Uitspattigheid hoef nie matriekafskeid-maatstaf te wees

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Todd Cravens/Pexels)

Dit blyk deesdae of party matriekafskeidpartytjies byna dieselfde hoeveelheid energie, tyd én geld as ʼn klein troue verg.

Duisende word aan rokke, pakke en duur voertuie spandeer en haarkappers en grimeerkunstenaars word ingeroep om te vertroetel en mens wonder of die fokus daarvan nie té ver verskuif het nie?

Maroela Media het met Elana Kriel,  ʼn dosent aan die Departement Opvoedkundestudie by Akademia, oor die uitwerking van buitensporige matriekafskeide en die gesprekke wat daaruit moet vloei, gesels.

Matriekafskeid ook ʼn mylpaal vir ouers, onnies

As ʼn gekwalifiseerde opvoedkundige sielkundige én ma van vyf verstaan Kriel die belangrikheid wat beide ouers en onderwysers aan ʼn matriekafskeid heg.

“Matriek en die matriekafskeid is ʼn belangrike emosionele stap in ons kinders se lewens – dit is die afsluiting van skool, kindwees, pouse-kuiers onder die boom, lang snoepierye, sport- en kultuuraktiwiteite, huiswerk en vir sommiges ʼn draai in onderwysers en skoolhoofde se kantore.

Elana Kriel, ʼn dosent aan die Departement Opvoedkundestudie by Akademia. (Foto: Akademia)

“Vir ons as ouers is dit ook ʼn emosionele afsluiting – dis wanneer ons kinders die volgende stap in die volwasse wêreld betree en vir ouers ʼn laaste geleentheid is om iets baie spesiaal vir hul kinders te doen. Onderwysers kyk ook met trots en verwondering na jong volwassenes wat letterlik voor hul oë grootgeword het.”

Omdat die meeste skole tradisioneel alles in hul vermoë (en dikwels finansiële vermoë) doen om dit ʼn onvergeetlike aand te maak, meen Kriel dat daar deurentyd ongeskrewe standaarde ontstaan het waaraan skole voldoen het.

“Hierdie ‘onvergeetlikheid’ word dan dikwels aan buitensporige finansiële uitgawes gemeet want almal wil ʼn laaste indruk skep en ʼn onvergeetlike oomblik hê. Dit beteken dan beter, groter, mooier en duurder as die vorige jaar, maar dit hoef egter nie so te wees nie.”

Gemeenskapsingesteldheid nodig

Volgens Kriel is ʼn gemeenskapsingesteldheid en deurlopende kommunikasie tussen ouers, leerders én onderwysers nodig wanneer dit by ʼn matriekafskeid kom.

“Deursigtigheid, realistiese verwagtings en kommunikasie is deel van grootword en dit is ouers se verantwoordelikheid om kinders ook hierin te skool en toe te rus vir die lewe.”

Sy stel voor dat ouers gesels oor wat bekostigbaar, prakties en haalbaar is, byvoorbeeld: Sal die rok met ʼn volgende geleentheid gedra kan word? Is dit stylvol en tydloos, of ʼn rok wat volgende jaar uit die mode gaan wees?

“Elke huishouding het sy eie begroting en dit is belangrik dat ouers en matrikulante betyds oor kostes, verwagtings en moontlike uitdagings en planne moet gesels. Nie almal kan ʼn splinternuwe rok bekostig nie en met matriekuitgawes van ekstra klasse, oggendklasse en spesiale matriekklere raak dit erg vir ouers om by alles by te kom. Maak keuses om jou as ouer se sak én jou kind se lyf en persoonlikheid te pas.”

Skole moet volgens Kriel ook matigheid voor oë hou, maar dit beteken egter nie dat daar nie moeite gedoen mag word nie.

Sy benadruk dat vroegtydige gesprekke oor finansies en riglyne aan ouers en leerders onnodige stres en bekommernisse, sowel as laaste nippertjie reëlings en duurder betaalopsies sodoende vermy word.

“Die verwagtings wat ons dikwels vir onsself skep, moet nie meer stres en geleentheid vir konflik skep nie, daarom is perke van redelikheid en begrip belangrik.”

Daar is altyd oplossings

Volgens Kriel moet die vraag wees wat die doel en waarde van ʼn matriekafskeidsfunksie behoort te wees en dan ons oplossings daarvolgens te rig.

“Ons mense is gemaak om probleme op te los, kreatief en innoverend te dink en bowenal om ons medemenslikheid te behou en stres te verminder, eerder as om dit te veroorsaak,” meen Kriel.

