Tweetaligheid – bemagtig jou kind

Leer_taal_kinders.jpg

Foto: Learnnovators.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Suid-Afrika is ʼn veeltalige gemeenskap en dit is nie net vir vandag se kinders belangrik om meer as een taal magtig te wees nie, dit hou ook baie voordele in. Maar hoe maklik is dit vir kinders om ʼn tweede taal aan te leer?

Weens hul breinontwikkeling vind kinders dit gewoonlik baie makliker as volwassenes om ‘n taal aan te leer, aangesien die brein gedurende voorskoolse en vroeë skooljare daarop ingestel is om inligting te absorbeer. Alhoewel die meeste kinders gewoonlik eers op skool formeel aan twee tale blootgestel word wanneer hulle leer hoe om in ʼn tweede taal te lees en skryf, is daar baie wat jy vooraf kan doen om jou kind reeds op ʼn jong ouderdom te help om ʼn tweede taal te leer. En volgens kenners, hoe vroeër, hoe beter.

Waarom is tweedetaalverwerwing nodig? Kinders wat twee tale magtig is, kan met ʼn groter verskeidenheid mense kommunikeer en hul verwysingsraamwerk is dus groter. Dit gee vir hulle ʼn reuse kognitiewe en akademiese voorsprong. Studies het ook bewys dat mense wat twee of meer tale magtig is, beter vaar in intelligensietoetse, logiese redenering en probleemoplossing.

Voordat jy wegspring met ekstra klasse in Mandaryns, Xhosa of Duits, is daar ʼn paar dinge om in gedagte te hou:

  • Suksesvolle tweetaligheid verg toewyding en insette van goeie gehalte in albei tale.
  • Kinders moet blootgestel word aan die regte gebruik van die taal en dit is moeiliker om jou kind ʼn tweede taal te leer as daardie taal ook jou tweede taal is. As jy as ouer dus nie vlot daarin is nie, kry hulp by familie of ander opgeleide mense.
  • Die nuwe taal moet sowat 30% van ʼn kind se algehele taalblootstelling beslaan. Wanneer ʼn kind minder insette in die tweede taal kry, kan hy ʼn “passiewe” tweedetaalgebruiker word – hy sal die taal verstaan, maar dit nie sommer praat nie. (Op skool sal hy egter ʼn voorsprong in dié taal hê en dit gouer aanleer.)
  • Wees versigtig vir ʼn tweedetaalskool. Daar kan kultuurverskille wees en as jou kind swaarkry in die tweede taal, kan dit sy vermoë om te leer knou.
  • Kinders met leerprobleme kan sukkel om ʼn tweede taal te lees en skryf, selfs al kan hulle dit praat, terwyl ʼn dowe kind ʼn tweede taal verwarrend mag vind. Kry leiding by kenners om te bepaal of jou kind se unieke omstandighede die verwerwing van ʼn tweede taal toelaat.

Praktiese maniere om jou kind te help om ʼn tweede taal te leer:

  • Skep informele leergeleenthede: Vra ʼn familielid of vriend wat die tweede taal magtig is om tyd saam met jou kind te spandeer en dan nét in die tweede taal met hom te kommunikeer. Jy kan selfs ʼn speelafspraak reël met ʼn maatjie wat die tweede taal praat. Jy sal verbaas wees hoe vinnig kinders woorde en frases in ʼn informele sosiale omgewing aanleer.
  • Maak dit pret: Praat op Dinsdae en Donderdae net in die tweede taal met mekaar, lees oulike boeke of sing liedjies en rympies saam, of vind ander maniere om die aanleer van die tweede taal prettig te maak.
  • Skep die regte taalomgewing: Dit is belangrik om jou kind in albei tale bloot te stel aan werklike situasies waar hy die woordeskat van die taal kan gebruik. Verduidelik wat jy doen in die tweede taal wanneer jy aandete voorberei, of wanneer julle inkopies doen.

Om jou kind te help om ʼn tweede taal suksesvol aan te leer, is dit belangrik om geduldig te wees en genoeg geleenthede te skep vir hom om na die tweede taal te luister én dit te praat. Moedig hom aan om die taal gereeld te gebruik, al ruil hy sy woorde om of sukkel hy aanvanklik om homself uit te druk. Tweedetaalverwerwing gebeur nie oornag nie, maar die voordele vir jou kind – op skool en as volwassene – is talryk!

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.