Tuisskool: Hoe oorleef ons (en ons kinders) dit?

tuisskool_Impak_ma_dogter_huiswerk.jpg

(Foto: Argief/examiner.com)

Die Covid-19-pandemie het ouers wêreldwyd skielik in die posisie geplaas waarin hulle onderwysers moet wees terwyl daar tussendeur gekook, skoongemaak en gewerk moet word – en dit alles terwyl boetie of sussie oneindige verskonings het om nie agter die boeke in die skuif nie.

Dit kan egter vir ouers ʼn gulde geleentheid wees om hul kinders se persoonlikheidstipes beter te leer verstaan, en daarmee saam te ontdek hoe elke kind tot sy of haar volle potensiaal kan ontwikkel deur die omgewing waarin hy of sy leer en ontdek aan te pas vir sy of haar spesifieke temperament. Vir ouers wat heeltyds van die huis af werk terwyl hulle ook hul kind se onderwyser moet wees, kan die skep van ʼn omgewing waarin kinders meer natuurlik en gemaklik leer, groot verligting bring.

Nantie van Aswegen, onderwyseres en ʼn Immergroen Ouerskap- en Tall Trees-konsultant, het Woensdag in ʼn regstreekse gesprek met Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, gesels.

Sy het begin deur kinders se temperament met boomsoorte te vergelyk en dit in vier basiese kategorieë te verdeel:

  • Dennebome: Hierdie is kalm, rustige kinders wat vreedsaam, stil en aanpasbaar is.
  • Palmbome: Hulle is vrolike, helder kinders wat mensmagnete en die narre in jou huis is.
  • Roosbome: Hulle is die generaals: kwaai, haastig en jaag mylpale na.
  • Sierbome: Hulle is ernstige, emosionele kinders wat stil is en hou van roetine.

Van Aswegen voeg by dit is belangrik om te onthou dat die meeste kinders ʼn kombinasie van hierdie temperamentsoorte is. “Elkeen van hierdie temperamente se ‘normaal’ lyk so ʼn bietjie anders,” sê sy.

“Dennebome wens hulle kan vir altyd by die huis bly en dit was nog nooit vir hulle so lekker om skool te gaan nie, want die druk is nou van hulle af. Daarteenoor wil ʼn palmboom nooit stil sit nie en wil dit net heeltyd vir almal in die huis probeer lekker maak. Hulle is meer kinetiese leerders wat hou van beweeg en is ook bobaas onderhandelaars. Hulle sal onderhandel om uit hierdie ding te kom en hulle sal wen as ons nie bedag daarop is nie.”

Roosbome raak weer ongeduldig omdat hulle die werk so vinnig as moontlik probeer afhandel. “Roosbome voel vrede vir vrede, en wanneer hul werk klaar is, soek hulle iemand in die huis om mee te baklei. Hulle word herlaai deur moeilikheid te soek, maar as ouer hoef jy ook nie elke argument waartoe jy uitgenooi word op te volg nie.

“Sierbome is presies die teenoorgestelde en sit reeds in hulle kamers en werk, jy hoef nie vir hulle te sê hulle moet hard werk nie, want hulle weet dit. Hulle kyk vanaand of juffrou al môre se werk opgelaai het,” sê Van Aswegen.

Sy bemoedig ouers wat skielik heeltyds in die onderwysbootjie is dat ʼn wonderlike tyd is om te kyk na die fondasies in jou huis en sonder roetine as ʼn baie belangrike beginsel uit. Sy deel die volgende wenke vir ʼn gesonde roetine:

  • Neem elke oggend ʼn halfuur en beplan jou dag sodat almal weet wat hulle moet doen. ʼn Sierboom sal byvoorbeeld baie daarby baat as jy elke oggend saam met hom sy dag beplan en sy take vir die dag uitlê.
  • As daar meer as een ouer en sibbe is, werk in skofte. Verdeel ook dagtake regverdig sodat konfliksituasies vermy kan word.
  • Kondig die einde van jou werkdag af. Maak dan daadwerklik plan om iets ontspannend saam met jou kind te doen.
tuisskoolonderrig.jpg

(Foto: Argief)

Tuisonderrig en verskillende persoonlikheidstipes gaan met sekere uitdagings gepaard. Van Aswegen deel ʼn paar wenke oor maniere om die beste omgewing vir jou kind te skep.

“Dennebome doen net genoeg om uit die moeilikheid te bly en hulle wil nie oorpresteer nie. Jou standaard gaan nie hulle standaard wees nie. Hulle het gewoonlik ook net een of twee belangstellingsvelde,” sê sy.

“Sierbome is geneig om angstig te wees oor die skoolwerk en die uitdaging met hulle is nie om hulle te kry om te studeer nie, maar die angstigheid rondom die nuwe, vreemder manier van leer. Hulle is so bang hulle mis werk en daarom is dit belangrik om saam met hulle die dag te beplan. Struktuur en roetine is vir hulle uiters waardevol.”

Kompetisie is die roosboom se kos en Van Aswegen sê dit is maklik om ʼn roosboom se aandag te kry met kompetisie. “Hulle wil kyk hoe vinnig hulle die werk kan klaarkry en raak dan verveeld. Daarom moet jy die werk vir hulle moeilik maak en hulle toelaat om byvoorbeeld te stoei met ʼn wiskundesom.”

Palmbome sit nie vir ʼn oomblik stil nie en leer maklik deur beweging. “Kry vir jou palmboom ʼn groot bal waarop hy kan hop terwyl hy leer of gee vir hom iets soos klei om sy hande mee besig te hou.”

Sy benadruk dat ʼn verhouding met jou kind belangrik is indien jy werklik in hom wil belê, maar dit is net so belangrik om jou kind te laat besef die wêreld draai nie net om hom of haar nie.

“Maak as huisgesin reëls oor hoe julle saam gaan werk sodat almal tevrede is. Jy kan selfs die reël maak dat almal vir ʼn uur hard werk waarna daar ʼn blaaskans is waartydens julle dan iets lekker saam kan doen. Palmbome sal veral hierby baat vind. Hulle moet ook beweeg voor hulle werk, al is dit net vir vyf minute. Hardloop om die huis of spring trampolien. Ons as volwassenes kan natuurlik ook by hierdie aktiwiteite baat. Jou sierboom gaan mor dat hy nie wil nie, maar die bloedvloei is veral goed vir hulle, want almal het pret nodig en nodig om te ontlaai,” voeg sy by.

Hulpbronne: Kortpad deur die oerwoud en Finding Your Way in the Parenting Jungle deur Hettie Brittz. Albei dié boeke is beskikbaar by www.evergreenparenting.co.za. Immergroen Ouerskap bied ook aanlyn ouerskapkursusse aan.

Kyk ook hier na die video van die volledige bespreking.

  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.