Kan dalk vir veraf geleë plaasboere effens geïsoleer wees, maar dit is daardie prys betaal ek liewer as om in ‘n skool vasgehok te sit en ‘n swak opvoeding te kry. Familie verhoudings ontwikkel ook fantasties vir tuisleerders. Tuisleerders leer om verantwoordelikheid van hul eie studies en lewe te neem. Tuisskool het baie meer voordele as publieke skool, en die nadele is werklik net die spookvrese van mense wat nie hul feite en hul prioriteite ken nie.

Juffrou ·

Net soos in soveel ander aspekte, is daar met kinders ongelukkig nie ‘n “one size fits all nie”. Tuisonderrig werk moontlik vir twee kinders in dieselfde gesin, maar nie vir die derde outjie nie. As goed gekwalifiseerde onderwyser sou ekself nooit tuisonderrig met my eie kinders doen nie. In ons geval sou dit bloot tot nadeel van my kinders gewees het. My kinders was wel in ‘n kleiner CVO-tipe skooltjie (kombinasie-klasse) in die grondslagfase vir ‘n paar jaar en daarna na ‘n supergroot laerskool (ons naaste laerskool). Albei het uitstekend aangepas in die groot skool en klasse en het floreer in ‘n groot hoërskool ook. Ongelukkig beleef ek in die praktyk dat kinders uit tuisskool-sisteme nie altyd goed integreer in die hoofstroom sisteem nie. Ek ervaar dat heelwat ouers die goeie bedoeling het om hul kinders tot gr 6 tuis te onderrig en dan terug in hoofstroom te plaas met die oog op hoërskool. Om bv. n kind in gr 7 terug te plaas is nie onmoontlik nie, maar in meeste gevalle (my ervaring) onregverdig teenoor die kind. Ek sien daagliks hoe hulle aanpas, maar altyd soos n tipe buitestaander voel in vergelyking met diegene wat sedert Gr 1 in die skool is. Tuisonderrig is en bly n turksvy. My persoonlike keuse is n kleiner skool/klasse wat ongelukkig ‘n duurder alternatief is.

Wonder net ·

Juffrou, dink jy nie die kinders wat volgens jou nie inpas nie, WIL waarskynlik nie inpas nie? Hoekom moet hul lyk/optree en doen soos almal om hulle?

MammaM ·

Ek gee tuisonderrig nou al vir 15 jaar vir my 3 seuns. My oudste wat nou 21 is het as Gr 1’tjie begin met tuisonderrig. Hy doen nou sy vakleerlingskap. Ek is absoluut VIR tuisonderrig. Jy het daardie een-tot-een interaksie met elke kind. Jou kind glo hy kan iets doen want daar is niemand met wie hy hom moet vergelyk nie. My kinders het geen probleem om sosiaal te verkeer nie. Daar is geen groepsdruk nie en hulle is baie (party dae te veel ;-) ) selfversekerd en selfstandig.

Sam ·

Ek stem, Ben, en dit uit ondervinding. Tans met ons 22ste jaar van tuisonderrig besig – 4 kinders met 13 jaar ouderdomsverskil tussen oudste en jonkste.
Dis vir my goed dat my kinders nie by diee hoofstroom inpas nie … dis individue wat teen die stroom swem.

Breytie ·

Tuisonderrig “skole” is teen die wet. Die vereiste is dat so’n kind deur die ouers onderrig moet word. Daar het baie sogenaamde “cottage schools” ontstaan wat soos enige ander skool funksioneer maar nie geregistreer is nie. Dis seker nie moeilik om in te sien dat dit nie “tuisonderrig” genoem kan word nie. Verder bestaan daar nie iets soos ‘n “tuisonderrig kurrikulum” nie. Die vereiste is om die Suid-Afrikaanse kurrikulum te gebruik of ‘n buitelandse kurrikulum wat aan die minimum standaarde van die SA kurrikulum voldoen – met ander woorde ‘n kurrikulum wat by die “South African Qualifications Authority” geregistreer is. Mense wat van tuisonderrig ‘n bedryf maak, sal moet twee keer dink want die regulasies wat tuisonderrig gaan beheer, sal eersdaags in die staatskoerant gepubliseer word. Tuisonderrig moet wees wat die naam sê: onderrig tuis deur die ouers – ingeslote die assessering van die kind se vordering. Geen regering ter wêreld kan toelaat dat kinders ongereguleerd buite skoolverband onderrig word nie. So iets is kinderverwaarlosing volgens die Kinderwet van SA.

