Vaderloosheid: Kinders trek swaar

baba_hand_pappa_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Twee derdes van ons kinders word sonder ’n pa groot. Hierdie skokstatistiek behoort vir almal in ons samelewing stof tot nadenke te gee, omdat dit uitkring in ’n legio maatskaplike komplikasies. Só reken Annemarie van Niekerk, bestuurder by die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

Sy verduidelik dat daar verskillende redes is waarom ’n kind dalk nie ’n pa in sy/haar lewe het nie – en dat dit nie altyd die man se skuld is as hy nie in sy kind se lewe is nie.

Sommige kinders se pa’s is oorlede. Ander weer se ouers is geskei. Nóg ander kinders weet nie wie hul pa’s is nie. Soms wil ’n pa deel van sy kind se lewe wees, maar die ma vervreem hom van sy kroos. Ander pa’s verdwyn weer sonder om terug te kyk.

“Hoe dit ook al sy, ’n afwesige pa – ook een wat saam met sy kind in die huis is, maar emosioneel afwesig is – het ’n definitiewe uitwerking op ’n kind se lewe. Kinders kan anders optree (op enige stadium van hul lewe). Dit kan lei tot emosionele- of gedragsprobleme, of erger: langtermynprobleme soos middelafhanklikheid,” verduidelik Carla Labuschagne, bestuurder van die CMR se Moreleta-tak.

“Kinders sonder hul pa’s ervaar verwerping (behalwe as die pa oorlede is) wat kan lei tot negatiewe gevoelens wat sommige kinders op hul ma projekteer en sý dan geblameer word.

“Dan is daar ook skuldgevoelens wat ontwikkel omdat die kind die pa se afwesigheid sien as die gevolg van iets wat hy/sy gedoen het.”

Dit gebeur dikwels dat sommige seuns die vaderlike rol teenoor hul ma’s en ander jonger kinders oorneem, wat te veel verantwoordelikheid vir ’n kind is.

Van Niekerk sê dat ouers in gedagte moet hou dat kinders in opeenvolgende lewensfases meer vrae kan ontwikkel.

“Ouer kinders sien oorsaak en gevolg wat ’n kleuter nie sien nie. Daarom is dit belangrik om te let daarop dat terwyl die kind in een stadium nog emosioneel stabiel is, hy dit dalk later nie meer sal wees nie.

Maatskaplike werkers het daagliks met alle vorme van vaderloosheid, en al die moontlike gevolge wat dit vir kinders inhou, te doen. Vaderloosheid kom in alle sosio-ekonomiese groepe voor.

Van Niekerk beklemtoon die emosionele teenwoordigheid van ’n pa.

“Sien die kind se menswees raak, nie net sy rapport nie. Maak seker die kind voel veilig en geborge.”

Waar ’n pa heeltemal afwesig is, doen sy aan die hand dat die ma moet probeer om ’n man (verkieslik in die familie) te kry om dié rol te vervul – selfs al is hy nie fisiek teenwoordig nie. Belangstelling in die kind se lewe, al is dit hoe gering, kan ’n stap wees om die leemte van ’n afwesige pa te vul. Dit is belangrik dat dit op die lang termyn volgehou word.

“Dit is belangrik om aandag aan kinders se gemis van hul vaders te gee. Ons kan nie bekostig om hul behoeftes aan emosionele betrokkenheid en belangstelling wat van ’n pa af kom, te ignoreer nie, aangesien dit hulle tot in hul volwasse jare kan beïnvloed,” sluit van Niekerk af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

VanAfrika ·

Ja kinders ly die meeste. My eks-man was gedwing om sy seuns te sien, ek en die egskeidings judge het gesorg dat hy teenwoordig is, al die pad. Nou dat hulle groot en vir hulself sorg, is hy weer die awesige pa en die keer is dit die seuns wat hulle stemme dik maak.
Terwyl ek hier tik is hy tans vir n naweek webreek saam met sy seuns, uiteindelik en dit na hy sy stiefkinders op sy verjaardag vir n webreek naweek gevat het en ons seuns was nie gelukkig daaroor nie. Hy is pas gediagnoseer met prostaat kanker en ek kan nie help om te dink soek hy nou simpatie by ons seuns nou dat hy siek is. Bygevoeg, dis tyd dat die howe kyk na vrouens wat uit n eerste egskeiding kom. Dis tyd dat die woning waarin die kinders grootword aan die ma toevertrou word al betaal die pa die verband tot die kinders groot is en die huis dan hulle sin word. Die wet sê dat die kinders uit die eerste huwelik dieselfde leefstyl handhaaf as toe ma en pa getroud was, wat duidelik nie gebeur nie.