Argieffoto. (Foto: Marcel Strauss/Unsplash)

“Gesels jy met matrieks, kom jy gou agter dat ʼn matriekafskeid ʼn belangrike dag op die kalender is, maar vir party maak dit nie saak of die funksie by die skool is nie, solank die kos net lekker is, vir ander is dit weer belangrik om stylvol te lyk en die aand saam met jarelange skoolbankvriende te deel. Wat ook al die siening, dis ʼn geleentheid om te vier en daar kan oral oplossings gevind word.”

Vir uitrustings stel Kriel klerebanke voor, waar skoolverlaters hul uitrustings aan die skool skenk nadat hul afskeid verby is. Tafelplasings kan ook sorgvuldig opgestel word as om leerders sonder metgeselle by goeie geselskap in te sluit.

Sy benadruk ook die belangrikheid om kostes in groepsverband te probeer verdeel, byvoorbeeld fotograwe of grimeerkunstenaars.

“Reël ʼn vrywillige modeparade vir matrieks by die skool waar ouers, vriende en familie die spesiale geleentheid saam kan geniet. ʼn Minimale toegangsfooi kan gevra word, met die oog op ʼn borgfonds vir leerders vir die daaropvolgende jaar. Die oplossings is eindeloos as almal koppe bymekaar sit.”

Leer uit die pandemie

Volgens Kriel was die Covid-19-pandemie vir baie ʼn groot leerskool en dít het natuurlik ook oorgespoel na die manier waarop groot funksies soos troues en matriekafskeide aangepak is.

“Mense het herbesin oor hoe hul lewens aangepas kan word om meer doelgerig en simplisties te lewe en menseverhoudings ʼn nuwe dimensie te gee. Tog het ons geleer dat ons sosiale wesens bly, dat samesyn kosbaar is, dat ons nie net ons gesondheid as vanselfsprekend moet aanvaar nie, maar ook moeite moet doen om diep verhoudinge met mense te vestig en die lewe te koester.”

Daarom meen Kriel moet die kerndoel van matriekafskeide deurlopend in die beplanningsproses ingedagte gehou word.

“Die gehalte van hierdie samesyn behoort nie deur hakskoene, grimering of ʼn splinternuwe haarkleur bepaal te word nie. Die suksesresep is om die regte mense, in hierdie geval jou skoolmense, te kan kuier en vir oulaas saam te lag en gesels terwyl julle hierdie belangrike hoofstuk afsluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elma ·

Sal ek nou die rok waarvoor ek duisende betaal het vir die klerebank skenk? Ek dink nie so nie. Skaf iets aan wat duursaam en tydloos is, dit het ek wel gedoen.
Maar ja, ek stem saam, Matriekafskeid is onnodig uitspattig en dit het die norm geword. Ongelukkig kyk mede-leerders sowel as ouers neer op diegene wat opdaag in n “gewone” rok. Dis van die eerste vrae wat gevra word. Oeee waar het jy jou rok laat maak, hoeveel het dit gekos. Die mammas doen dieselfde – “MY kind se rok het soveel gekos, hoeveel het jy betaal”.

Judy ·

En die kinders wat niks kan bekostig nie, wat skaam kry om te vra of te se, wat van hulle. Hulle kies dan net sulke mooi rokke by die klerebanke en lyk net so mooi soos die duur rokke.
Almal het nie altyd geld om mooi te lyk nie.

Elmarie ·

Ek skud meestal my kop as ek hoor van wat die rok, die hare, grimering en … en.. alles gekos het, sommer ‘n ydele gespog en snobisme as jy my vra! Maar vra nou dieselfde ouers om iets by te dra vir een of ander welsynprojek dan hoor jy 14 verskonings en 10 ekskuse. In my dae was jou rok ALTYD gemaak deur of jou ma,ouma of ‘n tannie wat mooi naaldwerk kon doen. Jy het self jou grimering gedoen, jou hare self drooggeblaas of sommer ‘n vriendin het gehelp en die seuns het hul kerkpakke gedra. En glo my dit was ‘n opskop soos min. Maar nou ja, laat mense dan maar uitspattig wees as hul wil, gelukkig is dit nie ek wat dalk met skuld en/of ‘n leë bankrekening hoef te sit nie.

skurweberg ·

Die tyd in SA is ryp om somme te begin maak oor die bedrae geld wat ek op myself en my gesin spandeer teenoor die bedrag wat ek gee vir die versorging van ons eie mense wat hulpbehoewend is en dag vir dag onder die broodlyn lewe. Dit is ons naaste . Die argument dat ek vir my geld gewerk het en ek sal dit gebruik soos ek wil, is onwaar. Daar is niks wat ek besit en wat aan my behoort nie. Ek is as rentmeester deur die Skepper oor sy eiendom aangestel. Hy sal oordeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.