Moeder ·

Breytie – as verantwoordelike ouers doen ons alles in belang van ons kinders – dus gaan ons nie graag teen die wet nie.
Ons registreer ons kinders by die GDE en voorsien hulle elke jaar van n daaglikse bywoningsregister sowel as hulle akademiese verslae.
Indien hulp benodig word met vakke soos Fisiese Wetenskap gaan hulle vir ekstra klasse by plaaslike skole. Ek het nog geen onderwyser teëgekom wat geweier het om te help nie.
Die belangrikste is om n goedgekeurde kurrikullum verspreider te gebruik wat ook gewoonlik vakadviseurs het wat insette lewer as dit gevra word. Hulle merk ook van die toetse wat onder eksamen omstandighede geskryf word – of in die geval van matriekleerders by n goedgekeurde GDE geregistreerde sentrum.
Hulle skryf aan die einde van matriek asook die rekordeksamen presies dieselfde eksamen as die res van die land. Dalk net met meer bevredigende resultate.

Moeder ·

Ek en my 2 kinders het vir 10 jaar tuisonderrig gedoen nadat hulle onderskeidelik na gr2 en gr4 uit d skool gehaal is.
My seun het pas sy graad in Ingenieurswese behaal en my dogter is besig met haar Honneurs as GR.
Tuisskoling is beslis die beste opsie alhoewel dit heelwat inspanning en toewyding van beide ouers en kinders verg.
Wat aanpassing betref – ek glo nie meer as enige ander kind wat universiteit toe gaan nie.
Ten minste kan tuisleerders suksesvol verbaal kommunikeer waar die ander nogal effens sukkel agv geen dissipline tov gedurige gekuier op selfone nie.

Theresa ·

Tuisskoolonderrig kan baie suksesvol wees. Juis omdat dit die ouer nie verlate laat wat die leerstof aanbetref nie. Daar is altyd kenners wat gekontak kan word. Sou wel aanbeveel dat ouers wat nie onderrig in Wiskunde en Wetenskap met die volste vertroue kan gee nie en self nie ‘n baie goeie aanvoeling daarvoor het nie, eerder daardie vakke laat aanbied deur ‘n instansie wat dit doen (daar is vele). Geen kind behoort aan die wandissipline van groot en onhanteerbare klasse blootgestel te word nie. Wonderlike uitkoms indien mens dit kan en wil doen. Die riglyne wat gevolg moet word, behoort nie ‘n probleem te wees nie en sosialisering is makliker om uit te sorteer as om ‘n kind wat verlore raak in die wanorde weer daaruit te vorm.

Casper Labuschagne ·

Ek glo dat tuisonderrig as klein skooltjies in ‘n voorstedelike opset, haalbaar is deur ten minste een voltydse onderwyser asook etlike hulponderwysers soos benodig. In die teorie moet ‘n oorkoepelende organisasie die leerplan uitwerk asook lesse wat deur die Internet gevolg kan word. In die teorie kan so ‘n sentrum vanaf voorskoolse kinders tot letterlike naskoolse onderrig bedien. Daar is verskeie werkbare modelle op die Internet vanaf Die Khan Academy, University of the People en die videos onder TEDEducation wat as model kan dien vir so ‘n opset.

Maar dit is krities dat daar ‘n oorkoepelende liggaam is wat evaluasie verrig en die ruimtes vul waaroor die onterwyser(es) nie beskik nie. So ‘n liggaam moet ook die evaluasie en sertifisering van die leerlinge behartig.

Sport en buitemuurse aktiwiteite sal noodgedwonge moet plaasvind deur sportklubs en kultuurorganisasies in die omgewing.

Lorinda Gerber ·

In September het my jongste kind se hoërskool my gekontak. Hy was in St. 6 en hulle wil my net inlig dat hy gaan dop. Ek het hom uit die skool gehaal en begin met tuis-onderrig. Van `n druipeling het hy geslaag met 6 onderskeidings. Daar is baie ondersteuningsgroepe en leer-areas met toesig. Ek het dit deur Impak gedoen en hulle is fantasties!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.