J ·

Daar is te veel kinders … daarom daal die waarde van ‘n kind!

Toe China die wet instel dat slegs EEN KIND per vrou toegelaat word … het ‘n kind WAARDEVOL geword … en daardie enkel kinders word sedertdien baie goed versorg.

Met nuwe kunsmatige intelligensie kan genetiese rekordhouding die biologiese pa’s identifiseer en hulle verplig om te sorg vir hul spruite!

Losbandige mans wat rondvry se draadjie moet geknip word om te voorkom dat hulle kinders verwek waarvoor hulle nie kan (of wil) sorg nie.

Anders word die pa-lose kinders ‘n LAS vir die samelewing.

Chantel ·

AJ ek dink nie pa-lose kinders word ‘n las vir die samelewing nie. Ek is self ‘n pa-lose kind en sien nie hoe ek ‘n las op jou skouers of watse verskil ek in jou lewe maak nie, nes al die ander pa-lose kinders.

Chris ·

Waar was die organisasies vyftig plus jare gelede wat na die aspekte van kinders kyk? ‘n Kind kan in ‘n sekere mate nog sonder ‘n pa grootgemaak word, maar glad nie sonder ‘n ma nie. Ek sê nie pa’s kwyt hulle sleg van hul taak nie, maar vrouens het net die iets ekstra. Ek het sonder ‘n pa grootgeword en my ma was ook maar redelik “afwesig”. Was meeste van die tyd op myself aangewese. Ek het niks finansieël tekort gekom nie.

HMK ·

My 19 jarige seun ly erg aan depressie a.g.v verwerping deur sy pa. Sy pa tree nog altyd op soos ‘n jong tiener wat net partytjie wil hou en spring van een vrou na ‘n ander. Hy het ook twee ander seuns wat hy nie sien nie, hy het basies net vir ‘n kort tydjie vir my seun bitter min onderhoud betaal en toe heeltemal opgehou. Hy betaal steeds ook nie onderhoud vir sy ander twee seuns nie. Het al vir hom geld oorbetaal sodat hy my seun kan kom haal vir ‘n kuier by hom. Sy ma steun hom in sy kwaad en partytjie saam. Sy pa is onlangs oorlede, maar dit het geen verskil aan sy houding gemaak nie. Hy sal eendag alleen opeindig en verantwoording doen vir sy dade.

Alet ·

Die kinders kry die swaarste. Ek sien hoe my seun sukkel. Hy is ‘n baie standvastige kind en baie meer volwasse as kinders sy ouderdom maar sy pa se dood het hom geruk. Hulle was baie na aan mekaar. En dis waar, hy probeer my nou beskerm en ek het vir hom gesê ek is daar om vir hom te sorg en hom te beskerm en nie anders om nie. Hy moet nog kind wees. Ek is baie gelukkig om iemand in sy lewe te hê wat hom help deur alles asook met die moeilike vrae van tiener wees. My seun kyk op na hom en is so dankbaar daarvoor.

Irene ·

Stem 100% saam kinders ly die ergste. Maar het nou al self gesien hoe mammas die kinders vervreem van hul pappas. As daar n goeie rede is waarom ‘n ma nie die pa naby die kinders wil he nie hou hom weg. Maar as die ma nie eers daar was vir die kinders gedurende die huwelik nie en hulle nou skielik van die pa wil vervreem asof sy mother of the year is, is ook nie reg nie. Kinders word deur sekere mammas gebruik vir geldelike gewin of as ‘n speelbal. Mammas moenie altyd vertel hoe sleg die pa is wat teenwoordig wil wees in die kind se lewe nie. Later dryf jy die pa weg van die kinders af en hulle gaan meer aandag aan die nuwe kroos gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.